| |
| |
| |
Peter Blum (1926-1990).
| |
| |
| |
Peter Blum: meteoriet van die Afrikaanse poësie
J.C. Kannemeyer
werd geboren in 1939 in Robertson (Kaapland). Studeerde aan de Universiteit van Stellenbosch waar hij in 1964 bij D.J. Opperman promoveerde met een studie over ‘Die stem in die literêre kunswerk’. Doceerde Afrikaans en Nederlands aan verschillende universiteiten. Sedert 1987 is hij senior navorsingsspecialist bij het Instituut vir Taal- en Kunstenavorsing van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing in Pretoria. Publiceerde o.a. de tweedelige ‘Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur’ (1978 en 1983); ‘D.J. Opperman: 'n Biografie’ (1986); ‘Die bevestigende vlam’ (1989): ‘Wat het geword van Peter Blum’ (1992).
Adres: Posbus 1306, Stellenbosch, 7599, Zuid-Afrika.
| |
I
Peter Blum maak sy verskyning in die Afrikaanse poësie ná die debuut van D.J. Opperman in 1945 en voordat Breyten Breytenbach met Die ysterkoei moet sweet van 1964 die belangrikste poëtiese stem van Sestig word. Hy debuteer in 1955 met Steenbok tot poolsee, 'n bundel wat - ten spyte van 'n negatiewe ontvangs in sommige bedenklike literêre kringe - onmiddellik deur die hoofstroom van die letterkundige kritiek as 'n nuwe inset begroet is. In 1958 volg hy hierdie debuut op met Enklaves van die lig, eweneens 'n bundel wat groot lof ontvang, selfs al was daar aanvanklik ernstige kritiek van die uitgewerskeurders en al was Blum verplig om hom tot 'n ander uitgewer te wend.
Ná hierdie twee bundels swyg Blum egter, behalwe vir die reeks reissketse deur die Lae Lande wat hy in die jare 1964-1966 in Ons Erfdeel publiseer. Dit was bekend dat hy en sy vrou in 1960 Suid-Afrika verlaat en hom in Londen gevestig het. Sonder dat daar enige definitiewe gegewens beskikbaar was, is algemeen aanvaar dat hy die land om politieke redes verlaat het, al was Blum tydens sy jare in Suid-Afrika nooit met enige politieke aktiwiteite gemoeid nie. Ook sy vroeë lewe was in 'n waas van geheimsinnigheid gehul. Dit was bekend dat Blum se ouers na Suid-Afrika geëmigreer het en dat hy van Joods-Duitse afkoms was, maar oor sy verlede was weinig konkrete besonderhede beskikbaar.
Wat is dit dan wat Peter Blum, 'n digter wie se totale digterlike oeuvre dus uit slegs twee bundels bestaan, nog steeds vir Afrikaanse poësielesers so 'n boeiende en intrigerende figuur maak? As 'n mens sy werk in oënskou neem, moet jy erken dat hy uiteindelik agterstaan by die volle orkestrale verskeidenheid van Opperman en dat sy poësie nie so 'n absolute breuk met die tradisie
| |
| |
en nie in dieselfde mate 'n verrassend nuwe inset as dié van Breytenbach was nie. 'n Blote oorgangsfiguur soos die talle Opperman-epigone van die vyftigerjare is Blum egter nie. Dit is juis opmerklik dat hy wel duidelik by 'n literêre tradisie aansluit, maar dat sy vers deur die eie ritmiese vaart en deur die oorspronklike beelding 'n eie rigting ná Opperman inslaan.
