Ons Erfdeel. Jaargang 16
(1973)– [tijdschrift] Ons Erfdeel– Auteursrechtelijk beschermdG.A. Watermeyer (1917-1972).Dit gebeur af en toe dat 'n skrywer daarin slaag om bekendheid te verwerf by meer mense as net lesers van literatuur. Die redes hiervoor is uiteenlopend. Soms is dit as gevolg van 'n skrywer se uitlatings as burger. Soms is dit as gevolg van opspraakwekkende stof waarmee hy 'n gemeenskap in beroering bring. Selde, indien ooit, is dit op grond van die spesifiek-literêre meriete van sy werk. Die verskyning van 'n aangrypende boek is, in ons stelsel van nuuswaardeskatting, nie nuus vir 'n breë publiek nie. G.A. Watermeyer was bekend by meer as lesers van poësie. Daar is 'n verskeidenheid van redes hiervoor. Daar was heelwat romantiek aan Watermeyer se verskyning en optrede as digter verbonde. Hier was in die eerste plek 'n digter wat die plaaslewe soos weinig andere voor hom verwoord het. Die Afrikaner is boer tot in sy drome, het 'n Nederlandse geleerde by geleentheid gesê, en Watermeyer se beelding van sy Sneeubergse plaaswêreld kon daarop staatmaak om die hartsnare in baie breë kringe te raak. ‘Wegbuk en vat, wegbuk en vat,
die halms buig en kerf.
Drie hale vir 'n handevol,
ses handevol 'n gerf.
Dis Sneeubergkom se vaalseun dié
wat soos 'n geelslang gly
en na die bopunt van die land
sy glinsterpad oopsny.’
(Uit ‘Oestyd’, Sekel en simbaal)
Hierdie boerseun moes die plaas verruil vir die grootstad. En in dié grootstad het hy seergekry. Hier moes hy, saam met duisende verarmde en veragterde Afrikaners, nood ervaar, die nood selfs van lyflike honger en ontbering. Uit hierdie ervaring het daardie growwe, maar terselfdertyd aangrypende vers uit Die Republiek van duisend jaar opgestaan wat 'n mens telkens aan die visioenêr-apokaliptiese poësie van William Blake wil laat dink: ‘Ek roep uit Eloffstraat en eis:
gee aan my volk se kinders vleis
wat HoughtonGa naar eind(1) aan sy honde voer...’
Maar in hierdie selfde stad het hy ook deur harde werk bo sy materiële belemmeringe uitgestyg en kon hy hom in die laaste jare van sy lewe 'n beskaafde weelde veroorloof. Dit was 'n suksesverhaal wat tot baie gespreek het. Die sukses self was egter nog nie die laaste woord nie. Iets uit die vroegste tye het naamlik gebly: die terugverlange na sy geboortestreek. Daar was deurgaans die onstilbare verlange na die verlore familieplaas wat hy wou terugkoop. Sy rondtrek in die grootstad van huis na beter huis was slegs 'n poging om die plaasruimte te bekom wat hy deurentyd in die stad moes ontbeer. ‘Ek soek 'n huis met die koelte van klawer
en die warmte van granaat;
'n huis van kannabas en katjiepiering
met mossies in die môre
en duiwe in die agtermiddag.
Ek soek 'n huis met die silhoeët
van lang populiere wat sing
voor die vensters van my jeug...
Ek soek 'n huis met die stilte
van gesuiwerde somers,
met gewels van geloof
en portale van vrede;’
(‘Ek soek 'n huis’, Bitter brood)
Hierdie bestendige verlange het verdere romantiek aan sy lewe verleen.
