De Gids. Jaargang 110(1947)– [tijdschrift] Gids, De– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 2] [p. 2] Die einde van die pad Skielik kom daar 'n einde aan. Skielik is daar geen pad meer nie deur die woestyn. Skielik - soos een verlore in die wildernis struikel, half val, gaan staan, dan grond-toe sak, gedaan, terwijl sij laatse kragte uit hom kwyn - het die pad doodgeloop, verdwyn in die eindeloosheid van die woestyn. Soos water wegsyfer in die sand, soos die wit sliertjie van 'n golf kom sterwe teen die strand, soos zelfs die hoop verdwyn uit 'n lamgeslane vertrapte land, soos die laatste flou vonkie van die gees sterf in 'n sterwende verstand, het die pad verdwyn in die grys leegtes van die woestyn. Skielik kom daar 'n einde aan, is daar geen pad meer nie deur die woestyn; geen enkel leë brandstofblik wat in die skerp lig glans soos kwik; geen vuil verskeurde stuk koerantpapier wat met die wind saamskarrel, dan daar, dan hier; geen silwerglinsterende konfijtblikkie met 'n ry vet appelliefies op sy etiket; nerens patroondoppies, nerens 'n motorband al lank half toegewaai onder stof en sand; of die geraamte van 'n drieton-trok kaal afgestroopt tot by sy boom, sy nok; geen enkel spoor, geen teken meer van ons ver oor die grens verspreide leër; nie eens 'n dowwe paadjie uit die harde aardekors geslaan deur die hoewe van kamele na eeue se kom en gaan van eensame swerwendes oor die woestyn na 'n verre oase waar die waterputte staan - met die vaal eensaamhede, soos 'n verskrikking van die wildernis, dit alleen; en die ewe vaal verlatenheid ewe eindeloos aaneen van die hoë, wye hemelboog, genadeloos-brandende, welwende oor ons heen. [pagina 3] [p. 3] Daar kom 'n einde aan die swaarste dag, want sy laatste lig sink weg, verdrink diep in die donker bron. Daar kom 'n einde aan die langste nag, want sy gesternte stort hulle in die blou afgrond van die son. Daar kom 'n einde aan die pad deur die woestyn. Selfs aan die woestyn kom daar 'n einde aan. Maar aan die klag van die wereld, aan die smart van die aarde, aan die menslike leed om die menslike lot, aan die honger van 'n ieder hart, die kreet van elke siel om eenheid en vrede op aarde, broederskap, geluk; dat elke skeiding, elke grens tussen mens en mens, die rasse en die volke sal val, verdwyn soos voor die son die wolke; en dat in hulle plaas eendag tog oplaas die Liefde vas en sterk sal staan soos 'n beeld uit klip geslaan (geen swakheid nie, teer en sag, maar 'n staalharde kern van krag) - hieraan, hierdie ou-ou pyn, hierdie verlang, hierdie droom, hierdie drang, ja, hieraan (of dit nou bedrog is of waan) kom daar geen einde aan, kom daar geen einde aan. Uys Krige Dibbandibba, op die Abessijnse grens, 2 Februarie 1941. Vorige Volgende