gevaarlike trek, van swaarkry, moeite, verdriet, dood. Maar soos in 'n goeie roman lewe die mense, raak die leser ontroer, verontwaardig en dikwels lag hy ook.
Ek noem die voortreflike eienskappe van Trigardt se dagboek om aan te toon watter gevare daar bestaan vir die skrywer wat weer eens van hierdie stof literatuur wil maak. Die skywer loop die baie wesenlike gevaar om swakker werk as die oorspronklike te lewer.
Miskien is dit net 'n groot digter soos D.J. Opperman wat dit kan en sal waag. Sy drama Voëlvry, kroniekspel van 'n voortrek is in 1967 opgevoer en in 1968 vir die eerste keer gepubliseer. Die stuk is opgebou uit 'n voorspel en twee dele. Dit is 'n drama oor die trek van Trigardt, 'n groep mense met uiteenlopende geaardhede en van verskillende rasse wat moeilik maar noodgedwonge moet saamtrek.
‘Ons volk is in die wêreld voëlvry verklaar -
kyk hoeveel gewere is daar
ook die Here se onsienlike
Dis woorde van gister en vandag. Die vryheid is lewensgevaarlik; die vry man is voelvry verklaar.
Opperman gebruik 'n interessante stylvorm in ‘Voëlvry’, 'n baie beweeglike en ritmiese versvorm wat tog ook na aan die gewone spreektaal kom. Soos altyd in Opperman se werk, is die vernuftige woordspel weer daar, dikwels ingespan om ook te toon dat die drama vir verskillende tye en plekke geld.
Soos D.J. Opperman se ander versdrama, ‘Periandros van Korinthe’ en ‘Vergelegen’, is ‘Voëlvry’ 'n werk van kwaliteit en betekenis.
D.M. Greeff
D.J. Opperman: ‘Voëlvry; kroniekspel van 'n voortrek’. Kaapstad. Human en Rousseau, 1968.