'n suksesvolle vernuwing. Ook 18-44 is weer anders. Minder verwikkeld, eenvoudiger styl, byna naïef is dit die verhaal van 'n verhouding. Sy 18. Hy 44. En tog is dit op 'n ander vlak weer glad nie dit nie, gaan dit eerder oor die sterflike mens se nood in hierdie tegnologiese wondereeu. En so onderlangs prik Leroux aanhoudend met 'n naaldskerp satire. Die boek is baie gunstig ontvang, word as meer ‘menslik’ beskou as sy vorige werke.
Miskien nooit se ontvangs was minder gunstig. Sies! het koerant uitgeroep. Dit het Brink se boek die beste verkoper van die drie in die eerste paar weke na publikasie gemaak. Soos 18-44 is hierdie roman ook in die eerste persoon gekryf. Die skrywer, of 'n karakter soos die skrywer, is op vakansie in Parys. Hy bewerkstellig 'n ontmoeting met 'n jong Sweedse meisie. Hy nooi die meisie om by hom te kom intrek. Verder kom dit eintlik nie. Later verdwyn sy weer. 'n Eenvoudige verhaaltjie. Taamlike openhartige beskrywing maar as dit is wat 'n mens soek, vergelyk die roman maar flou met sê: Ik Jan Cremer.
Brink maak in die boek van 'n soort ‘kamerategniek’ gebruik. Hy sou eerder 'n rolprent wou maak, sê hy. Nou vertel hy maar die verhaal asof hy besig is om so 'n prent te maak. Die tegniek het voor en nadele. Hy kan 'n episode uit verskillende hoeke beloer en gee sodoende 'n meer objektiewe perspektief en beklemtoon die relatiewe. Op die duur wordt dit egter bietjie vervelig en 'n mens kry so half-half 'n suspisie dat die tegniek die skrywer help om 'n respektabele romanlengte te haal.
Die waarde van die roman lê in die skrywer se ironie. Brink se liefdesverhoudings is ernstig maar hy lag agter sy hand. Hy besef die betreklikheid daarvan maar te goed. En so word die boek 'n spottende én roerende beklemtoning van die klein kortstondigheid van al ons menslike dingetjies, ook seks byvoorbeeld.
Breyten Breytenbach se tweede bundel, Die Huis van die Dowe, is 'n groot werk. Kritici stem oor die algemeen saam dat hy die belangrikste Afrikaanse digter na Van Wyk Louw en D.J. Opperman is.
Die vernaamste kenmerk van hierdie werk is, net soos van sy eerste bundel, die bykans verbluffende oorspronklikheid. Breyten se beelde is altyd nuut en vars. Plante, bo,- me, strate, stede word so nuut gesien dat hulle vreemd aandoen, inderdaad nuwe dinge is. Terselfdertyd voel 'n mens: hoe anders hierdie siening ookal is, bizarre selfs, die digter sien iets van 'n waarheid raak agter alle vermommings.
Hier aan die einde van die jaar het daar van Brink nogeens 'n interessante boek verskyn: Aspekte van die Nuwe Prosa. Hierin gee die jong ‘vader van die Sestigers’ 'n kritiese oorsig oor die Sestiger prosa. Met Sestiger prosa word bedoel: Prosa wat in die laaste dekade in Afrikaans verskyn het en terselfdertyd nuut is in dié opsig dat dit 'n ander styl en tegniek en soms lewensopvatting openbaar as ander prosa van die laaste dekade en vorige dekades. Die Sestiger prosa probeer aansluit by die jongste prosa in ander lande.
Die boek beïndruk veral deur die voorbeelde en verwysings na literatuur en kuns in baie lande. Die skrywer het baie gelees en gehoor sonder inagneming van nasionale en taalgrense. In die boek word die bespreking van Sestiger prosa verdwerg deur beskouings oor prosa in ander lande. Kuns in die algemeen en die skilderkuns in besonder kom ook baie ter sprake. Ek sou byna wou sê: Dis eintlik 'n inleiding tot die Sestiger prosa. Die skrywer wys vir ons waarvandaan hierdie vreemde maar bekoorlike nooi kom.
Die boek is insiggewend en baie leesbaar. Nie net om meer uit te vind oor die Sestiger of ‘nuwe’ Afrikaanse prosa nie, maar ook vir 'n oorsig oor die prosa van die twintigste eeu. Hierdie werk bied 'n deelname in die lees- en kenniswêreld van 'n intelligente en baie belese skrywer.
D.M. Greeff
Etienne Leroux: 18-44. Kaapstad. Human en Rousseau, 1967.
André P. Brink: Miskien nooit. Kaapstad, Human en Rousseau, 1967.
Breyten Breytenbach: Die huis van die dowe. Kaapstad, Human en Rousseau, 1967.
André P. Brink: Aspekte van die nuwe prosa. Kaapstad, Academica, 1967.
Voor Europa: Boekhandel Frans Meyers, Pontstraat 50, Melle (O.-Vl.) België.