| |
| |
| |
Prevot van der Merwe
Die einde van die struggle
Die middag voor hy dood is, het hy weer vir Shanaaz gesien. Heel toevallig, en sonder dat hy in jare aan haar gedink het, die sexy skoolmeisie van die skool op die Vlakte, waar hy vroeër geproef het.
Die aanloop tot die onverwagte weersiens was Juffrou Toesie se video oor die aanval op Spine Road. Nou Spine Road onthou hy goed, 'n gewone township-skool in die Skiereiland, soos 'n honderd ander. Nie slegter nie, nie beter nie, 'n tweeverdieping-gebou op 'n paar duisend vierkante meter. 'n Skool wat beplan is om redelik ekonomies en redelik dienlik te wees, nie noodwendig onaansienlik nie, maar met heelwat brandwerende kitsbeton en gipsbord eerder as hout, waar die konstruksie dit enigsins toelaat, om moontlike brandskade te minimaliseer. Lelik, en hier en daar geplunder, maar eintlik 'n heel skaflike kompleks.
Met die proefonderwys in sy derdejaar het hy daar vir twee weke kritiese waarneming gedoen. Die personeel was gaaf, veral Juffrou Toesie, wat hom 'n paar Afrikaans-klasse laat waarneem het, sodat sy vir die seniors in die lab kon wys hoe om petrolbomme te maak.
Dan was daar daardie uitwaartse standerd nege-meisie-kind, Shanaaz, wat hom so laat rondtrap het met haar direkte bespreking van geslagsaangeleenthede toe hy een dag 'n Voorligtings-klas moes lei:
‘Jij vat 'n liter Coke, Meneer weet?’
‘Ja Shanaaz?’
‘Dan swirl jy hom nou so bietjie, vir die skuim sien?’
Hy 't maar sy kop geknik, nie eintlik wetende wat om te verwag nie. Die hans jongmeisie het ernstig voortgegaan.
| |
| |
Sy was besig met 'n deeglik voorbereide en kennelik nagevorsde groepbespreking.
‘Nou dan druk jy hom in jou doos op, en jy flush al die creepy-crawly's uit.’
Dit was een van die lesse wat Shanaaz hom by Spine Road geleer het, terwyl hy daar geproef het, 'n paar jaar gelede.
En toe kom wys Juffrou Toesie vanoggend die video vir die universiteit se studenteraad. Die video wat haar pa uit sy apteek in die winkelsentrum geneem het, in daardie tyd wat die Vlakte so gebrand het; die tyres, die skole, die emosies van die mense.
Op die film is dit dadelik doodduidelik dat die skool dolleeg is. Daar is nie motors van die personeel buite nie, die vensters wat heel is, is toe. Die hekke is gesluit met groot bronsslotte. Seker die soort wat ou Pat Rogers so treffend op die TV demonstreer, die Viro's wat die dinamietaanslae kan weerstaan.
Ietwat oorbodig, die kastige slotte, aangesien groot dele van die omheining platgetrap, weggevoer, of vir ander doel-eindes as die afkamping van 'n skoolterrein gerequisition is. Private enterprise.
Maar mens weet ook nie waar die Boere hulle inligting vir hulle kragdadige operasies vandaan haal, hoekom die aanval op Spine Road nodig was, was die teks van hulle meesterplan is nie.
Want op die film wat Juffrou Toesie se pa so lewensgetrou vasgelê het, ry Caspir op Caspir oor wat oor was van die armsalige hoofingang van die skool. Stroom daardeur dat die heining hop. Die voertuie word strategies opgestel rondom die Admin-blok van Spine Road Senior Sekondêr.
Dosyne pajama-uniforms onder perspex onlus-helmette swerm uit die voertuie uit, en omsingel die skoolgeboue.
| |
| |
Etlike traangaskannetjies word vanuit die pajama-linies op die niksvermoedende skoolgeboue afgevuur.
Onder dekking van haelgeweervuur, donshael, want die geboue word nie eintlik gemerk nie, beweeg die skoktroepe meedoënloos af op die magtelose skool. 'n Afdeling genie-ouens breek die kantoordeur oop met semi-koevoete, en die vreeslose bewaarders van die vrede storm die verlate gebou bine, knuppels in gereedheid, bloedlus gewek. Maar die aanval word netjies gedoen, sistematies en met dissipline, duidelik strategies en logisties haarfyn beplan, gerepiteer en uitgevoer.
Met die geleidelike besef dat die vyand die gevegsterrein klaarblyklik ontruim het, dat die weerstand nie net verkrummel het nie, nie bloot sporadies was nie, maar dat daar trouens niemand was om te weer of te staan of te enigiets nie, het die Boere netjies en onverstoord die voertuie weer bestyg, en agt swaar stelle Casperwiele het die skoolterrein se voorhek die finale nekslag toegedien.
