| |
| |
| |
Hoofstuk XIII.
Tys Bokkies.
Met dagbreek jaag Koos Fonk vir Platjie en Samuël uit hulle warme neste om na die osse, wat hul die aand tevore nie aan die jukke vasgemaak het nie, te gaan soek. Hy voel toe net nukkerig en vertel hul: ‘'n Mens kan nie 'n bietjie sy rug draai nie of julle verwaarloos julle pligte. Kyk, watter plesier het ek julle gistraand gegee, en kyk nou watter onplesier en verdriet gee julle my nou vanoggend. Kom sê: Is dit reg van julle? As ek nie so verdrietig gevoel nie, dan steek ek julle vanoggend onder die sambok, dat die nerwe van jul vlie en dat jul vir die eerste ag dae nie sal kan sit nie. Toe loop en netnou-netnou moet julle hier met al die osse wees. So nie, dan sal ek op julle asplek vuur maak. Hoor, praat se tyd is nou verby.’
Met 'n skuldige gewete stap die twee weg, met die plan om fluks te wees en netnou met die osse terug te kom. Koos is ook gerus, want sy osse is ook nie plaerig om weg te loop nie.
Terwyl daar soveel kos van die vorige aand se fees
| |
| |
oorgebly het, het oom Willem vir Koos Fonk laat vra om maar die oggend daar by hom in die hartbeeshuis te kom eet. Oom Willem en Koos staan nog te gesels, toe roep die tante al oor die onderdeur om te kom eet. Waarop oom Willem antwoord: ‘Wag 'n bietjie my ouvrou, moenie so haastig wees nie. Ek sien daar twee persone in die pad aankom, ons wil eers kyk wie dit is.’
Die ou tante bly ook oor die onderdeur staan en kyk, en meteens begin een van die twee te sing:
Daar onder in die Paddas Vlei
Daar het 'n mooie meisie gebly;
Die tante roep toe weer: ‘Og, kom eet maar, dit is net die ou spektakel van 'n Tys Bokkies met al sy pamperlangstreke.’
Daarop sê oom Willem: ‘Nou kom, neefs, laat ons maar loop, want julle weet dis maar die siekte van die vroumense oor die hele wêreld: as die kos koud word, dan word die vrou warm.’
Tys Bokkies was een van die Hotnots, wat ook nie veel van werk gehou het nie. Hy was ook een van die soort, wat nooit vir werk skrikkerig gevoel het nie; daarom kon hy so gemaklik by die werk gaan sit dagga
| |
| |
rook en dan hom skuins op sy sy neertrek om te gaan slaap. Sy gewoonte was om nie langer as twee of drie dae op een plaas te bly nie en raak dan daar somaar nes 'n groot speld weg. Hy gaan vanself kastag saam by die ander volk werk, net vir kos, drank, tabak en 'n stuk ou klere. So is dit nie ongewoon nie om ou Tys Bokkies met 'n afgedraagde broek, 'n manel, wat 'n groen skyn kry, 'n verslyte swart pluishoed en 'n paar kapstewels, wat net kan kraak, te sien rondstap. Het hy 'n stuk klere gekry, dan is hy daarmee nie tevrede nie, maar bly in die deur staan en gaan daar nie weg alvorens hy sy sopie gekry het nie. Ja, dan eers stap hy werk toe. Maar in plaas om die werk te bevorder, hou hy met sy kakkerlakstreke die volk nog meer daarvan af. Hy sit dan nie sy hand aan die werk nie, voordat die baas hom onder die kluite gesteek het. Niemand egter het daar iets kwaads van gedink nie; want almal het ou Tys Bokkies geken, en geweet dat jy van 'n aap nie 'n sedige mens kan maak nie.
Pas het oom Willem met sy lang tafelgebed begin, of daar klink en dreun dit voor die voordeur soos ou Tys gesels. Hy draai getroos die bo-deur onder die gebed oop, steek sy ou bossiekop oor die onderdeur en blêr hardop uit: ‘Môre baas, môre nooi. Hoe gaan dit met julle Duisvolk hier op Gansmond?’
Toe oom Willem ‘Amen’ sê, roep die ounooi uit:
| |
| |
‘Kyk, Tys, loop agter om, of ek klap die voordeur in jou bek toe.’
‘Ja, ek sal loop, maar julle kan tog darem eers vir 'n mens môre sê en vra: Hoe gaan dit?’
‘Nou ja, môre ou Tys; dit gaan hier nog alles goed, hoe gaan dit met jou?’ sê oom Willem.
‘Met my gaan dit soos 'n halwe hond - op twee bene.’ Daarop trek hy die bo-deur toe en stap om kombuis toe. Onderwyl sit die geselskap oor ou Tys se apestreke te lag.
