Suid-Afrikaanse proefskrif oor Vlaamse Ekspressionisme.
Mnr. G.M. Ballot, dosent in Kunsgeskiedenis aan die Potchefstroomse Universiteit het onlangs van 'n jaar studieverlof in Europa teruggekeer, wat hy hoofsaaklik aan die Rijksuniversiteit van Gent deurgebring het. Sy doktorale proefskrif, wat waarskynlik die eerste op dié gebied in Suid-Afrika sal wees, handel oor die Vlaamse Ekspressionisme.
Mnr. Ballot het gedurende 1963 sy lisensiaat in Kunsgeskiedenis aan die Rijksuniversiteit van Gent behaal en hoop om binnekort sy proefskrif by die Universiteit van Pretoria in te dien.
By sy terugkoms het mnr. Ballot die mening uitgespreek dat, hoewel daar nog geen ekspressionistiese Kunsskool in Suid-Afrika bestaan nie, hierdie rigting heelwat inslag sal vind. Onder andere het hy verwys na die Vlaamse ekspressionis, Maurice van Essche, wat as Professor in Skone Kunste aan die Universiteit van Kaapstad veral 'n belangrike invloed op sy studente uitoefen.
Mnr. Ballot het beter kunsonderrig op skool en groter vryheid vir kunstenaars bepleit.