Ons Erfdeel. Jaargang 12
(1968-1969)– [tijdschrift] Ons Erfdeel– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 28]
| |
‘Masker’ deur Cecil Skotnes.
| |
[pagina 29]
| |
cecil skotnes
| |
[pagina 30]
| |
‘Gestaltes’ deur Cecil Skotnes.
Skotnes die houtsneetegniek toegepas op 'n sierlike deur, en in 1960 het hy vir die eerste maal houtblokke - groottes en kleintjies - op 'n eenmantentoonstelling uitgestal. Gou daarna was hierdie knap-ontwerpte houtblokke gesog, en is hulle velemale in 'n argitektoniese omgewing geïnkorporeer. Die potensiaal van die reuseblokke as selfstandige muurversiering is gou raakgesien, en opdragte was volop.
Die houtblokke is verder ontwikkel om soos selfstandige skilderye voor te kom toe Skotnes in 1963 vir die eerste maal kleur aangebring het.
Die kleuraanwending is al hoe verder deurgevoer sodat die blokke vandag kras en gloeiend die toeskouer boei.
Skotnes se tema het soos 'n organiese rypwording vanselfsprekend en onwillekeurig gegroei sodat dit selfs verrassend is wanneer mens besef dat die onheilspellende afgodgestaltes wat ons vandag sien, per slot van rekening uit 'n strak Afrikaanse landskap ontwikkel het.
Eers het Skotnes hom 'n tydlank by die skilder van eenvoudige, ondubbelsinnige landskappe bepaal. Hy was toe (dit wil sê in 1950-52) veral aangetrokke tot die ondeurgrondelike | |
[pagina 31]
| |
‘Altaar’ deur Cecil Skotnes.
uitgestrektheid en dorheid van die Karoo. Die primêre, alomvattende strakheid van die woestyngebied soos deur Skotnes uitgebeeld, kan dalk beskou word as grondliggend vir sy kunsbeskouing. Hy het toe al beweer dat landskap universeel is; dat die lokaliteit van geen belang is nie; dat dit orals dieselfde tydlose indruk maak, en dat die skilder daardie basiese alomteenwoordigheid moet probeer weergee. Daardie beskouing is die grondslag van al Skotnes se werk - sy dit gebaseer op die landskap, plantegroei of die mensgestalte. Hy strewe om die oerkrag van die heelal te weerspieël (dikwels met gedugte gevolge, maar tog ook velemale getint met 'n guitige humor), en daarom dat hy hom na die strakke, kaal, byna oeroue elemente in sy omgewing keer. Daarom dat hy juis die geologies-verouderde Karoo gekies het as uitgangspunt. Daarom dat hy hom later sou wend tot verwronge boomvorms en stekelige graspatrone waaruit nog later doringagtige gestaltes sou ontstaan. In die knoestige natuurpatrone van skurwe rots en dorre, dog taai plantegroei het sy primitiewe mensfigure hulle oorsprong gevind. Eers was hulle effens skugter, maar algaande het hulle stoutmoediger geword, tenger dansend na vore gekom, stewig stil gestaan en uitstaar na hul omgewing, rustend | |
[pagina 32]
| |
‘Die Afgevaardigdes’ deur Cecil Skotnes.
deel geword van die landskap, om dan weer as 'n groep afgevaardigdes voort te skry, en om uiteindelik, nou in 1968, onverbiddelik en oorheersend hulle plek in te neem in die Suid-Afrikaanse kunsmilieu. Die lang, rysige gestaltes wat inderdaad as totempale (soos Skotnes hulle noem) beskou kan word, die fors groepe wat aan die heel vroegste primitiewe Venusbeeldjies herinner, en die deurdringende starende maskers toon 'n merkwaardige verwantskap met Alexis Preller se sagmoedige Primavera-gestalte en die dramatiese Raka-Koki-figuur van N.P. van Wyk Louw.Ga naar eindnoot(*) Almal het 'n soortgelyke geheimsinnige, selfs ontwykende Afrika-kwaliteit wat universeel en tydloos is, en dus as kuns aanvaarbaar is. Almal is gebaseer op primitiewe sowel as natuurlike bronne wat slegs in Afrika te vinde is, maar wat niettemin algemeen begryp, of altans aangevoel, kan word. In Raka, die Primavera-reeks skilderye en die Skotneshoutblokke vind mens elemente van die landskap en plantegroei sowel as 'n eie hartstogtelike Afrika-mitologie wat aan al hierdie werke 'n onmiskenbare identiteit en onwrikbare stukrag gee. Mens is hier bewus van 'n algehele oortuiging wat elkeen van die drie kunstenaars beweeg het om hulle omgewing en tyd te weergee in 'n indrukwekkende, | |
[pagina 33]
| |
‘Afgevaardigdes’ deur Cecil Skotnes.
tydlose en onvergaanbare vorm. Mens mag dit vereers probeer verwerp, maar die werke dring hulle op. Sonder sentiment, sonder opsmuk word die toeskouer gestel as skepsel teenoor skepping. Die konfrontasie mag verskillende reaksies by die beskouers ontlok, maar niemand bly onaangeraak nie.
Die bygaande foto's is almal van Skotnes se jongste werk. Daarin kan die ontoegeeflike strakheid wat volkome van alle dekadente gekunsteldheid gestroop is, waargeneem word. Nogtans voel mens aan dat Skotnes vir 'n verfynde publiek werk, en self hoogs ontwikkeld is, want alhoewel hierdie werke miskien primitief voorkom, is hulle alles behalwe barbaars. Dit kom mens agter wanneer hierdie uitgekerfde ontwerpe met, byvoorbeeld, Makondi-beeldhouwerk vergelyk word. In laasgenoemde is 'n geestelike uitbeelding wat ons vreemd aandoen; terwyl die werk van Skotnes per slot van rekening die uiting van 'n opgevoede man met 'n Europese agtergrond bly. |
|