ken vir sy geesteswetenskaplike arbeid op sovele terreine.
Hierdie energieke man was ook tydskrifredakteur. Van 1929 tot 1933 was hy mede-redakteur van Die Nuwe Brandwag, die eerste betekenisvolle Afrikaanse tydskrif vir kuns en lettere.
Sy studente, wat hom nie net uit sy boeke en artikels geken het nie, weet dat prof. Dekker 'n onoortreflike dosent was. Dit is algemeen bekend dat sy kolleges gekenmerk is deur deeglike voorbereiding; dit was altyd van 'n hoë standaard, bevatlik en intens boeiend. Min hooglerare het miskien soveel lof ingeoes vir hulle boeiende voordrag as G. Dekker. Hy het 'n gestrenge indruk gemaak op sy studente en altyd groot ontsag ingeboesem, maar hy het ook hulle liefde en waardering gekry. Hy het vele vriende gehad onder sy oudstudente. Hulle het hom twee keer gehuldig: in 1957 met sy 60ste verjaarsdag, toe 'n huldigingsbundel aan hom opgedra is: Beskouings oor poësie (onder redaksie van T.T. Cloete, A.P. Grové en H.v.d.M. Scholtz) en in 1972 toe hulle met sy 75ste verjaarsdag vir hom en sy gesin 'n feestelike maaltyd aangebied het. By albei geleenthede het hy met dankbaarheid daarvan getuig dat sy gevorderde studente sy vriende geword het. Hy het 'n merkwaardige goeie verhouding met hulle geskep. Van hulle is vandag 'n hele aantal as hoogleraars werksaam aan verskillende Suid-Afrikaanse universiteite.
Prof. Dekker het as akademikus nie 'n kluistenaarsbestaan gevoer nie. Hy het in talle openbare liggame gedien en het dikwels in die openbaar opgetree. Met die instelling in 1963 van die statutêre liggaam, die Raad van Beheer oor Publikasies, het prof. Dekker die eerste voorsitter daarvan geword (tot 1968). Hy het in die Raad van Advies van die Transvaalse Biblioteekdiens gedien en onder andere ook in die Matrikulasieraad. Prof. Dekker het in talle kommissies gedien wat literatuur, skilderytentoonstellings of beeldhouwerk moes beoordeel. Prof. Dekker was 'n aktiewe lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns sedert 1930, hy het in die Akademieraad gedien en het sedert die dertigerjare talle kere (dikwels as voorsitter) gedien in die letterkundige komitees van die Akademie en aanbevelings gemaak vir die toeken van die Hertzogprys. Die strenge eise wat hy vir die toekenning van hierdie prys gestel het, het oor die jare die toekenningsnorme van die Hertzogprys help bepaal.
Die S.A. Akademie het prof. Dekker in 1969 vereer deur 'n erelidmaatskap aan hom toe te ken. Prof. Dekker het ook in die beherende en beleidsliggame van sy universiteit 'n leidende rol gespeel, as dekaan van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte, as Senaatsverteenwoordiger op die Universiteitsraad ens. Hy het nie alleen as dosent in die kollegesaal en seminaarkamer by die universiteit gedien nie maar as uitbouer daarvan op vele terreine. Daarvoor het die Potchefstroomse Universiteit hom vereer deur in 1969 die graad Doctor Litterarum honoris causa aan hom toe te ken. Ook sy alma mater, die Universiteit van Pretoria, het hom 'n eregraad toegeken na die aanvaarding van sy emeritaat. Prof. Dekker was 'n bekende geleerde in die Nederlande, wat hy (benewens ander Europese lande) herhaaldelik na sy studentejare weer besoek het, op eie onkoste, of met regeringsstipendia of as genodigde onder die Kulturele verdrae met Nederland en België, of as gasprofessor. Hy was lid van die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde en van die Zuid-Nederlandse Maatschappij voor Taal en Letteren.
Prof. Dekker was 'n oortuigde Calvinist. Hy het die Gereformeerde Kerk aktief gedien as gewone lidmaat en as ouderling. Hy was 'n stoere Afrikaner wat vir sy land op vele terreine gedoen het wat hy kon. Vir die Afrikaanse Bybelvertaling en Psalmberyming het hy as reviseur en adviseur opgetree.
Ten slotte wil ek dit noem dat hierdie groot geleerde ook 'n pragtige gesinsman was. Sy eggenote, Hendrika Gezina, het hy in sy studentejare in Nederland ontmoet. Die gelukkige verhouding wat tussen hulle bestaan het, was besielend. Uit hulle huwelik is gebore twee dogters, Trieksie en Riekie, en een seun, prof. Leendert Dekker. Die huislikheid van prof. Dekker het geblyk uit sy liefde vir sy tuin. Somer en winter het hy ongestoord vroeg soggens dag na dag in sy tuin gewerk. Miskien is dit een van die dinge wat hom tot op sy hoë leeftyd so verbasend sterk en energiek gehou het. As emeritus het hy bly klas gee, tot enkele dae voor sy dood; hy het opgetree in die openbaar, met voordragte, met die Opening van tentoonstellings van skilderye en beeldhouwerk, as voorsitter van verskeie openbare liggame ens. En in sy studeerkamer het hy ewe aktief as altyd bly voortwerk. Heelwat werk het hy onvoltooid nagelaat, onder andere 'n uitgawe van Vondel se Gijsbrecht vir studente in Suid-Afrika.
In prof. Dekker het nie net die Afrikaanse letterkunde nie maar ook die Noord- en Suid-Nederlandse literatuur 'n kenner en dienaar verloor.
T.T. Cloete, Universiteit Potchefstroom, Suid-Afrika