Afrikaanse letterkundige tijdskrifte.
Dit het een van die tekens van die tyd geword dat letterkundige tydskrifte soos paddastoele opslaan en verdwyn. In Suid-Afrika het die neiging ook in die afgelope jare merkbaar geword. En tog, miskien is dit ons kennis van en uithouvermoë teen droogtes, hoe dit ook al sy, die blaaie bied nogal hardnekkig weerstand hoewel die sirkulasie klein bly en daar feitlik geen inkomste uit advertensie is nie. 'n Mens vermoed teen wil en dank tog 'n bietjie liefde vir die saak.
Die twee gevestigde Suid-Afrikaanse letterkundige tydskrifte, ‘Standpunte’ en ‘Tydskrif vir Letterkunde’ verskyn al baie jare en sal waarskynlik nog baie jare verskyn. Die ‘Tydskrif vir Letterkunde’ is, soos sy naam aandui, 'n tydskrif waarin suiwer letterkundige bydraes oorheers. Die tydskrif word deur die regering gesubsidieer. ‘Standpunte’ is weer oorwegend 'n krities letterkundige, bykans akademiese blad. Dit is 'n onafhanklike blad wat in sy redaksie die bekendste literêre figure in Afrikaans het.
Die tydskrif, ‘Contrast’, is nog 'n onafhanklike blad wat al 'n ses jaar of wat bestaan. Die blad is meer omstrede as die ‘Tydskrif vir Letterkunde’ en ‘Standpunte’. Op sy redaksie dien bekende Afrikaanse skrywers soos Uys Krige en Jan Rabie asook verskeie Engelstalige skrywers.
In 1964 het die eerste nommers van die tydskrif, ‘Sestiger’, verskyn. Die toonaangewendste skrywers in Afrikaans was op die redaksie en het meegewerk aan die blad met die gevolg dat dit heelwat publisiteit gekry het en belangstelling gewek het vir die nuwe letterkunde. André P. Brink was die vernaamste stukrag agter die blad. Dit het twee jaar bestaan en is toe gestaak omdat, volgens die redaksie, hulle gevoel het die tydskrif het sy sê gesê en bereik wat hy wou bereik.
‘Sestiger’ het bepaald 'n prikkelende invloed gehad. In 1966 het daar in Pretoria die tydskrif, ‘Wurm’, begin verskyn. 'n Lewendige blad wat met sy soms 'n bietjie te oppervlakkige lawaai 'n mens laat dink aan 'n studenteblad. Die waarde van die tydskrif is dat hy sy deure wyd oopstel. ‘Dit is die beleid van hierdie redaksie om die mening van enigiemand te plaas wat hom oor die letterkunde wil uitspreek.’ (Wurm 2, 1966, p. 3) ‘Wurm’ word gevolg deur ‘Ophir’, in 1967, 'n tydskrif vir poësie wat meer Engels georiënteerd is maar wel ook gereeld nuwe Afrikaanse poësie plaas.
En nou het die Sestigers (of liewer van die Sestigers) weer teruggekom met 'n nuwe blad, ‘Kol’. Die eerste nommer het in Augustus vanjaar verskyn. Die blad het reeds voor sy verskyning heelwat publisiteit in die koerante gekry, tereg ook, want twee van sy redaksielede is bekende Afrikaanse skrywers, Chris Barnard en Bartha Smit. Chris Barnard het ook op die redaksie van ‘Sestiger’ gedien en Bartho Smit het bydraes vir die blad gelewer.
Die eerste nommer van ‘Kol’ bevat o.a. nuwe poësie van Van Wyk Louw, 'n kortverhaal van Hennie Aucamp en polemiese geskrifte van André Brink, Breyten Breytenbach, Bartho Smit en Chris Barnard. En nou is dit interessant en miskien 'n bietjie onrusbarend dat hierdie Sestigers nie meer langs een vuur in een land sit nie. André P. Brink en Breyten Breytenbach woon tans in Parys. Daarvanaf skryf hulle en Bartho Smit en Chris Barnard antwoord hulle. Die polemiek is skerp en 'n mens wonder of die distansie tussen Parys en Johannesburg nou 'n bietjie ver geword het. Dit sal jammer wees want so 'n (twis) gesprek tussen ons talentvolle en intelligente jong skrywers is beslis die moeite werd om te lees.
Die tydskrif ‘Kol’, beloof om 'n interessante en stimulerende blad te wees. Elkeen wat belang het by die Afrikaanse letterkunde behoort dit te lees.
D.M. Greeff