Mikro oorlede.
Die bekende Afrikaanse skrywer, C.H. Kühn, beter bekend as Mikro, is gedurende April op 65-jarige leeftyd oorlede.
Hoewel een van die bekendste, was hy beslis nie een van die belangrikste Suid-Afrikaanse skrywers nie. Daarvoor was hy te veel van 'n veelskrywer. Kort voor sy oorlyde het hy sy honderdste boek voltooi en die meeste van sy werke is oppervlakkig en van populêre aard. Tog het hy ook daarin 'n belangrike bydrae tot die Afrikaanse literatuur gelewer, veral in sy vroeë jare toe die Afrikaanse letterkunde nog baie arm was. ‘Ruiter in die Nag’ kan dan ook as 'n treffer beskryf word en is enkele jare gelede ook verfilm. Hy het heelwat vir die jeug geskryf en onder andere tweemaal die Scheepersprys vir jeugwerk ontvang, naamlik in 1957 vir ‘Die Jongste Ruiter’ en in 1961 vir ‘Die Goue Protea’.
In sy ernstiger werk het hy veral die lewe op die Kaapse platteland en in die besonder dié van die Kleurlinge uitgebeeld. Sy aangrypendste werk bly nog sy eersteling, ‘Toiings’ (1934) en die vervolg daarop ‘Pelgrims’ (1935), waarvoor hy dan ook gedurende 1936 die Hertzog-prys ontvang het. D' is die verhaal van 'n eenvoudige skaapherder wat die vreugde en smart van sy bestaan met kinderlike naïwiteit nader en deurgaans daarby berus. Eers in 1944 voltooi Mikro sy roman ‘Vreemdelinge’ as afsluiting van sy sogenaamde Toiings-trilogie. Hierdie werk staan egter op 'n heelwat laer vlak as die vorige twee.
Hoewel hy nog 'n aantal werke van formaat gelewer het, het min die pyl van ‘Toiings’ bereik. Die belangrikste uitsonderings is waarskynlik ‘Die Nooiens-Uil’ waarvoor hy in 1956 die Hofmeyer-prys ontvang het en ‘Die Koper Kan’ waarin hy 'n meer gekompliseerde tema van 'n Kleurling-meisie se opstand teen haar eie omgewing uitbeeld. Sy laaste boek ‘Osse van Klei’, wat in Augustus sal verskyn, handel oor 'n soortgelyke tema.
John Willemse