Die slag om Spine Road Senior Sekondêr was iets van die verlede. Om sporadies voort te flikker op Apteker Toesie se sprekende, klankbaanlose filmiese argief.
Juffrou Toesie se video was die oggend by die SR se krisis-meeting, en die Mass Meeting was om twaalf. Dis daar waar die einste Shanaaz van die Voorligtings-klas van Spine Road van twee jaar gelede hom skielik byloop:
‘Hoe gaan dit Meneer? Onthou Meneer nog vir Spine Road?’
‘Shanaaz! Hoe lank is jy al op kampus?’
‘Ek het die jaar begin. Ek dag Meneer hou al skool?’
‘Ek doen 'n M. In Afrikaans.’
‘Ek sou dink Meneer sal eerder Sielkunde doen. Meneer is dan so goed met counselling. Ek doen Sielkunde. Ek stel baie in die siel belang, Meneer weet?’
| |
| |
Maar die marshalls het die mense in die groot saal toe begin stilmaak, stoele toe gestuur. Die vergadering sou in aanvang neem. Die protest meeting.
Maar met Shanaaz wou hy graag nog verder praat, die drade optel. Daar was net iets aan haar wat hom op 'n gut-level aangespreek het, iets onweerstaanbaar aan die donker, statige Moslem-meisie met die sardoniese, groot amandeloë.
Die eerste spreker was 'n rep van die stakende Spekenham-werkers, wat 'n beroep op die studente se solidariteit kom doen.
Hennie Olifant was 'n klein mannetjie, en hy het ietwat tentatief begin, maar toe hy eers aan die gang kom, vat hy die hele gehoor met hom saam:
‘Nou weet ek nie of die comrades Afrikaans praat nie,’ begin klein Hennie Olifant van Spekenham.
‘Ja,’ sê die comrades.
‘Ek weet nie of die comrades weet wat kry 'n slagter by Spekenham nie?’
‘Nee,’ sê die comrades.
‘Vier honderd en tagtig rand!’
‘Shame!’ sê die comrades.
‘In die week!’
Toe sê die comrades nie eintlik iets nie, want hulle was almal maar arm studente.
Op die gewone patroon het die vergadering gewissel tussen die rou aanklagte van uitbuiting, soos van die Spekenham rep, en die skyn van demokratise besluitneming wat deur die SR, die beheerders van die mikrofoon, gehandhaaf word. Soos alle Mass Meetings op kampus, eindig dit natuurlik met die ‘hek toe’ kreet, vir die gebruiklike peacefull protest en solidariteitsbetoning oor die nuutste onregte en brandpunte.
| |
| |
Hy het gesorg dat hy Shanaaz met die optog in die oog hou, en begin beplan hoe hy haar na die computer-lab toe kan lok, die paar woorde wat hy met haar in die saal gewissel het, was genoeg om die ou bekende onrus te ontketen, hy kon aanvoel daar is 'n buzz tussen hulle.
Die marshalls sien natuurlijk toe dat die protest ontaard. Goedgemikte klippe hier en daar, 'n paar plastiekdromme word brandgesteek, vir die nodige sielkundige en fotografiese effek.
En dit duur nie te lank voor die Boere byt nie.
Gewoonlik hardloop hy nie sommer vir die Boere nie, maar vandag was anders. Hy 't gehol soos 'n hygende hond.
Met die traangas het hy nog gestaan en sy Arafat-serpie om sy neus gewikkel, maar toe die rubberkoeëls uitgepomp word, dofsware plof van koeëls in die stof, het hy 'n strategie retreat gebeat.
Want vandag het die Boere verneuk. Mens verwag darem die gewone show of force, darem 'n vyf minute warning om te disperse, en dan gaan onderhandel die Rektor met hulle oor betreding van die kampus en sulke goed; maar vandag hat hulle sommer geskiet en gebatoncharge, sonder enige waarskuwing, en hy kon nie help nie, Shanaaz of te not, toe hy hom kry, het hy gehol.
Die struggle is ook nie meer wat dit was nie.
En vandag was hy boonop oorgehaal vir groot heldedade. Na die meeting, na die speeches en die theatre in die saal, na Dikini se gevoelvolle rendering van die bewese en bewoë ‘daar is kak in die land’, was hy gereed om ook sy deel te doen, saam te piepie in die pot.
