| |
| |
| |
Hoofstuk XVI.
Grikwa-Preek. - Kleopas Kipie.
Padlangs van alle kante stroom toe Grikwas, Basters en Hotnots, om die predikasie van Kleopas Kipie by te woon. Sommige slaan voet, party ry te perd en ander kom met waens en karretjies aangery - die karre is soos katteneste ingepak met mans, vrouens en kinders. Platjie voel beter en het verlof van sy baas gekry om sy beste pak klere daar te gaan vertoon.
Kleopas Kipie gaan sy sitplek by 'n tafeltjie onder die groen bome inneem Hy stap so regop, asof hy 'n laaistok ingesluk het, sy gesig is ernstig en so stroef as 'n droë rosyntjie, terwyl hy nou en dan sy mond op 'n tuit trek asof hy vuur wil opblaas. Hy staan van sy sitplek op, druk met die toppe van sy vingers op die tafeltjie en kondig aan dat hy vandag nie 'n gereëlde preek sal hou nie; maar dat hy sy hart wil lug gee deur die skroef effentjies aan te draai. Maar môre sal hy vir hulle preek, dan sal hy hul die koppe goed was, sal dan harde woorde moet gebruik, wat net soos kalk en swawelwas op 'n brandsiek dier sal jeuk, en as hul nog nie wil
| |
| |
voel nie, sal hy terpentyn daarby gebruik. Daarop begin hy deur te sê:
‘My geliefde broeders en susters, die woorde waaroor ek julle wil roskam is: Die mens raak gedaan; maar die werk nooit nie! Luister goed en spits julle ore. Hoekom raak die mens gedaan? Waarom raak die werk nooit gedaan nie? Sal ek vir julle sê? Dis omdat die mens vir die deugdelikheid sê: Voertsek! Dan dros hy weg na die boosheid toe om by sy vuurmaakplek te gaan sit. Vroe, vroe sal jul julle druiwesop teëkom. Want die deugdelikheid is nie somaar hiernatoe se goed om wegkruipertjie mee te speel nie. Kyk, jul wil nie die reguitpad koers nie. Nee, jul wil altyd om die bos spring. Sê nou, die deugdelikheid spring ook anderkant die bos om en jul loop daar agter die bos bors aan bors. Sê, wat bly van jul daar oor? Ek sê: net 'n nat kolletjie. Nou, waarom nie plakamoeka op 'n drafstap in die reguitpad nie? Aai, en as die deugdelikheid vir jul so breek geloop het, sal hy soos watter uithaler man met sy kraakstewels van jul wegstap. Nou jul kry lekker in julle hart as jul met die boosheid arm aan arm langs sy vuurplek sit om die deugdelikheid met julle strykyster-voete te vertrap. Maar die boosheid is nes die blinkleer-stewels: hy blink en lyk fraai, maar binnekant hy druk seer en druk julle tien skilpadkoppe plat. Aai, waarom so? Maar dis hoeka se dinge, nie van vandag
| |
| |
af nie. Nou ek sal die boosheid van julle harte hierso voor julle oë vir julle poedelnakend uittrek.
Die eerste kwaad is die Dronkenskap. (Ou Karools fluister in ou Samel se ore: Ek voel hy mik na my lyf toe). Julle klipkoppe en staalharte, luister as ek julle gemoed-snare toedruk en aanstryk. Jul sal wurg, maar nog nie dood nie. Sê vir my: Waar kom die dronkenskap vandaan? Ek sê van die wyn of van sy wasem, nè? Waar kom die wyn vandaan? Van die druiwe, nè? En waar kom die druiwe vandaan? Van die wingerdstok, nè? Nou luister baie mooi. Kyk, die wingerdstok se hout is bros en krom: jy kan nie maak die wa nie, jy kan nie maak die kierie nie, ook jy kan nie maak die bak nie van hom. Sy hout is net vrot, en baie goed om die vuur mee te maak! Maar net die groot kwaad lê by die sop.’ (Die volk roep uit: ‘Ei, die sop, die lekker, lekker sop!’)
