Jan J. van der Post se ‘Boesmanboeke’.
Vanaf 1963 verskyn daar nou al jaar na jaar romans van Jan J. van der Post wat op die lewe van die boesmans gebaseer is. En waar die boesmans 'n onbeskaafde en ‘onbeskaafbare’ jagtersvolkie van die woestyn is wat besig is om uit te sterf (daar is na skatting nog so 'n dertig, veertig duisend van hulle) is dit noodsaaklik maar ook verfrissend om in hierdie romans met hulle kennis te maak as lewende mense.
En soos die Boesman enig in sy bestaan en lewenswyse is, so is ook die skrywer 'n sonderlinge man. Hy het op 'n plaas in Suidwes-Afrika, op die rant van die Kalahariewoestyn, groot geword. Hier het hy van kleins af met die Boesman kennis gemaak. Die geel mensies het hom so geboei dat hy vir lang tye saam met hulle in die onherbergsame, waterlose woestyn rondgeswerf het en geleer het om soos hulle te bestaan van wild en veldkos. Hy het 'n intieme en eersterangse kennis van die mense opgedoen, van hulle vreemd-primitiewe en tog dikwels baie verstandige manier van lewe. 'n Volkie wat in die woestyn geleer het om hard te wees of onder te gaan, en tog karaktertrekke soos 'n openhartige eerlikheid ontwikkel het (die ‘wit leuen’ is bv. by hulle onbekend) wat ons beskaamd laat staan.
'n Mens kry in Jan van der Post se werk baie volkekundige kennis oor die boesman. Maar die groot verdienste van die skrywer is dat hy nie 'n oorverteller, selfs nie eens 'n verteller is nie. Sy boeke is romans waarin karakters optree wat leef. Die skrywer deel nie net kennis mee nie, uit die vertroude milieu skep hy 'n wêreld wat leef. Met liefde en insig geskryf is Jan van der Post se boeke oortuigend en aktueel.
Want in ons tyd van projektiele en ruimtevaarders wat al oor die kleurlose maanlandskap gewentel het, is dit ironies en wonderlik om te weet dat daar nog 'n volkie bestaan wat glo:
‘Die Maan wat met sy geel oog bo uit die lug afkyk wanneer die Groot Vuur gaan slaap het, hy het al die dinge gemaak: die plante wat in die grond groei, die kleinste diertjie en die grootste dier, en die mense. Hy sorg vir alles wat hy gemaak het. Hy laat die reën val en maak die diere se bene vol murg wanneer sy gesig groot word. Hy het die Groot Vuur gemaak sodat almal lekker warm kan kry en die mense kan sien om te jag.
Die goeie jagters wat mooi vir die vroue en die kleintjies sorg en nooit maak of hulle slimmer as hy is nie ‘dié laat hy mooi loop na sy land waar die veld altyd groen en die bokke altyd vet is.’
D.M. Greeff
Jan J. van der Post:
Toordokter van die Duine. Kaapstad, Malherbe, 1968.
Jagters van die Duine. Kaapstad, Tafelberg, 1964.
Witman van die Duine. Kaapstad, Tafelberg, 1965.
Agarob, kind van die Duine. Kaapstad, Tafelberg, 1963.
Gaub - Vlugteling van die Duine. Kaapstad, Tafelberg, 1963.
Vonk - Vondeling van die Duine. Kaapstad, Tafelberg, 1964.
Kwai - Vegter van die Duine. Kaapstad, Tafelberg, 1966.
Ngnô - Renoster van die Duine. Johannesburg, Afrikaanse Persboekhandel, 1967.
Tjeb, die spoorsnyer. Kaapstad, Tafelberg, 1967.