Terwyl hul nog van hom sit te gesels, steek hy weer sy peperkorreltjie kop by die middeldeur in en roep uit: ‘Arrie, julle Duisvolk eet lekker speenvark en hoenders, en wat kry ou Tys dan?’
Die ounooi sê: ‘Jy kan die vark se neus en stert kry,’ waarop ou Tys antwoord: ‘Dis ook goed, want ek word mos altyd afgeskeep.’
Na die ete stap die mans smouswa toe. Ou Tys was gou by en gaan met sy blikskottel vol beentjies, wat die ounooi hom gegee het by die voorwiel van die wa sit, en kou een vir een beentjie af net soos 'n bobejaan dit sou doen.
Nie te lank het hy aan die beentjies sit kou nie of hy skree: ‘Toe, smous, het jy nie 'n bietjie lawaaiwater nie? Gooi jy dan nie eers 'n mens se lewer 'n bietjie nat nie?’
| |
| |
‘Nee ou Tys, jy kan maar gaan water drink om jou lewer mee nat te spat,’ sê Koos Fonk.
‘Nee, bog! Ek wil van die water drink, waarin nie paddatjies hou nie,’ werp ou Tys teë.
‘Nou goed, Tys, ek sal jou gee, mits jy vertel ons eers waar jy nou vandaan kom en wat jy daar gedoen het.’
Toe ou Tys dit hoor, gaan sy tong los en die ou vertel net mooi: ‘Ek kom nou van ou Alexander Klipsalmander af, van Drink-my-droog. Dan roep hul die plek nog Paddasvlei, net glo omdat daar g'n water of melk is nie - wat nog eers van 'n hartversterkertjie te praat! Ek vry mos na die ou se dogter. Arrie, dis rê-rê 'n agtermakwarie jong meid. Maar daardie lamlendige ou jong, ou Adam Kwartel, pla vir my net baie daar. Hy hou hom mos ook verspot wollerig om agter my hartlam aan te snuffel. Maar ek is vanself 'n rappad Hotnot en gou-gou sal ek hom snuif in sy oë blaas. As hy met my te doen kry, sal hy moet weet met watter uithaler oom Jannie hy te doen het. Die ou is so doof as 'n kwartel; as ek en die kleinmeid lekker wil gesels, prop die ou sy wolkop tussen ons gesigte in, net om af te luister wat ons gesels. Nou, oubaas, op hierdie manier word my plesier mos die stert afgekap. Ek is self 'n verkeerde harslag, maar wie wil nou so onbeskof wees om voor 'n kleinmeid
| |
| |
spektakels en struwwelings te soek om by haar in die vaalwater te kom? Maar ek speel aap-aap met hom; want ek sit hom vertoorn en hy sit dan lelike bakkiese te trek. Dan sit die ou gevaarlik diep te dink, maar van daardie diepdink het nog niks gekom nie. Die ou raak dan so bevoeterd, dat hy die twak in sy vuurhoutdosie stop en dwing dan om dit met sy pyp aan brand te steek. Dis almal ergernis, wat ek hom aandoen; want ek is 'n doring om te vertoring. Hy, wat Adamgoed is, sal ook nie verder met die uitspook van die ja-woord vorder nie as 'n vlieg, wat vas in die stroop sit sukkel. Hy is, by my siks, tog te veel van 'n lelikerd, want as hy in die porsleinkas inloer, vlug die breekgoed vir hom, dat die spaners waai. Maar wag, as ek rê-rê my vere gaan reg skud, dan sal hy druipstert moet hakskeen wys. Ei, ek is mos self 'n agtermakwarie Hotnot, wat nie nodig het om my hoed vir enig een in die oë te trek nie. En dan sal die ou self moet erken dat daar moesoek bo moesoek, en rissies bo peper is. Gou-gou sal ek hom bo op die stofrakke bêre en dan is dit neusie-verby met hom. Kyk, oubaas, jy hoor ek praat die hele saak net kaal - net soos hy is - sonder om daar doekies om te draai. Laat hy dan vanself kenta word en met die ding uitskei. Ek is mos Alkiester Alkaster: waar ek vat, daar buig dit, en waar ek trap daar dreun dit! Ek is die laaste persoon om vir myself
| |
| |
blink te wil maak deur 'n ander met potswartsel onderdeur te spring. Nee, my oubaas, daarvoor is my bloed nog baie jong en te trots. Net soos ek lekker agter die kleinmeid se blad sit, kom die ou peuter, en wie kan nou só lekker gesels? Ek sê, hy moet tru staan, maar hy verseg dit en bly ons met sy uil-oë aankyk. Maar, my basies, 'n meisiemens het mos baie planne; sy roep hom opsy en vertel hom dat sy lekker met hom wil gesels, maar vanaand is daar nie kans nie, hy moet maar môreaand kom. Die ou is kapawel dom genoeg om dit alles vir heuning op te eet en hy staan oeit huis toe. Toe kan ek eers lekker my slag slaan. Net so gou as jy sê: mes, sit ek buite teen die pondok agter die kleinmeid se blad. Maar dit is vervlaks net verniet, dat die kleinmeid wil toelaat dat ek my hand om haar nek mag sit om haar te soen. Sy boener my aljimmers met haar ellemboog weg. Al die tyd lê ou Alexander en ou Saartjie in die pondok ons afluister. Naderhand, toe die ou my gesoebat nie meer kan aanhoor nie, skree hy van binne af: ‘Fytjie my kind, moenie jou so iesiggrimmig nes 'n broeis hen hou nie! Sal jy stil sit, dat Tys aan jou kan vat en vir jou soen! Wie het jou so onordentelik geleer?’ Nou kan jul self hoor dat die ouvolk op my hand is. Daarop het alles toe orrelstryk gegaan. Toe vat ek my kans om die raakwoord te stoot, waarop ek die ja-woord terug ontvang. Toe kom, nou
| |
| |
moet ons eers die kleinmeid se gesondheid drink. Toe, toe, skink sonder verder praatjies te maak.’