Maar daar was ook nog ander dinge wat deernis met hom as mens verwek het. Hier was 'n digter wat 'n baie suksesvolle debuut gehad het. Sy eerste bundel, Sekel en simbaal, het hom saam met D.J. Opperman die sterkste figuur van die veertigerjare in die Afrikaanse poësie gemaak. Die bundel is deur onderskeidende kritici hoog aangeprys. Dit het ook vir die Hertzogprys in aanmerking gekom. Maar dan draai die gety skerp teen hom. Sy tweede bundel, Die republiek van duisend jaar, is ferm afgewys deur die leidende kritici, en dit ten spyte van die feit dat die digter self tot aan die einde geglo het dat van sy beste werk in dié bundel staan. Dié oordeel het ook die volgende bundel, Taalfeeskwatryne, te beurt geval. En toe sy slotbundel, Bitter brood, met 'n aantal goeie verse daarin verskyn, het weinig kritici aan dié feit erkenning gegee. Watermeyer het in die gemoed | |
[pagina 105]
| |
van 'n breë literêr-geïnteresseerde publiek die plek ingeneem van 'n digter wat onderwaardeer is; meer selfs: een wat tekort gedoen is.
En dan: 'n jaar voor sy dood val onverwags die grootste erkenning van sy lewe hom te beurt. Sy bekendste gedig, Ballade van die bloeddorstige jagter uit sy debuutbundel, is in die toonsetting van die Nederlandse komponis Henk Badings met die gesogte RAI-prys van die Italiaanse radio- en televisiediens bekroon. Dit was 'n grootse oomblik vir hom toe hy by die ontvangs van die prys kon verklaar dat hy trots voel dat so 'n groot eer sy taal, Afrikaans, aangedoen is.
Hierdie Boersheid, terloops, was 'n verdere rede waarom Watermeyer by 'n veel groter publiek as bloot die literêr-geïnteresseerdes bekend was. Sy verse oor tydgenootlike aktualiteite het geskik geblyk om op volksfeeste gebruik te word.
Watermeyer was egter ook bekend by baie wat nooit van sy naam gehoor het nie. Hy was naamlijk ook reklameman - direkteur van 'n florerende advertensie-onderneming -, en was verantwoordelik vir sommige van die treffendste Afrikaanse bewoordinge van advertensies in tydskrifte en koerante. Wie ken nie die begrip kits nie? (kits-koffie, kits-oplossing, kits-wat-nie-alnie). Of die poëtiese appèl van die bier-advertensie: dou vir die dors? Hier lê terloops myns insiens een van Watermeyer se grootste verdienstes: dat hy Afrikaans help vestig het op 'n terrein waar dit tot onlangs baie swak verteenwoordig was; maar belangriker: dat hy dit met dié kwaliteit gedoen het. Sy advertensies is geen vertaalde Engels nie; 'n mens kry die indruk dat hy nooit 'n taalgordyn tussen hom en die produk gehad het waardeur hy eers moes dring nie; hy het stelling ingeneem teenoor die saak self en dit glansend en helder benaam. Die Afrikaanse advertensietaal staan daar as 'n pragtige monument vir Godfried Watermeyer.
Dis 'n natuurlike neiging by 'n mens om 'n verband te probeer lê tussen 'n skrywer se lewe en sy werk. In die meeste gevalle is dit 'n tydverspilling, omdat die rol van die kunstenaarsverbeelding geïgnoreer word. Die belangrikste vraag in verband met die kunswerk is in elk geval nie sy biografiese waarheid nie, maar sy estetiese kwaliteit. Tog is dit gerade - en dikwels lonend - om 'n openheid in hierdie verband te handhaaf.
Daar is min digters wie se lewe so duidelik in hul werk deurgeeggo is as dié van G.A. Watermeyer. Ek het reeds verwys na sy begrip vir die sosiale nood van sy medemens, meer in die besonder dié van sy mede-Afrikaner. 'n Mens sou ook nog kon verwys na sy begrip vir hulle wat in liggaamlike pyn verkeer. Een van die ironieë van sy lewe was juis dat sy geliefde plaaswêreld verantwoordelik was vir sy doring in die vlees van baie jare: hy het naamlik as seun onder 'n perd beland en sy rug het 'n knou opgedoen waarvan dit nooit ten volle herstel het nie. 'n Mens kry iets van hierdie pyngevoeligheid terug in bv. ‘Gedagtes van die beseerde arbeider’ en ‘Droom van die beseerde atleet’ (eersgenoemde uit Sekel en simbaal, laasgenoemde uit 'n studenteblad).