Kleopas bly tjoeps stil vir 'n rukkie, want hyself kan die wingerd goed swawel. Maar hy hervat weer: ‘Die sop, hul laat hom in die vat broei, dan kook hul dit, dan loop die wasem deur die krom koperslang, en as jy hom drink, laat die wasem vir jou net sulke kort katswinkdraaie maak.’ (Die volk kreun weer: ‘Die wasem, die liewe, vrolike wasem!’)
Kleopas hervat die woord: ‘Die meid, sy drink saam. Die man drink baie. Hy laat die reguit-pad staan.
| |
| |
Hy vat die krap se pad - hy loop só, dan hy loop weer só - vooruit en agteruit, hy trap netnou sy broek, hy val.’
Ou Karools spring op en sê: ‘Laat ek hom antwoord!’ maar ou Samel trek hom aan sy baadjie neer en sê: ‘Sit’, waarop Karools sê: ‘Waarom troef hy my dan alleen?’
Kleopas bly aan die woord: ‘Jul bly nie by plesier alleen nie, maar jul soek die skoor, baklei, lieg, slinger klippe en knope na mekaar se koppe. Jul sien die regte slang, hy seil ook die krom pad, maar hy gaan sy aardse rus onder 'n bos soek - julle nie - julle gaan somaar op die oop vlakte rus soek, waar almal jul kan sien.’ (‘Ei, het ons nou maar daardie lekker lyf!’ roep 'n paar stemme).
Kleopas laat hom nie steur nie, maar gaan aan: ‘Val-val slinger jul huis toe, struikel oor die drumpel, rol binne in die pondok en sê aan julle meide, wat lankal wag: “Vrou, hier is ek, tuis!” - asof dit so 'n danige blye tyding is. Met die val binne toe in die huis, het die onderdeur die hen met kuikens dood geklap. Die meid raas; julle slaan haar; die kinders tjank, jul moeker onder hul. Almal in die huis is wakker van daardie rumoer. Jul breek die bord, jul breek die kommetjie, jul rol oor die emmer met melk, die melk stroom.’
Weer spring Karools op, maar nogmaals pluk Sa- | |
| |
mel hom aan sy baadjie om te sit. ‘Nou waarom moet hy gedurig op my skimp?’ brom Karools.
Nog aan die woord, vervolg Kleopas: ‘Soos jul drink dan julle is siek, jul bly van die werk af; die baas raas en takel jul dat die donse en vere van jul waai, maar jul hoor nog nie.
Kry jul nie die lawaaiwater nie, dan pak jul die daggapyp om jul kroeserigheid plat te stryk; maar netnou voel jul nog 'n keer so sleg.’ (Karools is weer op sy twee balke en sê: ‘Nou verdra ek dit nie meer langer nie - laat ek hom antwoord.’ Samel ruk hom plat dat hy so hik).
Hier vat Kleopas 'n slukkie water en begin weer: ‘Geliefde broeders en susters, nou kom ons tot die twede punt; ek sal die dronkaards los en praat met die, wat aldag 'n ander vrou, of man vat, deur hul eie weg te gooi.’
Hierop skree Karools hard uit: ‘A, Eerwaarde, los vir my en gee vir oom Samel ook 'n bietjie!’ Ou Samel, wat te donker van kleur is om te bloos, raak verleë, want almal ken sy looppaadjies. Wanorde volg deur die gemompel. Kleopas het dit nie persoonlik gemeen nie en die ou se kompas staan net stil. Maar hy kom tot verhaal en vervolg: ‘Foei, foei! Waarom knoop jul so onder mekaar? Dis 'n plegtige oomblik en alles het sy tyd.’ (Waarop 'n stem volg: ‘Net as
| |
| |
'n springertjie jou byt, moet jy gou wees om hom te vang!’)
Kleopas Kipie bly aan die woord: ‘Bedwing julle, hou julle monde in toom. Moenie tog duur woorde gebruik nie, as jul met goedkoperwoorde kan klaarkom nie.’