Daar was heel gou polisie by die hoofhek, en die deur-verkeer voor die universiteit verby, is weerskante van Modderdamweg afgesper. Dit beteken daar was nie civilian targets, geel Transnet lorries, of gewone mense in Toyotas en
| |
| |
Volkswagens nie. Die drie geel polisiebakkies was legitimate targets, en vandaag was hy reg vir hulle.
Soos met 'n bestiering van Bo was daar 'n lekker gooibare klip op die teerblad waar hulle gestaan en toyi toyi en viva en rondkarring het, en die gees het hom gelei om die klip op te tel. 'n Lekker klip, 'n dienlike klip, swaarderig en platterig, wat goed gelê het in die span van sy voorvinger.
'n Vrot gooi. 'n Groot vlooi. Hy't amper die Rektor geraak. Own goal.
Almal weet die troepe is net vir die show. Dis die plain-clothes Boere in die ongemerkte wit Sierra wat mens optel. Soos vir arme Abdul 'n vorige keer. Hulle moet van videofilms af werk, en met verkykers verken, want time en again tel hulle die regte targets op, sif hulle tussen die massa die paar ouens uit wat regtig saak maak, die ouens met kop.
Maar hier is nou net 'n klop in sy slape en sy kop. En sy ore pyn van die koue.
Die man het hom duidelik getarget. 'n Groot bot Boer vol spiere en kliere. Die man het sy knuppel geswaai, en met 'n vaste sekerheid op hom afgeteiken. Die man het nie eers gestop om ou Piesang, wat gegly het in die gang, te skop nie, hy't op hom afgekom met 'n onwrikbare drang om te donder. Hy't gewag tot hy die rooi van die Boer se oë kon sien, en toe het hy gehardloop. Maar die Boer het aanhou kom, selfs deur die gang, en anderkant uit, oor die Freedom Square.
Dis toe dat hy besef hy is vandag in die gemors. En toe het hy begin bang raak, vol panic. Shit leer bid.
Die studentesentrum in. Met sy verbasend vinnige antagonis so 'n twintig tree agter hom, is hy by die swaaideur van die studentesentrum in. Verby die kombuis, vlak agter die verbaasde kokke verby, fok die kok (gebruiklike frase, die mag van gewoonte) en dit is toe hy by die vrieskamer ingehardloop het.
| |
| |
Laat hy my hier kom kry, ek is reg vir hom, het hy gedink. En hy het 'n kostrollie teen die deur gestoot en in die donker gewag, met sy hart in sy keel, die yskoue lug in sy longe. En gewag. En gewag.
Sewe uur lank nou al.
Dis koud hier, Braam van Wyk.
Dis stil. Geen blaartjie roer nie. Geslote, ten halwe die lyke. En die varkie, stil brommend van innig genot. Hele paar varklyke hang hier aan penne, ry aan die pen, en skape en beeste. Maar dis wragtag koud.
Flick 'n BIC.
Daar is 'n ligskakelaar, soort van in rubber verseël. Die deur van die vrieskamer is ook verseël. En daar is geen knip aan die binnenkant nie. Rot. Vasgekeer soos 'n rot. In 'n ys-paleis, vol visvingers, en prepacked vleis, en sinkbadgrote blokke ys. What a way to go.
Maar in volkome ooreenstemming met die absurditeite van die video van vanoggend en bisarre helikopscene vroeër: ‘GO BACK TO YOUR CLASSROOMS, GAAN NA JULLIE KLASSE TOE!’ sê die blikstem bliksem van die helikopter wat oor die skare mense by die hoofhek dwiep-dwiep-dwiep.
‘THIS IS AN ILLEGAL GATHERING, DIS 'N ONGEMAGTIGDE BYEENKOMS!’
Groot golwe lagbuie speel deur die aangesprokens. Vele vuiste met obsene tekens word helikopterwaarts gelig. Maar hy wonder of die helikopterboere die navrante humor in die situasie insien. Hy weet, met 'n week tristesse, dat die helikopterboere nie Magerfontein gelees het nie. Of Kundera, klippe teen tenks in Praag.
‘Die situasie is onder beheer, ons herhaal, die situasie is onder beheer.’
Wat sou McGyver gedoen het?
| |
| |
Natuurlik. Sy Switserse army-mes. If the blade does not say Victorinox it is not a true Swiss Army Knife. Gelukkig het Ashiek ook 'n mes in sy sak. Hy dop ywerig uit: twee vyftigsent-stukke, 'n pakkie klipharde Stimirol wat al 'n paar wasdae in sy jeans se sak deurleef het, toiletpapier vir tissues, en sy MES. ‘Made in the People's Republic of China’ staan daar op die lem, en ‘stainless steel’, maar dis 'n lieg, want die lem is woes geroes. Miskien kan mens dit nog met 'n olielappie afpoets, nou nie dat daar op die oomblik 'n olielappie byderhand is nie. Landgoed-olyfolie, PAARL staan daar op 'n paar vyfliter plastiekkanne in die hoek.