Die duidelikste verband tussen lewe en werk sien 'n mens in die verbinding wat sy digterskap met die reklamewese aangegaan het. Reeds in die verse in sy debuutbundel was daar 'n heldere, klinkende kwaliteit. Vanuit die vermoë om 'n welluidende frase te munt, netjies en tot in die konsonantpuntjies versorg, het hy ons een van die verruklikste klankdinge in Afrikaans geskenk. Dis die strofe oor die wildekanarie, wat die bloeddorstige jagter hom sy moordlus verwyt: ‘Ek kelk die sonlig in my keel
en rym die rondebessie ryp;
met kinderhand het hý, het hý
die fluite uit ons bors gegryp.’
(‘Ballade van die bloeddorstige jagter’, Sekel en simbaal).
Dis hierdie sintuig vir die klinkende frase wat tot natuurlike ontluiking en ontwikkeling gekom het in die reklametaal. En vanuit die reklametaal was daar weer 'n terugslag op sy poësie. Sy latere bundels bevat talle reëls en strofes wat soos neonligte pols. (Vgl. byvoorbeeld ‘Kronieke van 'n reklameman’ uit Bitter brood).
Watermeyer se gedigte oor besit bevat van sy swakste, maar ook van sy beste verse. Die beskerming wat besit kan verleen, die rustige genieting van die goeie dinge van die aarde wat jy deur arbeid verwerf het, dié tema kom in talle toonaarde in sy werk voor. Alles is egter voorgeteken in daardie pragtige openingsgedig van sy oeuvre: ‘Reën in die voorwinter’, waarin al die opgenoemde dinge, maar veral vrou en kind, 'n beskermende muur om hom vorm teen die koue lewenswind: ‘Vier mure teen die Suidewind -
my swartoogvrou, my blondhaarkind.
Kareehoutstompe in die vuur,
ketel en kaggel brons geskuur.
My bont koei lê op koringstrooi,
my swart haan roep die dagbreek rooi.
| |
[pagina 106]
| |
Soet deur die lang nag sing die reën;
moflammers sal ek vroeg-Mei speen.
Die wendam stoot sy uitloop oor -
blink breek my ploeg die middelvoor...’
(Sekel en simbaal).
Toe ek sy huis die eerste keer betree het, het ek alles daarin herken; omdat dit so opgeteken staan in sy verse - onder andere die drie ontsaglike wolfhonde, die swaar houtsneewerk van die antieke meubels, die swart siertafel met die massiewe ospote: ‘My vesting setel in sering,
drie wolwe wat die nagwaak kring;
Imari-kruike en kristal
bly glansdiep as die blare val;
die Lotuskelk van Isfahan
gloei op my vloere langs Kashan
met statig teen die dak se nok
die hoë vlamme van barok...
Wit reiers wat hul vleuels sprei
in mosaïek van cloisonné;
bruin oor die haard se leikliprif
die hert in okkerneut gegrif.’
(‘Kumula’, Bitter brood).
Maar ek wil afsluit met die vers waarin die digter die wesensaak van die poësie sê: Dat 'n digter in laaste instansie maar één besit het: die woord. Dis 'n vers wat nie alleen sy eie grafskrif kan wees nie, maar ook dié van elke digter. ‘Wat sal my mond teen die kluite kla
deur al die jare, die jare hierna?
Wat sal my hart onder sooie weet
oorkant die onrus en agter die leed?
Dat 'n digter alleen maar sy woorde het
as eerste gewete en laaste wet.’
(‘Belydenis’, Bitter brood).
Prof. F.I.J. van Rensburg, Johannesburg |
|