Intussen het een hond na die ander tussen die toehoorders begin rondstap. Hul snuffel hier en daar, beruik mekaar, knor, spring mekaar in die keel, meide rumoer, volk skop die honde uitmekaar, kinders grens, honde tjank en waar is nou die end van die bombarie, wat opgeskop word! Maar met behulp van kieries en klippe het hul daarin geslaag om die honde te toon dat hul nie in 'n kerk behoor nie - behalwe één grou steekbaard wat bly staan en volle aanspraak maak op die reg om alles degelik te mag beruik en daarvoor het hy tyd nodig. Toe hy nog hieraan en daaraan ruik, kom een van die volk stilletjies op die puntjies van sy voete, maak die hond skrik en sê: ‘Voert! sal jy buite!’ ‘Hou, hou!’ blaf die hond van skrik. Maar die jong het nog erger geskrik, want hy het onkristelike woorde gebruik. Die hond spring egter weg, maar die meide en kinders kik-kik van lag en die volk rol van plesier.
Kleopas staan hul so bedaard aankyk en sê: ‘Ek berispe nog, toe word weer geknoop, en wel so'n taaie maswerkslag-knoop, dat die knoper dit self sal swaar kry om dit te ontbinde. Foei, foei!’
| |
| |
Die knoper sê: ‘Eerwaarde, ek was benoud geskrik en dit was maar net 'n aanroeping in die dag van my benoudheid.’
‘O, so,’ hervat Kleopas, ‘dan reken jy dat jy lisensie uitgeneem het; moet jou mond in die toom hou, maar pas op, dat niemand die teuels in hande kry nie, anders ry hy net jul reguit verderf toe, so dat die skuim van julle afvlie.’
'n Stem roep: ‘Ek het mos nie hande agter my rug om myself te ry nie.’
‘Wel, gee die teuels dan in hande van jou vrou, dat sy jou kan ry,’ was die vervolgrede van Kleopas. ‘Julle moet waak; selfs as jul slaap, moet jul soos hasies met die een oog oop lê loer.’
Weer 'n stem: ‘Vlug is beter; maar begin intyds!’
‘Nou het ek klaar om jul ook oor die vloekery te kapittel, nou sal ons weer aan die diewe se doppe krap. Te lui om te gaan werk, gaan jul in plaas daarvan die Boer se vee steel. As jul vir julle kom kry, maak jul skelm planne; kom jul weer vir julle kry, stap jul kraal toe; kom jul weer vir julle kry, klim jul oor die kraalmuur; kom jul weer vir julle kry, vang jul die skaap; kom jul weer vir julle kry, pak die Boer vir julle agter die nek en bring jul tronk toe; kom jul ten laaste vir julle kry, waai die kats en jul binde weer duur knope. Moenie dink nie, jul sal die straffe voor bly nie. Nee,
| |
| |
die straf is soos 'n brakhond op julle spoor en voor jul nog kan omkyk, pak hy jul agter aan julle sitplekke en skeur die klere skoon weg, sodat al die mense vir julle kan uitlag. Die straf sal jul braai soos 'n mens 'n voëltjie in die spit oor die kole braai. Dis nie om te altemitters, of om te hiernatoe, of om te daarnatoe nie - dis so seker as tonteldoos en vuurslag broers is. Nou sal ek een vir een straf aan sy agterpoot vang en dit bors aan bors voor julle stel. Kyk, die jakhals, hy vang julle skape. Laat hy daarvan een stukkie vleis vir julle? Wil jul snags slaap, dan word die kindertjies gebyt, die muis het die soekkerse opgevreet en waar is dan slaap vir julle? Die slang kom julle meer beterste broei-henne doodbyt, en slaan jul na die slang, kaplaaks! slaan jul al die eiers dat hul spat. Hang jul julle wasgoed uit om te droog, dan vreet die beeste die meer beterste daarvan op. Kook jul seep van die vet, wat jul uit julle monde gespaar het, dan val julle kinders in die warm seeppot, smyt dit om - die kind is verbrand en die seep lê in die vuur - die vet het gedaan, die kind het gedood. Sit die man skoene regmaak, suip die kalwers uit. Was die vrou die kind se klere, dan brand die kos. Koop jul stewels, dan kwel die stewels jul, tot julle voetvingers vooruit steek. Wil jul heuning eet, steek die bye jul.
Kom erken nou, waar is nie straf nie? Erken ook,
| |
| |
die mens, hy raak gedaan. Hoe nou gemaak? jul kan nie die mens bring by die timmerman om weer vir hom reg te timmer nie; jul kan nie vir hom bring by die smid om hoepels om hom te trek nie; jul kan hom ook nie bring by die oorlosiemaker nie om sy draad op te wen nie. Nee, ook jul kan hom nie slagter toe bring nes die bees nie.’
