word tans toegelaat om Afrikaans als medium te gebruik by alle eksamens van die Universiteit van Suidafrika’. Later het hy ook rektor van die Grey-Universiteitskollege geword.
As taaladviseur was hy met die Bybelvertaling behulpsaam en van 1937 tot 1940 was hy lid van die kommissie vir die beryming van die Gesange in Afrikaans. Hy was een van die eerste lede van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Die Hertzogprys vir Letterkunde is drie keer aan hom toegeken. Van 1922 tot 1939 was D.F. Malherbe redakteur van die kwartaalblad ‘Tydskrif vir Wetenskap en Kuns’.
As digter, romanskrywer en dramaturg het hy heelwat werk van betekenis gelewer. Sy romans het groot oplaes gehad en is baie voorgeskryf. So is byvoorbeeld ‘Hans-Die-Skipper’ alombekend. Hy het hierdie roman ook gedramatiseer. Dit is 1929 as ‘Die Seeman’ met sukses deur die land opgevoer. 'n Ander bekende drama van hom is ‘Die Meul Dreun’.
D.F. Malherbe het 'n hele aantal digbundels gepubliseer en van sy gedigte soos Slaap, Langsaam lui die koperklok, Die Rooivlerkspreeu, Padwerkers, Die Wolfhuis en Jakob Ontong het baie bekend geword en is dikwels in bloemlesings opgeneem.
D.F. Malherbe wou geen lang siekbed hê nie en sy begeerte is vervul. Na 'n lang lewe het hy rustig en stil heengegaan. Reeds in 1914 het hy in die laaste strofes van sy bekende sonnet ‘Slaap’ geskryf:
‘Sluit so my oë, God, wanneer vir my
u Engel wenk ter laaste, lange rus
en ek van wilde woeling hier moet skei;
dat my dan stille drome huistoe sus
en sterke Hand deur duisternisse lei.
Sluit so my oë, God, as ek gaan rus.’
D.M. Greeff