C.N.A. Prys vir Letterkunde.
Die C.N.A. prys vir letterkunde is onlangs vir die tweede keer aan die Afrikaanse Sestiger skrywer, Chris Barnard, toegeken. Hierdie prys beloop R1000. Chris Barnard is die enigste Afrikaanse skrywer wat dit twee keer ontvang het. In 1961 is dit aan hom toegeken vir sy debuutwerk, ‘Bekende Onrus’, wat uit twee novelles bestaan het. Nou het hy dit weer ontvang vir 'n bundel kortverhale, ‘Duiwel-in-die-Bos’. Die titel is die naam van 'n blom wat ook onder heelwat ander name bekend is. Baie ken dit as kosmos. En die Swazi's noem dit ‘Die blom wat groei waar mense was’.
Tot nou toe was Chris Barnard meer bekend as novelle- en toneelskrywer. Duiwel-in-die-Bos is sy eerste bundel kortverhale. Die stories is fyn gestruktureerde kortverhale. Die styl is keurig en presies. Kritiek wat dikwels aan die adres van die Sestigers gerig word, nl. dat hulle die verhaal te ondergeskik maak aan die vorm, geld nie hier nie. Die stories is goed en fyn deurdag.
Duiwel-in-die-Bos is 'n aanwins vir die Afrikaanse kortverhaalkuns.
D.M. Greeff
Chris Barnard: Duiwel-in-die-Bos; verhale: 1963-1968. Nasionale Boekhandel, 1968.