Ingrid Jonker-Prys vir Poësie aan D.P.M. Botes.
Hierdie prys word om die ander jaar toegeken aan die belowendste debuutwerk in die Suid-Afrikaanse Engelse poësie of die Afrikaanse poësie. Waar Ruth Miller die prys verlede jaar ontvang het vir haar bundel Floating Island, word die toekenning vanjaar die eerstekeer vir 'n Afrikaanse bundel gemaak, en wel vir Wat is 'n Gewone Man van D.P.M. Botes wat ook in 1965 verskyn het.
Die bundel het sedert sy verskyning heelwat goeie resensies geniet. Onder andere is dit sterk aangeprys deur die bekende letterkundige kritikus, Prof. Rob Antonissen. Botes kan gevolglik sonder veel teenspraak gereken word as die belangrikste nuwe digter in Afrikaans na Breyten Breytenbach van wie 'n digbundel Die Ysterkoei moet Sweet in 1964 verskyn het.
Al die gedigte in Wat is 'n Gewone Man is rymlose vryvers. Tog het die verse dikwels 'n hegte boustruktuur. Die tegniek is egter by Botes nooit opvallend nie, verdwyn eintlik agter die beeld- en seggingskrag. Sy beste poësie het iets van 'n ewigheid; die gedig word self dit waaroor dit wil praat.
Die 31 jarige Botes werk in Pretoria by die Departement van Onderwys, Kuns en Wetenskap. In 1966 het hy in België gestudeer d.m.v. 'n beurs van die Kultuurverdrag België-Suid-Afrika. Hy is op die oomblik besig met sy doktorale proefskrif ‘Die Digterskap van Gaston Burssens’. Sy promotors is Dr. Wilfried de Pauw van die Universiteit van Suid-Afrika en Prof. Jean Weisgerber.