Suid-Afrikaanse Kuns 1967.
Op versoek van die Calouste Gulbenkianstigting het die Suid-Afrikaanse Kunsvereniging 'n uitstalling van hedendaagse Suid-Afrikaanse Kuns voorberei vir uitstalling in Lissabon. Daar is besluit om die uitstalling te beperk tot enkele uitstaande kunstenaars sodat 'n oorsigtelike beeld van hul oeuvre gegee kan word. Sewe kunstenaars is in dié verband genader en 41 van hul werke is in die uitstalling opgeneem. Die kunstenaars is Armanda Bandinelli, George Boys, Bettie Cilliers-Barnard, Erik Laubscher, Ailen Lipkin, Gunther van der Reis en Cecil Skotnes.
Die uitstalling, wat voor sy vertrek na Europa in Pretoria vertoon is, is beskryf as een van die mees samehangende en kragtigste uitstallings van Suid-Afrikaanse kunswerke wat nog ooit uit die land gestuur is. Dit is veral te danke aan die feit dat die paar kunstenaars, wat baie van mekaar verskil ten opsigte van styl en tegniek, in die geleentheid gestel is om elk verteenwoordigende voorbeelde van hul kuns aan te bied.
Reëlings is reeds getref om die uitstalling ook in bekende galerye te Brussel, Parys en Madrid te vertoon, terwyl reëlings vir uitstallings in ander Europese stede nog aan die gang is.