Ons Erfdeel. Jaargang 38(1995)– [tijdschrift] Ons Erfdeel– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Peter Blum Sloping die vel rondom blink oë sal eerste swig want niks is so vermoeiend soos die lig senings sal koord langs die gesonke keel want om die kop regop te dra verveel dalk sal die stem ontmelodie en kraak uitgeput deur herhalerige spraak die glade buik sal bakstaan uitgedy deur jare opgebergde lekkerkry en krimpel sal die graanmied van die bors deur aai na aai soen na soen uitgedors net die verwende seks sal nog daarna dieselfde hartstog en verrukking vra. [pagina 261] [p. 261] Ballade van getroude bemindes 'n Wintervers vir twee stemme Die blare val, die water gly; ek sit by tante en drink tee: Sy het die jongste nuus vir my. ‘Wat het geword van Elsabé?’ ‘Hy 't destyds al na haar gevry... Nog bietjie koek, Piet?’ ‘Dankie, nee.’ ‘Dit was die mooiste trouery...’ Wat het geword van Elsabé? Die lug is koud en grys daarbo. ‘Sy het nou onlangs eers getrou...’ My tante praat - dis sus of so. ‘Wat het geword van Isabeau?’ ‘Op 'n groot plaas in die Karoo...’ Ek wonder of sy nog onthou. ‘Skatryk...’ ‘Ja-nee, ek wil dit glo.’ Wat het geword van Isabeau? Dit is die winterwind wat waai. Ja-nee, wat help dit om te kla? ‘Hy 't maandelank by haar gedraai...’ ‘Wat het geword van Ursula?’ ‘Haar bruidsgoed was nou rêrig fraai... Nog bietjie tee, Piet?’ ‘Dankie, ja.’ ‘Borduurwerk op haar nagkabaai...’ Wat het geword van Ursula? L'Envoi Hul kiekies het ek nog behou. Wat het geword van Ursula? Ek sit by Tante en drink tee; die selfverwyt begin te pla. Wat het geword van Isabeau? Wat het geword van Elsabé? [pagina 262] [p. 262] Man wat blind word Daardie kontoer moet ek my diep inprent - daardie beweging honderdkeer repeteer - daardie skakering volmaak memoriseer - daardie gesig wat vaag is of onbekend nou in my insuig, my hele los talent op dié geheuetoertjie streng konsentreer tot ek àls wat ek gesien het en geleer, sonder sig vir my kan opsê - konsekwent alles verinnerlik. My geleentheid is nou - terwyl my netvlies op die natuur nog reageer. Ek moet met vernuf en vlyt dit alles opgaar as brandstof vir die vuur wat my lewend moet hou teen my bevrore tyd en duursaam vlam in my duister wat sal duur. Vorige Volgende