Daarby toon sy werk 'n onafhanklikheid en geestelike eiesinnigheid wat sy verskyning in die vyftigerjare iets van 'n sensasie maak, al was dit dan deur die kortstondige bloei iets van 'n meteoriese verskynsel. In sy werk vind 'n mens, soos vroeër by Opperman, die ontdekking van Afrika as vasteland, maar dikwels speel herinnerings aan 'n Europese verlede en die ouer kulture van dié lande ook in sy poësie mee. Heel dikwels vind 'n mens in sy verse die motief van afskeid en ontworteling, maar dit word meermale verbind met die groter motief van aftakeling, ouer-word en die bewuswees van die tydelikheid van alle dinge. Teenoor die literêre grootspraak en metafisiese inslag van die vroeë N.P. van Wyk Louw en W.E.G. Louw is Blum se poësie, soos dié van Opperman, veel meer konkreet en aards, dikwels met die noukeurige uitwerking van 'n beeld of 'n stelling wat die vertrekpunt vir 'n reeks geteleskopeerde assosiasies is.
Om te illustreer in watter mate Blum met sy poësie iets nuuts in die Afrikaanse poësie bring, neem ek as voorbeeld sy gedig ‘Nuus uit die binneland’, die vers waarmee Steenbok tot poolsee open en wat hy aan Opperman opdra:
Soms in die winter as die reën sag stuif
op grasperke, dig en diep soos 'n tapyt -
As hy die rotsige bergreeks wegskuif
agter 'n misgordyn - as voor die ruit
popliere, eike en kastaiingbome
saamvloei, en ons versink in blaargroen drome
terwyl ons oor 'n ou beskawing lees -
dan gryp die onwerklikheid ons met die loop
van waters wat kalmeer; en in die gees
vou grys en sat die graafskap Surrey oop.
Soms in 'n najaarsdag se skemerty
stap ons in 'n stil straatjie en gewaar
deur 'n ou bolig, kunstig uitgesny
in vlegtende patroon van druif en blaar,
die lig van verre dae: Ons word gesluk
soos deur 'n mond; die luiterse getik
van 'n ou horlosie vervang ons ontstoke
harte se ritme in die kamerhoek,
en ons gestaltes kwyn tot stywe spoke
in die vernislaag van 'n Delftse doek.
| |
| |
Maar as die bergwind so rukkerig waai
en tussen ons rondkrap soos 'n stok
in 'n miershoop - in die palms blaai
nes 'n barbaar in 'n keurige boek -
dan is ons rillend buite alle mure
wat ons opstapel in redelike ure
ruik ons droogte en brand, en gerug
van sprinkaan, aardbewing en oproer
op daardie skroeiende binnelandse lug
weet ons op watter vasteland ons boer.
As 'n mens hierdie gedig met die geykte Afrikaanse poësie van die vyftigerjare vergelyk, is dit opvallend dat Blum sy vers klankmatig vernuwe deur 'n eie ritmiese beweging wat nader kom aan die spreekritme, 'n driftige versbeweging wat deur enjambemente voortgestoot word. Wat 'n mens verder opval, is die voortdurende wisseling van ruspunte in die versreël en die feit dat elke strofe een lang sin vorm met kleiner afbakenings binne-in. Hierdie tegniek lei tot 'n groot sintaktiese argitektuur, ingelei deur ‘Soms’ of ‘Maar’. Daar is 'n sekere drif in die versbeweging, versterk deur die enjambemente, herhaalde en goed gespasieerde middelryme en ryme wat ver van mekaar af lê. Daarby tref Blum se beeldspraak 'n mens as verrassend nuut, met 'n ontginning van die Afrikarealiteite in die slotstrofe.
Die Afrika-kyk op sake blyk verder uit 'n vergelyking van die slotstrofe met die eerste twee strofes, terwyl die gedig verder werk met die teenstelling tussen die sagtheid en mildheid van die Wes-Kaapse mediterreense klimaat en die wilde bergwind, miershoop en barbaarse van die binneland. In die eerste twee strofes waan die spreker hom, tydens die reëndae van die Bolandse winter of in die najaar, terwyl hy in die herfs deur die strate van die Ou-Kaap loop, dat hy in 'n deel van Europa is. Terselfdertyd word die eerste twee strofes gewy aan die twee volkere waaruit die blanke kolonie van die Kaap saamgestel is, naamlik die Engelse en die Nederlanders.
