'n lesingreis oorsee verlede jaar begin siek word het, aangedring het om uit sy geboorteland, België, dadelik na Suid-Afrika terug te keer omdat hy wou sterf in wat hy ‘my eie land’ genoem het.)
Deur sy lang verbintenis met die Rhodes-Universiteit as lektor, professor en naderhand vise-rektor, deur sy medewerking aan Standpunte en sy lang reeks publikasies het hy algaande die grootste kritikus geword wat ons literatuur nog geken het en in baie jare sal kan ken.
Wat N.P. van Wyk Louw vir ons poësie beteken het, was Rob Antonissen in ons kritiek, en dan gebruik ek die woord ‘kritiek’ nie met die geurtjie wat daaraan kleef wanneer die meeste skrywers oor die meeste kritici praat nie. Rob was nie, soos soveel ander, 'n mislukte skrywer wat kritikus geword het nie, maar 'n skeppende mens wat hom in sy kritiese werk verwesenlik het. Skepper in sy eie reg, en eintlik medeskepper aan elke sinvolle werk wat hy ondersoek het. So onontbeerlik soos Vergilius vir Dante was, so onontbeerlik het Rob vir die literatuur van ons land geword. Innemende, skerp en weergalose gids deur onontdekte streke.
In belangrike mate het hy dit geword omdat hy in sy werk, soos in sy lewe, geweier het om ooit 'n kompromie met middelmatigheid aan te gaan. Alleen deur die hoogste van die literatuur te eis, dit het hy geweet, kan die hoogste op die duur voortgebring word.
In 'n situasie waar te veel mense verskoning soek in ‘'n jong literatuur’ of ‘'n jong land’ - asof jeug enige sondes vergoeilik - het hy onwrikbaar elke werk, van die belangrikste tot die onbenulligste, gemeet aan die beste wat geskryf kan word.
Hiervan was selfs sy skryfstyl simptomaties. 'n Styl wat vir die oningewyde soms 'n struikelblok was, maar wat die ernstige soeker opgeval het as net so 'n fyn, veelduidige en gevoelige instrument as die styl van enige groot skrywer. Sy styl was so ‘moeilik’, want so saamgedronge en ryk, as dié van 'n Henry James of 'n James Joyce. Dit was deel van 'n instelling wat geen toegewings gedoog nie - nòg aan partydigheid, nòg aan vriendskapagter-die-boek nòg aan literêre ‘politiek’.
Dit was vanweë dié integriteit dat hy vertroueling van Dertigers en Veertigers was en waarom hy later 'n soort peetvader vir die hele jonger generasie geword het.
Vanweë die ruimte van sy agtergrond, die diepte van sy insig, en die skerpte en nederigheid van sy natuur, had hy die vermoë om enigiets nuuts in ruimer verband te sien, die gebreke feilloos aan die lig te bring. In my eie laai, en dié van baie van my vriende, lê daar manuskripte van romans, dramas, gedigte of kortverhale wat ons nooit sal publiceer nie - omdat Rob dit nie goed genoeg geag het nie.
Sy oordeel het ons gehelp om ons werk en onsself beter te leer ken. Wat hy op dié wyse in ons literatuur ingebring het - die sin van standaarde bowenal - het hy gebalanseer deur weer die Suid-Afrikaanse werk van gehalte oorsee bekend te stel deur lesingreise in Nederland en België, deur artikels in tydskrifte en ensiklopedië in Nederland, Italië, Frankrijk, Duitsland en Engeland.
En dit is stellig tekenend van sy formaat dat hy naas Van Wyk Louw die enigste was wat nog ooit lid van én die Koninklike Vlaamse Akademie én die Suid-Afrikaanse Akademie was. Ek het gesê Rob was 'n venster.
Vir dié van ons wat hom in die konteks van ons werk leer ken het, skrywers en digters, dramaturge, akademici, studente, is sy dood 'n onherstelbare verlies. Vir dié van ons wat hom ook as mens geken het, is dit 'n ontsetting - nie net vanweë die Sartreaanse probleem van wat ‘kan mens ken van 'n mens’ nie, maar eenvoudig omdat jy stom gelaat word voor die herinnering aan soveel integriteit, soveel liefde, soveel nederigheid, soveel menslikheid.
In hom is kennis gesuiwer tot wysheid en het die lewe 'n dimensie van betekenis bygekry. Ek wil sê, wetende wat ek sê, dat ons wêreld nie veel ken of toelaat van heiligheid nie (die soort heiligheid waarna Van Wyk Louw se hele poësie 'n soektog was). Maar in die mate waarin ons tyd so iets toelaat, was Rob Antonissen vir ons wat hom liefgehad het, 'n heilige.
Of jy met hom 'n lang gesprek gevoer het oor kuns of musiek of filosofie, oor mense of politiek, en of jy sommer 'n paar minute 'n koppie tee saam met hom gedrink het, jy het daar weggegaan met 'n nuwe besef van sereniteit en ruimte.
Ook op sy laaste siekbed, toe Tolstoi nog langs sy bed gelê het en toe selfs lees te inspannend word, het hy hom oorgegee aan musiek, wat dwarsdeur sy lewe sy grootste liefde was. Selfs drie jaar gelede het hy dit nog oorweeg om dirigent te word. Die laaste maande het hy geweet dat dit daarvoor, en vir alles te laat was.
En tog het hy hom tot die uiterste moontlik oomblik bly opstel aan al wat die mensdom deur