beslag gegee aan die gedagte van 'n Kunsteraad wat deur die De Villiers-komitee van ondersoek aan die Minister geopper was. Daar was verskillende skemas waarvolgens staatshulp aan die kunste gegee kon word, sommige daarvan ondoeltreffend by die bereddering van die kunste, ander doeltreffend maar 'n te noue skakel tussen die owerheid en die kunste en die kunstenaars. Wat m.i. 'n gulde middeweg is, is gevind. Geen kunsorganisasie en geen kunstenaar sal ingevolge die aanvaarde voorstel regstreeks van die Regering geldelike steun kry nie. Dit skakel dadelik 'n groot deel van die gevaar uit dat die owerheid hom sal bemoei met die aard en inhoud van die werk wat gedoen of vertoon word; m.a.w. die hele terrein van die kreatiewe kuns word onaangetas en onaantasbaar gelaat. Geldelike hulp sal langs die weg van die Kunsteraad kom, wat besluit watter toelaes vir welke doeleindes toegeken word. Boonop is die Kunsteraad nie 'n ledemaat van die owerheid nie maar eerder 'n onafhanklik fungerende liggaam wat uit nie-staatsamptenare bestaan en 'n globale bedrag jaarliks van die owerheid ontvang om na goeddunke aan die bevordering van die kunste te bestee. Die juiste posisie met die toewysing van Staatsgelde vir die bevordering van die kunste is dat die Kunsteraad deur die Departement van Kultuursake by die Minister aanbevelings sal doen hoe die betrokke fondse bestee moet word. Die besteding sal dan deur die Departement gedoen word.
Uit die voorgaande is dit duidelik dat die samenstelling van so'n raad van die uiterste belang is, of liewer sal wees, want die huidige Kunsteraad is hoofsaaklik bedoel as 'n voortsetting van die De Villiers-komitee om die Minister te adviseer oor hoe die langtermynbeplanning uiteindelik ten beste ingerig sal moet word. Die eerste tussentydse raad word soos volg saamgestel: drie verteenwoordigers van die S.A. Kunsvereniging - prof. A.L. Meiring (nasionale president), dr. A.D. Bensusan (onderpresident) en regter J.F. Marais; en verteenwoordiger van die Museumvereniging: dr. M. Bokhorst (Nasionale Kunsmuseum, Kaapstad); een verteenwoordiger van die Kunstenaarsraad: mnr. Cecil Skotnes (voorsitter); drie genomineerdes van die Minister: dr. F. Scott (Bloemfontein), mnr. A.J. Werth (Pretoria) en prof. dr. F.C.L. Bosman (Pretoria). Die Departement van Kultuursake word verteenwoordig deur 'n waarnemer. Prof. Meiring is die voorsitter van die Raad. Die Raad sal stellig dadelik aandag gee aan die oorsese uitstallings van ons kuns, veral in Sao Paulo en Venesië, die keuring daarvan, die opbou van al die streke van die Kunsvereniging, die oprigting van 'n nasionale kunsblad, en so meer.
Die belangrike feit wat beklemtoon moet word, is die feit dat daar nou vir die eerste keer 'n gesaghebbende liggaam van kunsliefhebbers is wat 'n wakende oog oor alle kunsaangeleenthede oral in die land sal hou en wat regstreeks toegang tot die owerheid het. Ek glo nie dat iets anders as goed hieruit kan voortvloei nie.
J.F. Marais,