In die eerste strofe kry ons 'n beeld van mense wat verbonde is aan Brittanje, die ‘graafskap Surrey’ van die slotreël. Die sagte reën, die mis wat die ‘rotsige bergreeks’ van Afrika wegskuif, die ineenvloeiing van kontoere en die dromerige romantiek wat gewek word, skep 'n sekere onwerklikheid wat sterk kontrasteer met die realiteit van hierdie vasteland. Die ‘waters wat kalmeer’ vorm byvoorbeeld 'n teenstelling met die storms waarmee die Kaap tradisioneel geassosieer word. Die wêreld wat die winterreën met sy mis oproep, is dié van 'n ‘grys en sat’ Brittanje, adjektiewe wat iets ouds en oorversadigds evokeer en 'n kontras vorm met die jong land Suid-Afrika.
| |
| |
Brief van Peter Blum aan Jozef Deleu, 12 april 1966 met de vraag bijgevoegde ‘Kennisgewing - Waarskuwing’ te publiceren in ‘Ons Erfdeel’.
| |
| |
| |
| |
Teenoor die Engelse wereld van strofe 1 word strofe 2 gewy aan dié mense wat 'n verbondenheid voel met die Nederlandse verlede wat bewaar bly in die Kaaps-Hollandse boustyl van die ou woonbuurtes, die getik van 'n ou staanklok en skilderye van Hollandse meesters, soos dié van die Delftse skilder Vermeer wat dikwels sneeulandskappe met mense en stil straatjies geverf het. Die ‘stywe spoke’ waarvan daar hier sprake is, kan slaan op die ou styl van hierdie skilderye wat met hulle doodsheid vir die nuwe vasteland nie lewensvatbaar is nie.
In teenstelling tot hierdie onwerklike leefwyses in Afrika gee strofe 3 dan die Suid-Afrikaanse werklikheid: die bergwind, miershoop, barbaar, droogte en brand, sprinkaanplae, aardbewings, oproer en skroeiende lug. Dit alles gee Blum in 'n tipe vers wat ‘rukkerig’ voortbeweeg en na ongewone ruspunte voortstu, sodat daar 'n sterk spanning tussen die eenheid van die versreël en die sintaktiese eenheid tot stand kom. Teenoor die voorstelling van die Bolander wat 'n verbondenheid met Engeland of Nederland het, weet die binnelander uiteindelik uit die harde werklikheid van Afrika ‘op watter vasteland ons boer’.
Die dubbele teenstelling, dié tussen die Europese en die Suid-Afrikaanse en dié tussen die Bolandse en binnelandse geografiese gesteldhede, lei tot 'n kontras in die beeldspraak en ritme in die gedig. Terwyl die ‘grasperke, dig en diep soos 'n tapyt’, die bergreeks wat ‘agter 'n misgordyn’ weggeskuif word, die saamvloeiende bome, die ‘blaargroen drome’ en die gestaltes wat ‘tot stywe spoke (kwyn)’, ons aan die (vir die Afrikaner) onwerklike wereld van 'n gekultiveerde Europa voorstel, bring die ‘harde’ beeldspraak en die rukkerige versbeweging van die derde strofe die leser terug na die werklikheid van sy eie wêreld. Die opdrag van die gedig aan die digter Opperman kan as 'n persoonlike geskenk bedoel wees. As openingsgedig vir die bundel Steenbok tot poolsee kan dit egter ook 'n erkenning wees van die tipe tradisie waarby Blum aansluit en wat hy sinvol verder wil voer: die klipperige taal van Opperman met sy konkrete beeldspraak en ontginning van Afrika tot in die fynste vesels van die vers.
