aksies gedreig teen instansies en persone, wat teen Afrikaans gediskremineer het. Daar is selfs gedreig met die weinig oorspronklike gedagte van boikotte en enkele insidente is buite verhouding opgeblaas. Die poppe het egter behoorlik begin dans toe, ironies genoeg, enkele hoofsaaklik afrikaanstalige organisasies onder skoot gekom het omdat hulle Afrikaans sou afgeskeep het. Harde woorde het geval en veral enkele ontaktvolle uitlatings van dr. Terblanche het daartoe gelei dat die saak nie alleen politieke reperkussies gehad het nie maar dat ook die Akademie, as dr. Terblanche se werkgewer, daarby betrek is.
Hoewel 'n openlike botsing tussen verskillende afrikaanssprekende groepe inmiddels gekeer is, is dr. Terblanche en die GHA vasbeslote om op die ingeslae weg voorttegaan. Hulle praat van 'n derde Afrikaanse Taalbeweging wat daartoe sal lei dat Afrikaans sy regmatige plek volkome sal verkry. Daar is min mense wat hierteen beswaar sal hê. Dit is egter te hope dat in die toekoms met meer takt te werk gegaan sal word sodat die steeds toenemende verbetering in die goeie verhouding tussen engels- en afrikaanssprekendes nie daardeur skade sal lei nie.
Die nuwe taalbewustheid het ook op breër kulturele vlak tot uiting gekom. Sekere konserwatiewe elemente en ook die kerke het al sterker bedenkings uitgespreek oor resente neigings in die letterkunde en die kuns. Dit het min of meer sy hoogtepunt bereik nadat die Akademie die Hertzogprys aan Etienne Leroux toegeken het vir sy roman ‘Sewe dae by die Silbersteins’. Die resultaat was dat 'n Christelike Kultuuraksie in die lewe geroep is wat gedurende Junie 'n openbare simposium gehou het waarop ‘negatiewe’ tendense in die Afrikaanse letterkunde en kultuur bespreek is. Die besprekings het gehandel oor: Die verwording van die Afrikaanse taal- en letterkunde (dr. Schoonees), Estetiese norme in die kuns (prof. Potgieter), Beeldende kunste (ds. Booyens). Die teater en die film (mev. Dommisse), en Die Afrikaanse kultuur en die onderwys (prof. Coetzee). Aan die einde van Junie het die Akademie tydens sy jaarvergadering te Bloemfontein 'n soortgelyke simposium gereël met as hooftema: Letterkundige norme.
Die resultaat van al hierdie bedrywighede is dat die algemene belangstelling lanklaas so sterk op kulturele sake gevestig was. Wat veral verwelkom moet word. is die feit dat dit aansienlik bydra tot 'n groter belangstelling en kultuurbewustheid by breëre lae van die bevolking.
John Willemse