haar meer ontstel het, is dat hulle met liefdevolle deeglikheid na álles van haar gekyk het. In haar slaapkamer het haar fyn onderklere van Franse kant, die paar stukke juwele in haar besit, haar sagte truie en syserpe, 'n veelgedrae leerjas, álles, deur hul hande gegly. Dit wat waardevol was, is ingepak; geskenke vir 'n minnares, 'n vrou, 'n suster, om te verkoop. Dit wat hulle nie geïnteresseer het nie, is argeloos en met minagting op die vloer neergegooi en in wanorde laat lê.
Haar getuienis was van korte duur. Nee, sy het nié aan hulle die goedere geskenk nie, nee, hulle het nié toestemming gehad om haar huis binne te kom nie, ja alles was gesluit toe sy die oggend weg is. Dit is eers met haar terugkeer van die werk dat sy die stukkende ruit en die chaos in haar huis ontdek het.
Die advokaat vir die beskuldiges het dit nie nodig gevind om vrae aan haar te stel nie.
Die landdros het gevra of die beskuldiges 'n vraag wil stel of dalk iets wil sê.
J.
Beskuldigde (2), hy met die pokgesig en die litteken, het regop gekom, sy kop effens afgebuig om in die mikrofoon te praat.
‘Edelagbare, ek wil graag aan die dame teenwoordig verskoning vra dat haar goedere in my besit gevind is.’
Die vrou het verras opkyk. 'n Seepgladde vertoon vir die landdros en die hofverslag? Die hofsaal het opeens doodstil geword. Sy woorde het yl in die lug bly hang.
Sy het haarself uit die hofsaal verskoon voordat hul vonnis opgelê is. Dit het nie meer vir haar saak gemaak wat met hulle gebeur nie.
Die ander bekentenis is baie later, digby middernag.
Ja, hy hét 'n verhouding. Nee, hy het nie die sletterige student lief nie. Dit is maar net...
Daar was 'n lang stilte. Die vrou wou nie meer hoor nie, sy wou nie meer uitvra nie. Sy het haar oë toegemaak, gevoel hoe haar hart klop. ‘Ek is jammer,’ het die man gesê, ‘ek is verskriklik jammer.’