Uit 'n gedig soos ‘Nuus uit die binneland’ kan 'n mens dus reeds aflei in watter mate die immigrant Blum in die vyftigerjare vir 'n verruiming van die Afrikaanse poësie sorg, maar ook in watter mate hy Suid-Afrika en Afrika deel van hom maak. Tematies blyk hierdie verruiming uit die Europese wêreld en verwysingsveld wat met allerlei erudiete heenwysings na ander digters in sy vers neerslag vind. Daarnaas doen die bevrydende geestigheid verfrissend aan in die konteks van die dikwels somber Afrikaanse poësie, terwyl hy met sy sensueel-erotiese en uitgesproke liefdesverse 'n belangrike geestelike verruiming in die tradisionele Afrikaanse minnepoësie bring. Blum se geestelike lenigheid blyk ook uit die wyse waarop hy in sy poësie met die Afrikaanse taal
| |
| |
kon speel. Reeds in 'n reeks sonnette in sy eerste bundel maak hy gebruik van die dialek van die Kaapse bruinmense, maar veral in sy tweede bundel ontgin hy die etimologiese en sigwaarde van die woord deur die gebruik van kontaminasievorme en ander woordskeppinge, die verafrikaansing van woorde uit Engels, Duits en Frans en die uitbuiting van die klankwaardes van die enkele woord. Dit is 'n tipe vers waarin die taal gebrandskat word op 'n wyse wat miskien deur Opperman aangedui is maar deur Blum veel verder gevoer word.
Met dit alles is Blum die belangrikste digter wat in die vyftigerjare in Afrikaans debuteer. Sy vertrek uit Suid-Afrika in 1960 was meer as net die vertrek van 'n toevallige immigrant. Dit was die grootste enkele verlies wat die Afrikaanse literatuur tot op datum gely het.
| |
II
Vir almal wat in die Afrikaanse poësie belangstel, was die redes vir Blum se vertrek uit Suid-Afrika en waarmee hy hom in Londen besig gehou het, al die jare sedert 1960 'n tergende geheim. Baie mense wat Blum geken het, was van mening dat hy om politieke redes die land verlaat het, maar sy a-politieke ingesteldheid en sy byna aristokratiese lewenshouding het daarteen gespreek. In 1992 het ek begin met 'n studie van Blum se drukke korrespondensie met talle belangrike figure in die Afrikaanse letterkunde, briewe wat dateer uit die tyd toe hy nog in Suid-Afrika woonagtig was. Vir die bevredigende afhandeling van dié studie het ek egter einde Februarie 1992 na Londen vertrek met die plan om Blum, indien hy nog lewend is, op te spoor of om vas te stel waarmee hy in die meer as dertig jaar sedert sy vertrek uit Suid-Afrika besig was. Reeds in 1977 het die Britse ‘Treasury Solicitor’ die Suid-Afrikaanse Departement van Binnelandse Sake laat weet dat hulle soek na Peter Blum, die enigste seun van Paula David wat in 1975 intestaat in Brittanje oorlede is en ‘a very large estate’ nagelaat het wat nou aan Blum of sy kinders oorhandig kon word.
By my aankoms in Londen is ek egter, na hulp van 'n amptenaar van die Suid-Afrikaanse Ambassade, gekonfronteer met Blum se doodsertifikaat. Volgens hierdie sertifikaat is hy op 5 Desember 1990 in Londen oorlede. Sy dood het gevolg op 'n beroerte en as oorsaak van die dood word aangedui: ‘(a) Bronchopneumonia; (b) Dense cerebrovascular accident’. Die doodsertifikaat is onderteken deur sy vrou, Henriette Blum, as getuie. 'n Verrassing was die nuus in verband met die ‘very large estate’ van Paula David. Ek het gemeen dat Blum wél die geld ontvang het, omdat hy aan die einde van die sewentigerjare deur sy bank aan sy Suid-Afrikaanse uitgewers laat weet het dat hy geen tantième meer van hulle wil hê nie. Die ironie is egter dat die ‘very large estate’ - in werklikheid slegs £7000 - vandag nog steeds onaangeraak in Londen lê. Die Blums, so lei 'n mens reeds uit Henriette Blum se briewe aan familie in Suid-Afrika af, het in die tagtigerjare in die bitterste armoede gelewe.
