Association of Operatic Dancing. Intussen is egter ook die Cecchetti Society in London gestig deur De Beaumont en het onderwyseresse wat aanhangers was van die beroemde leermeester se metodes vir hul in Suid-Afrika kom vestig en ook húl leerlinge het gereeld eksamens afgelê voor eksaminatore wat van Engeland hierheen gekom het.
Die South African Dancing Teachers Association is gestig hoofsaaklik met die doel om die organisasie van die eksamens te behartig en om belange van die steeds groeiende getal dansonderwyseresse te behartig.
Reeds in die twintiger jare het daar waarskynlik in Suid-Afrika, persentasie gewyse, meer kinders balletles ontvang as in enige ander land in die wêreld. Honderde jong dogters oor die lengte en breedte van die land het jaarliks hul balleteksamens afgelê en die getalle het jaarliks aangewas totdat hul tans die tienduisendtal oorskry. Natuurlik is nie al die leerlinge talentvolle aspirant-balletdanseresse nie. Die meeste leerlinge het inderdaad geen ambisie om ooit die ballet as beroep te beoefen nie maar neem les omdat daar nog steeds 'n soort sosiale ‘status-simbool’ aan die ballet kleef. Die dogter van gegoede ouers word eenvoudig verwag om balletles te neem. Vir die balletonderwyseres is dit 'n lonende beroep met as enigste verantwoordelikheid die voorbereiding van haar leerlinge vir die eksamens van die Royal Academy of Dancing of the Cecchetti Vereniging. Vir laasgenoemdes, met hoofkwartier in Groot Brittanje, bied dit natuurlik ook 'n nie onaansienlike bron van inkomste.
Vir die talentvolle leerlinge wat graag die ballet as loopbaan sou wou be-oefen was daar tot baie onlangs geen heenkome nie. In die eerste dekade van hierdie eeu het 'n kommersiële organisasie by name African Consolidated Theatres, wel van tyd tot tyd pantomimes aangebied maar met uitsondering van die ingevoerde balletmeesteres en danseres, Vivienne Tailleur, was daar geen vaste, lonende aanstellings vir plaaslike dansers nie. Hul het hoogstens geleentheid gekry om op te tree as lede van die corps-de-ballet. Eers gedurende die tweede wêreldoorlog, toe dit nie meer moontlik was om oorsese kunstenaars in te voer nie, het ACT daartoe oorgegaan om aanbiedings met Suid-Afrikaners in die hoofrolle, te finansieer.
Pogings van balletonderwyseresse en van die SADTA om 'n beroepsgeselskap op die been te bring, het telkenmale misluk as gevolg van die intense jaloesie en wedersydse ondermyning wat daar in eie geledere geheers het. Die enigste geleentheid wat danseresse gehad het om te toon waartoe hul instaat is, was tydens die jaarlike SADTA kampioenskappe en die Eistedfodd wat deur die Walliese gemeenskap ingestel en georganiseer is. Maar by die geleenthede het daar eerder 'n gees van intense komposisie geheers as 'n liefde vir die ballet as kunsvorm. Aan die wenners van die kompetisies is beurse toegeken wat die bestes daartoe instaat gestel het om na die buiteland te vertrek vir verdere studie. Omdat daar vir hul geen beroepstoekoms in hul eie land was nie, het hul oorsee gebly en daar vir hulself 'n toekoms uitgekerf en is die vaderland dekades lank beroof van sy grootste talente. Die hoogste sport waartoe die Suid-Afrikaanse danser geaspireer het, was om lid te word van Sadlers Wells Ballet en later van Covent Garden se Royal Ballet. Nadia Nerina, John Cranko, Alexis Rassine, Alfred Rodriques, Maryon Lane, Diane Bergsma, Monica Mason, Vivian Lorraine is maar enkeles wat op die wyse vir altyd vir ons verlore geraak het, terwyl ander soos David Poole, Frank Staff, Dudley Davies en sy vrou Patricia Mills, gelukkig na hul vaderland teruggekeer het.
In die Kaapprovincie is daar die eerste suksesvolle poging aangewend om aan plaaslike dansers geleentheid tot optrede te bied al was dit aanvankelik nie op beroepsgrondslag