Hier vat hy weer 'n paar slukkies water en sit sy rede voort: ‘Broeders en susters, nou kom ons tot die woorde: “maar die werk raak nooit gedaan nie”. Jul sien, die werk is soos Grootrivier, jul sal hom nooit met die lepel leeg skep nie. Jul eet, jul kry weer honger; jul drink, jul kry weer dors; jul was, jul word weer vuil; jul maak die klere heel, die bossies skeur weer vir hul flenters. So weet, jul werk, julle ouers hul werk; julle groot-groot-ouers almal het gewerk, en nog die werk is baie en het niks minder geword nie. Kom, sê julle nou vir my: Waarom raak die werk nooit gedaan nie?’
'n Stem: ‘Watter Duisman het ooit 'n Hotnot rus gegun? - al stuur hy hom maar net om die hond te gaan was.’
‘Nee, nee!’ brul Kleopas met 'n kopskudding, ‘as die mens hierdie lyf van hom nie gehad het nie, het hy ook nie nodig gehad om te werk nie - hy moet vir sy mond en lyf werk dat die sweet hom so aftap. Alles is goed gemaak. Wie kan sê hierdie ding is voortrefliker
| |
| |
as daardie ander; wie kan sê: die son is beter as die maan?’
Hier skree Platjie uit: ‘Ek sê, die maan is beter as die son, want die maan skyn snags as dit donker is; maar die son skyn in die dag as dit lig is.’
‘Dis eenkant waar,’ vervolg Kleopas, ‘maar wat sê die broedertjie van die sterre dan?’
‘Hm, hm!’ maak Platjie keelskoon, ‘die sterre is net daar om die maan uit die slaap te hou.’
‘Goed, goed,’ bly Kleopas aan die woord, ‘maar julle moet weet, dat alles wat jul sien, uit niks gemaak is. Sien julle daarvoor kans om iets uit niks te maak?
Ou Darries rig hom regop in sy stoel, slaan sy twee bene oormekaar, vou sy arms en antwoord: ‘Ja,... as ek die vernuftigheid en begrippelikheid daartoe het, sal ek dit ook self kan gedoen het.’ ('n Stem: ‘Raak skoot, goed gekorrel!’)
‘Wie het die wêreld geskape?’ brul Kleopas met luide stem uit toe hy met 'n tuitmond trots rondkyk.
‘Ek, Eerwaarde, maar ek sal dit tog nooit weer doen nie,’ gee een wat geslaap het, antwoord, want hy dink dat gevra is: wie het daar geslape?
Kleopas gaan steeds voort: ‘Die werk raak nooit gedaan nie; want alles wat die mens maak, krummel flenters en raak tot niet. Kyk maar wat Moses daarvan gesê het....’
| |
| |
Een van die Boere, wat net daar teen 'n boomstam kom staan het, roep uit: ‘Hoe durf 'n bruin man vir 'n wit man somaar by sy naam noem? Kan jy nie Baas Moses sê nie?’
‘Ekskuus meneer,’ pleit Kleopas om verskoning. ‘Ek het oorlede seur Moses gemeen; 'n perd met vier pote struikel wel, hoe sal 'n mens met één tong vry kom? Maar, my geliefde broeders en susters, ek moet sluit. Ek praat my tong droog in my keel om die stroompie van julle gedagtes te lei. Maar die stroompie gedagtes is sodanig klein en dan vloei dit nog deur baie rotsagtige en onvrugbare grond. So laat ons maar die kerk onder die twede gesang laat uitgaan.’
Daarop stap hy reguit na die wa toe waar Koos Fonk nog die hele oggend besig was om met enige Boerefamielies te handel.
Tomas kon by hierdie diens nie by gewees het nie, daar hy berig ontvang het dat die wilde Boesmans van sy skape afgekeer en daarmee ontvlug het. Rosa egter was saam met haar dogter by die diens en het dit so aandoenlik gevinde, dat jy al twee in hulle trane kon was.
‘Og, ek kan so aan die Eerwaarde se voete bly sit het om die ongekunstelde waarheid steeds aan te hoor. Alles wat hy gesê het, is tog so waar,’ merk Rosa op.
|
|