De Gids. Jaargang 120(1957)– [tijdschrift] Gids, De– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 141] [p. 141] Elisabeth Eybers Vier sonnette Job 'n Potskerf het die paadjies van die juk geduldig opgespoor, die etterdruip het droog geword, die tentatiewe tik teen rowe laat die huid wellustig kruip. As Gods hand alles uitwis bly die tyd nog onvernietigbaar. Die ganse dag was dus tot sy beskikking om die vlyt van brommers in die vuilgoed te betrag - aandagtig asemend, terwyl die stank en sonsteek hul beswering om hom rank. Toe al die yweraars ondergronds verdwyn het hy sy bak sorgvuldig skoon gelek, sy mantelflenters oor sy kop getrek en ingekrimp tot 'n klein pit van pyn. [pagina 142] [p. 142] Tuiskoms Die slinger tussen sekerheid en vrees is tot 'n skietloodhuiwering gesus noudat my dwase hart hom houtgerus heg aan jou onweerlegbare hier-wees. Ná al die nagte van allenig lê, hoe klein word die bestek, hoe diep en smal die skag waarin ek sink terwyl ek al die lomerige laaste dinge sê. Jou slaapswaar arm het hoflikheid sowel as hartstog afgelê en knel my bors, en ek word helder wakker van die dors na nuwe woorde wat my skielik kwel - so onvanpas, want die geluk vereis niks wat dit moet bewimpel of bewys. [pagina 143] [p. 143] Terugblik Moeder, my eerste sekerte was jy, gedugter as die voorbestemmingsleer; diè slotsom was my soetste kettery, dat aardse liefde ewige onheil weer. Hoe moes ek snags, soms tot beswymens bang, my uit die stikgreep van die Bose red, verkluim, kaalvoet oor kwaste van die gang voortstrompel na die vrystad van jou bed. Jy het die vroegste flits van agterdog op die gehurkte garingbuik, Calvyn, wat waghou oor sy wrede web, laat skyn; my douvoordag op 'n verkenningstog geloods - bestem tot jou verdriet, maar steeds erfkind van jou week hart en wakker gees. [pagina 144] [p. 144] Verjaardag Twaalf jaar. Gespanne vóór die donker sprong, jou klapperdop 'n korf wat gons van vrae, astrant, seepbekkig soos 'n groenteklong, jou moeder daeliks trotser, meer verslae. Vanmôre dink ek weer aan die verhaal van daardie vindingryke, vroegwys Knaap, aan háár wat drie dae lank moes radeloos dwaal terwyl die tempelgangers hul vergaap. Hoe ver kan ek jou vergesel? Jou oë is newelig en wimperswaar gedroom van ruimtereise, radar en atoom... Klein Ikaros, by voorbaat reeds bedroë, weeg jy my wankel woorde, kyk my aan, meewarig oor sovéél wat 'k nie verstaan. Vorige Volgende