| |
| |
Hoe armoedig die toestande werklik was, kon ek vir my rekonstrueer toe ek die Blum-woning die eerste keer op 25 Februarie 1992 besoek het. Hierdie woning, in werklikheid 'n deelhuis, is geleë te 119B, Windmill Road, Brentford, betreklik naby die Northfields-stasie op die Piccadilly-lyn van die Londense Underground en nie ver van die Heathrow-lughawe af nie.
Die deelhuis en buurt maak 'n verslonste, onnet indruk, en 'n mens voel treurig dat iemand soos Blum met sy groot intellek en geweldige talent meer as twaalf jaar lank in haglike omstandighede hier moes woon, saam met mense wat vir hom geen geesgenote kon wees nie. By my eerste besoek het ek willekeurig een van die vier knoppies gedruk, aangesien daar geen skakelaar was wat die naam Blum aangedui het nie. Die deur is oopgemaak deur mnr. Jones, twee en tagtig jaar oud maar nog heeltemal by. Toe ek vra na mev. Blum, het hy aan my gesê sy is uit om die duiwe in die parkie te voed - blykbaar, sover ek kon aflei, 'n kompulsiewe handeling wat sy daagliks verrig. Mev. Blum was, volgens hom, ‘rather awkward at times’ in haar optrede - in werklikheid, so kon ek later vasstel, 'n kluisenaar en haas heeltemal seniel, in so 'n mate dat sy sedert my besoek onder psigiatriese sorg geplaas is en nie meer na haarself kan omsien nie. Volgens mnr. Jones het Blum in die sewentigerjare by die munisipaliteit van Hounslow 'n ‘little office job’ gehad, maar dié betrekking laat vaar om later slegs van 'n ouderdomspensioen te leef. Van tyd tot tyd het mev. Blum, wat op Stellenbosch 'n kunsonderwyseres was, uitgegaan om te gaan werk. Toe ek vra watter soort werk dit was, het hy geantwoord: ‘She did some cleaning’. Blum het volgens mnr. Jones nie meer geskryf nie, want 'n tikmasjien het hy nooit gehoor nie. In sy laaste jare het Blum wel geskilder en sy skilderye teen die mure met die gang af gehang. Dit was egter volgens mnr. Jones aaklige gedrogte wat hy nie verkoop kon kry nie. Al die jare het Blum en sy vrou nooit besoek ontvang nie. 'n Telefoon het hulle nie gehad nie en die deurklokkie na hulle kamer was afgesny.
| |
III
Waarom het Peter Blum in 1960 Suid-Afrika verlaat? Alhoewel sy twee bundels poësie deur 'n hele paar toonaangewende kritici by publikasie hoog gewaardeer is en hy destyds reeds - en vandag nog steeds - as die belangrikste nuwe stem in die Afrikaanse poësie van die vyftigerjare erken is, het sy werk aanvanklik ook op groot onbegrip gestuit en het hy ernstige probleme gehad om sy tweede bundel gepubliseer te kry. Alhoewel hy nooit by die Suid-Afrikaanse politiek betrokke was nie, kon die Sharpeville-onluste en die aanval op premier H.F. Verwoerd se lewe vroeg in 1960 wel 'n rol by sy besluit gespeel het. As immigrant uit Oostenryk met 'n nomadiese verlede en as iemand met Joodse bloed, wat saam met sy ouers tydens die opmars van die Nazi' s Europa moes verlaat, was die moontlikheid van die ineenstorting van
| |
| |
'n ordelike maatskappy in Suid-Afrika en die chaotiese toestande van sy jeug iets wat Blum nie 'n tweede keer in sy lewe sou wou ervaar nie.