Die mes word flink aangewend op die deurskrefie waar die slotmeganisme vermoedelik is. Wikkel-wikkel, girts-girts, en tjips, daar breek die ‘stainless steel’ lem, so skoon soos langs 'n voeg. Smal swaard en blink.
Small, Brink. Bleddie kombuismuur van die pes. En in my hand was my kitaar. Kô, lat ons sing.
Jy in jou klein hoekie, en ek in my glory.
Prepare to meet thy doom, ‘religious fanatic in 'n Don Martin cartoonstrip.
When in heat strip. Ancient made in chinese proverb. Te koud om te strip, catch your death of a cold.
Die dood begin by die voete. Die voete is te geheim om pyn nie te voel nie. Om puin nie te fool nie.
Die dood kruip nader, Adriaan Hugo, Gerrie Radloff. En genote, notarisse en akte-besorgers. Boedelbeplanning, boedel oorgee. Wat nou weer? O ja, hy dink weer aan die noodsaak vir 'n TESTAMENT. Waarop kan hy dit skryf? Nie eintlik wit papier nie. Net plastieksakke. Maar Ashiek is nie 'n man wat hom maklik laat afskrik nie. 'n Boer maak 'n plan (se moer). 'n Man maak 'n plan. Daar is groot vlakke witgeverfde sementure, en die swart van sy skoenrubber
| |
| |
maak redelik leesbare strepe daarteen. Dit sal nou wel beteken dat hy sy skoen sal moet uittrek. Nee. Frostbite. Dan hou hy maar sy skoen aan en begin sy testament teen die muur skop. Met die eerste ‘laatste wil en testament’ hier op heuphoogte gaan dit nog skaflik, maar met die eerste ‘nademaal’ gooi hy handdoek in. 'n Handdoek sal nogal goed te pas kom nou, dink hy, as mens dit nou styf om jou kan draai, so 'n lekker groot donsige strandhanddoek soos hulle daar in Shoprite gehad het, maar toe vergeet hy al weer die handdoek, en nou steek sy gedagtes vas by die Deli-toonbank in die winkel. Gerookte vleis. Spekenham. Olifantvleis. Maar hier is baie vleis. Hier is stapels en stapels hamburger mix, maar miskien is dit nie gesond as dit nie gaar is nie, en dit voel ook so bietjie onaptytelik as dit so bevrore is. Wat kan brand? 'n Lekker braai? 'n Burger gegrill op 'n Bic? Vrieskamerweer. Maak mens moeg. Roep iemand. Maak alarm. Maak mens warm. Make love not war. Maak nie mooi nie. Maak nie saak nie.
Saam met catering grade bulkback frozen vegies, strictly halaal, struggle Ashiek al hoe minder, die ysige asemteue word al minder aantreklik vir sy brandende yskoue longe, om net te slaap word onoorkomelik aantreklik. Wat is die slaap 'n wondersoete ding. So warm soos Klara Majola. Want groter liefde het niemand nie, as dat hy sy lewe gee vir sy vriende. Sy enig gebore seun gegee het, gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe.
Sy NAGESLAG. Hoe kan hy sy nageslag verseker? Shanaaz is op die pil, so die kanse dat enigiets wat hy met haar kon regkry tot iets kon lei, iets kan oplewer in die lyn van die voortbestaan van die trotse naam van Falkier, is skraal. En o koud is die windjie, en blink in die doflig en kaal. So wyd as die Heer se wye en droewe land. What might been.
| |
| |
Wat sou kon word. Wat wou hy hê moet word? Wat het hy verwag van die lewe? Write a book, plant a tree, father a son? Wie was dit? Hume, Locke, nee, James Hunt. Maar dan skiet 'n briljante ingewing hom te binne. 'n Skietseltjie semen sal in die higiëniese toestande in die vrieskis seer sekerlik behoue bly. Hoe doen hulle dit by spermbanke, after all. Druppel, die salf van eie gom. Maar hy sal iemand daarop moet attent maak. 'n Kodisil by die testament? Hy begin angstig losknoop, vroetel onderlangs, maar die aanslae van die temperatuur is te veel vir die armsalige manlike lid om kop uit te steek. Vinnig verbleek dit tot rape in die kou.
Komas. Kommas ,,,,,,
Dis 'n slang in die gras, dis 'n vallende traan.
Dis die einde van die struggle, dit voel so; dit voel so soos... niks
|
|