Sal Afrikaans die nuwe Suid-Afrika oorleef?
Sterke band met Nederlands verrijkt beide talen
door drs. Dorothea van Zyl
Daar bestaan in Suid-Afrika heelwat besorgdheid oor die posisie van Afrikaans in 'n nuwe bedeling. Die Nasionale Party-bewind van 43 jaar waartydens Afrikaans volle taalregte naas Engels geniet het, het die wanpersepsie by sommige laat ontstaan dat Afrikaans 'n blanke taal is wat op kunsmatige wyse 'n belangrike posisie verwerf het in Suid-Afrika.
'n Verdere bedreiging is die magtige posisie van Engels as wêreldtaal.
Dit lyk vir sommige politici en akademici sinvol om vir Engels as lingua franca te kies in 'n toekomstige Suid-Afrika.
Tog is die werklikheid ietwat anders. Die geskiedenis leer dat Afrikaans ontstaan het lank voor Brittanje sy mag oor Suidelike Afrika begin uitbrei het. Dit het begin as die voertaal van slawe, arbeiders en Nederlandse koloniste aan die Kaap, as ontmoetingspunt tussen die verskillende bewoners. Van die eerste geskrifte in Afrikaans is vir en deur sogenaamde gekleurde Afrikaners geskryf. Die taal is weliswaar vanaf 1875, na 1902 en opnuut sedert 1948 as deel van die blanke volksbesit beskou en selfs gepropageer, maar die ander taalgebruikers het steeds talryker geword en het trou gebly aan Afrikaans. Tans is dit die moedertaal van 57% van die blankes, van 85% van die gekleurde bevolking, van meer as 81 000 swartes en van meer as 10 000 Asiate.
Afrikaans ken ook 'n geskiedenis van verset teen verengelsing. Nadat die taalproklamasie van Lord Charles Somerset Engels na 1822 as ampstaal begunstig het, het verset geleidelik begin groei totdat Afrikaans met die Eerste Afrikaanse Taalbeweging in 1875 aktief bevorder is. Toe Lord Milner 80 jaar later na die Tweede Vryheidsoorlog Engels as enigste taal van Suid-Afrika bevorder het as staat-, skool- en handeltaal, was die onmiddellike reaksie verset. In die Tweede Taalbeweging het skrywers, literatore, joernaliste en volksleiers oor 'n breë front toenemend aktief geraak vir Afrikaans. In 1910 is Nederlands, na 1914 as sinoniem met Afrikaans, as amptelike taal erken naas Engels. Na 1948 is die posisie van Afrikaans bestendig, hoewel geensins ten koste van die ander tale nie.
Noudat die posisie van Afrikaans vir die derde keer (weer 80,90 jaar verder) in die weegskaal lyk met die nuwe bedeling is daar reeds 'n beweging aan die gang wat verreikende gevolge kan inhou. Minister Gerrit Viljoen het tereg dié jaar in die parlement daarteen gewaarsku om ‘die duiwel van taalstryd weer lewend (te) maak’. Die aantasting van die amptelike status van Afrikaans sal volgens horn ‘die legendariese kis van Pandora oopmaak’.
Meer positief beskou, kan dit egter 'n nuwe impuls vir die taal beteken. Vir die eerste keer na 1875 gaan dit naamlik nie om blankes teenoor ander bevolkingsgroepe nie. Van die grootste voorstanders vir Afrikaans behoort dot die sg. gekleurde groep. 'n Groot gedeelte van die Arbeidersparty (met hoofsaaklike gekleurde lede) het moontlik reeds na die Nasionale Party oorgestap, onder meer vanweëersgenoemde party se voorkeur vir Engels as toekomstige ampstaal. Binnekort kan die tyd in Suid-Afrika aanbreek dat mense (soos elders ter wêreld) nie op grond van kleur benoem word nie, maar op grond van taal of streek.
Hierdie bewuswording dat Afrikaans nie meer 'n verdelende faktor is nie maar juis mense met mekaar verenig, bring 'n nuwe waardering vir die taal teweeg. Nelson Mandela noem dit 'n ware taal van Afrika en sê dat dit weer die anti-koloniale taal van vryheid en hoop geword het wat dit aanvanklik was. Volgens president De Klerk is dit nie meer die taal van die onderdrukker nie, maar van die bevryder. Dr. Beyers Naudé, in Suid-Afrika lank vervolg vanweë sy steun aan bevrydingsbewegings wys op die mate waarin die Afrikaanse skrywers en digters van verset- en protesletterkunde Afrikaans aanvaardbaar gemaak het in die harte van miljoene mense wat dit andersinds sou beskou het as die taal van die onderdrukker en van rassisme.
By al dié positiewe geluide is daar egter ook onrusbarende tekens. Nelson Mandela waarsku pertinent teen enige beroep op beskerming of spesiale status vir Afrikaans. Die ANC is wel van plan om al die tale in Suid-Afrika amptelik te erken, maar onderhewig aan die reg van die regering om voorrang te gee aan Engels as administratiewe, regs- en skooltaal.
So'n bevoorregting van Engels kan verreikende gevolge vir Afrikaans inhou. taalkundiges en sosioloë wys veral op die gevaar van funksieverlies: indien Afrikaans minder gebruik word in die staatsdiens, in die geregshowe, op skool en op die televisie tas dit snel die posisie aan van hoër onderwys, waar die aantal studente afhanklik is van die vraag op die arbeidsmark. 'n Kleiner wordende taalgemeenskap sou verliese beteken vir Afrikaans as intellektuele taal, as wetenskapitaal, vir gesubsidieerde toneel, die reklamewêreld, uitgewerye, koerante en die filmindustrie. Volgens taalkundiges kan dit 'n hele sociaal-kulturele orde vernietig en verskeurdheid in 'n reeds verdeelde samelewing veroorsaak. 'n Verlaging in taalstatus kan 'n kettingreaksie teweegbring met negatiewe psigologiese gevolge vir 'n groot gedeelte van die bevolking.