Tydens my ondersoek het dit egter duidelik geword dat die weiering van Suid-Afrikaanse burgerskap tot tweemaal toe - in 1948 en in 1959 - die belangrikste enkele rede vir Blum se vertrek was. In 1948 is nuwe burgers onder die ouderdom van vyftig jaar alleen aanvaar as hulle reeds militêre diensplig voltooi het, 'n stipulasie op grond waarvan Blum sonder meer gediskwalifiseer is. Daarby het ook ander dinge teen hom getuig. By meer as een geleentheid het hy aliasse gebruik, 'n feit wat sleg reflekteer op iemand wat om burgerskap van 'n land aansoek wil doen. Op 'n keer het hy ook Swaziland sonder die nodige reisvergunning besoek en as gevolg daarvan in die gevangenis beland, 'n optrede wat aan hom 'n kriminele rekord besorg het. 'n Vriend van hom is ook eenmaal deur die Departement van Binnelandse Sake gebel met die vraag of Blum 'n kommunis is - 'n vraag wat daarop dui dat Binnelandse Sake, in dié opsig ten minste, beslis op 'n dwaalspoor was. Blum het hom nooit tydens sy lewe in Suid-Afrika met politieke sake bemoei nie en met die Russiese inval in Hongarye van 1956 het hy sterk gevoelens teen Rusland gehad.
Ook in 1959, nadat hy reeds 'n indrukwekkende bydrae tot die Suid-Afrikaanse kultuur gelewer het, was sy pogings tot burgerskap weer nie suksesvol nie. In 'n brief wat hy in hierdie tyd aan W.E.G. Louw skryf, wys hy daarop dat hy sedert sy kinderjare reeds in Suid-Afrika woon en alleen vae herinneringe aan ander lande het. ‘Deels hierom’, so gaan hy voort, ‘deels om ander redes (soos my Stellenbosse opleiding, my opgang in Afrikaanse literêre kringe, en my huwelik met Henriette Smit), het ek my ook meer ingeleef in 'n Afrikaanse gedagtesfeer. Om hierdie redes voel ek dit met 'n mengsel van weemoed en bitterheid dat ek nog nie ten volle deur hierdie land aanvaar is nie.’
Waarskynlik het die burokrate van Binnelandse Sake nie geweet dat hulle in Blum met 'n uitsonderlike geniale man maar enigsins nonkonformistiese en sterk skeppende gees te make gehad het nie, iemand wat, ten spyte van sekere bedenkinge, 'n besliste aanwins vir enige volk sou gewees het. 'n Mens kan geredelik aanvaar dat hy met sy sterk selfgeldingsdrang, sentrering rondom die ego en sensitiwteit so iets moeilik sou verwerk. Met sy nomadiese verlede het hy juis 'n sterk behoefte aan geborgenheid by 'n spesifieke persoon en volk gehad. Dat hy nou op so 'n wyse deur Suid-Afrika verwerp is, was vir hom persoonlik 'n groot slag en 'n geweldige krenking van sy ego.
| |
IV
Van watter hoek af 'n mens die saak ook al beskou, was die laaste dertig jaar van Peter Blum se lewe 'n leë, sinlose bestaan. Die skeppende impuls wat juis in die ‘klein taal’ van die suiderland ten volle ontplooiing kon kom, het opge- | |
| |
hou om te bestaan of was nie sterk genoeg om in die wereldtaal Engels vir hom 'n pad oop te skryf nie. Alles het ineengestort, ook - en veral - die vermoë, soos hy dit in een van sy verse met baie neologismes stel, om ‘in die greep / van één drong woord (te) kraal wat alle enkelheid / ophef’.
'n Dag of wat voordat ek Londen sou verlaat, loop ek die tweedehandse boekwinkeltjes in Charing Cross Road deur. By Quinto kom ek af op 'n bundel kortverhale van die Israeliese skrywer A.B. Yehoshua. Die titel van die boek gryp me só aan dat ek dit, gedagtig aan Blum, onmiddellik koop: The continuing silence of a poet.
|
|