Smit - Schoeman - Walters.
Bartho Smit het al 'n aantal dramas geskryf waarvan veral Putsonderwater (1962) aandag getrek en deur die letterkundige kritiek met belangstelling en waardering beskou is. Die stuk is egter nooit opgevoer nie.
Teen die einde van verlede jaar is 'n nuwe drama van hom Die Man met 'n Lyk om sy Nek deur Truk met sukses opgevoer.
Die tema is tipiese rillerstof. 'n Misdaadverslaggewer wat droom van 'n groot boek wat hy gaan skryf - en die gevolglike groot geld. Dan kom sy vrou se oom te sterwe. Tot sy ontsteltenis erf sy vrou net R300. 'n Bietjie later word hy egter ingelig dat sy hom nie die waarheid vertel het nie en in werklikheid R300,000 geërf het. Vriende help hom om sy vrou op haar beurt 'n poets te bak. Maar sake neem 'n verkeerde wending; sy vrou word vermoor; die polisie daag op; die getuienis is verdoemend teen hom... Dan is daar weer 'n skielike wending en die gehoor moet uiteindelik die gelag betaal... dis hulle wat al die tyd vir die gek gehou word.
'n Moderne moordkomedie wat deur die slim intrige, die vindingryke toepassing van die skrywer se toneelkennis en sy fyn karaktertekening, tog meer gee as blote ontspanning.
Karel Schoeman is 'n jong Afrikaanse skrywer van wie daar in 'n kort tydsbestek reeds vier boeke verskyn het: Veldslag, 'n bundel van twee novelles en sy debuut; Die Hart van die Son, 'n boek oor Shakespeare se lewe; Berig uit die Vreemde, 'n lerse dagboek, en By Fakkellig, sy jongste - 'n historiese roman oor die onderdrukte lerland van die 18de eeu.
As 'n mens begin om die boek te lees van die here-landgoed, die adel met hulle jagpartye en ander plesier, die seun, David, dromer wat nie werk nie en maar net op die landgoed bly, en dan die arm, onderdrukte boerestand - is jou eerste gewaarwording: Dis Engels hierdie. En nie eens 'n moderne Engelse roman nie maar een van 'n eeu of twee gelede. 'n Mens wil-wil vra: Het die skrywer sy roman eers in Engels geskryf en dit toe vertaal?
Maar 'n mens misgis jou maklik met hierdie skrywer. Jy lees verder en gou kry die boek 'n bekoring van sy eie, word dit 'n ontroerende verhaal van onderdruktes se stryd om hulle vryheid, hulle land. En David, die seun van die here-landgoed, word uitgebou tot 'n tragiese karakter wat boei, laat 'n mens self uiteindelik dink aan die moderne antiheld.
Aan die anderkant is dit geenszins 'n volmaakte roman nie. Daar is nie veel van 'n intrige nie, die handeling is dikwels glad nie vlot nie, eintlik stokkerig en die karakters (selfs die aangrypende David) bly ideëel, wil nie mense van vleis en bloed word soos dit in hierdie soort roman hoort nie.
Ten slotte wil ek egter noem dat Karel Schoeman se werk 'n eie verfrissende bekoring het. Dit kan die skrywer se eenvoudige maar voortreflike styl wees, dit kan sy digterlike gevoeligheid vir die natuur en mense wees - of miskien moet 'n mens maar net sê: Die man het 'n slag om boeke te skryf.
By die Nasionale Boekhandel het onlangs 'n redelik lywige digbundel, Cabala deur M.M. Walters verskyn. Die bundel is die digter se debuut hoewel 'n hele aantal van hierdie verse die afgelope paar jaar in Standpunte gepubliseer is.
Met Walters is 'n mens eintlik in die moeilikheid. Hij skryf 'n heel ander soort vers as Breyten Breytenbach of D.P.M. Botes, digters in die Sestiger tradisie. Wat vorm betref is die verse meer konserwatief. Tog, veral wat tema aangaan, is dit ook geenszins die tradisionele tipe vers nie. 'n Mens het hier 'n ironies-wrange twyfel aan God. 'n Dikwels skeptiese vraagstellery ten opsigte van die Bybel. Afgesien hiervan is daar ook heelwat satire oor die land en sy bewoners - sy blanke boere.
Maar soms is dit asof die aanhoudende twyfel en satire 'n bietjie afgesaag word, soms dreig die verse om retories te word. En die