‘Dis goed, ou Tys,’ sê Koos Fonk. ‘Ons sal eers jou gesondheid drink, want jy het dit eerlik verdien; maar voor ons die kleinmeid se gesondheid drink, moet jy ons vertel hoe jy haar gevra het.’
‘Nee, nee. Moenie so baie praatjies hê nie. Van al die uitvra is die tronke vol. Skink, laat ek drink!’ Daarop kry hy sy snaps en toe word die ou eers spraaksaam en vertel:
‘Ag my liefste Fytjie, ek is 'n jonkman van plesier, en te danig aanskouelik in jou oë. Nou met alle eerbiedigheid en voortreflikheid verklaar ek - net soos ek voor jou staan - dat my liefde vir jou eers tussen die klofies en rantjies van my hart vasgekeer was; maar nou dwaal dit manmoedig op die oop vlaktes van my hart, die liefde vra net: waar is Fytjie Alexanderse. Met alle beskeidenheid, slaan my hand tog nie af nie. Ag, hartlam, praat gou want ek woon ver. - Toe sy so haar ken op haar bors laat val, gaan ek my vlak voor haar presenteer. Ek gooi die hot voet voor, buig my en vat met my regterhand aan my bokbaardjie en praat ewe verlief weer: Nogmaals met alle ordentelikheid en fatsoenlikheid, seg my of ek vanaand te wete mag kom of ek die naaste aan jou hand vir 'n huwelik staan. Jy weet, Fytjie, my hartlam, my hart klop vir
| |
| |
jou nes 'n nat lap. Nogmaals, praat gou, want ek voel moedersiel alleen in die wêreld! - Sy sug, tel haar kop op, staan op, vat my om die nek, soen my en sy sê: Tys, jy weet ek het jou lief, my hart roer vir jou soos 'n skaaplammetjie sy stertjie.’
Koos merk op: ‘Ou Tys, moet jy dan so 'n lange predekasie maak om 'n kleinmeid te vra?’
Waarop Tys antwoord: ‘Aai, seurtjie, dis nie somaar hiernatoe se dinge daardie, om 'n kleinmeid te vra nie - dis nie 'n sopie of twak bedel nie. Nee, dit gaan so by die dood af. Dis makliker om 'n springbesie aan sy agterpoot te vang as om die jawoord uit 'n kleinmeid te kry. Ek het net my teks agtermekaar moet sit en toe leer, eer ek kan vra, want 'n kleinmeid vang mos al jou vra-woorde op, wat haar gemoeds-are toegedruk het. - Maar kyk, nou het ek my gesondheid gedrink en nou moet ek weer my Fytjie se gesondheid drink. Kom, kom, waarom laat jul 'n mens so baie aan julle vir 'n sopie lek?’
Waarop oom Willem tussenin kom: ‘Nee, wag net 'n bietjie, jy het netnou 'n flukse snaps gehad, vertel eers vir baas Koos hoe jy aan die naam van Bokkies gekom het.’
‘Arrie! begin oubaas alweer! Nou ja, laat ek maar vertel, want ek is mos van altyd af die uil van hierdie plaas gewees.’
‘Nou toe dan, ou Tys,’ sê Koos Fonk, wat al die
| |
| |
tyd met die karba asyn in die hand staan. ‘Kom, vertel mooi, dan kry jy hierdie slag net 'n groot dop wyn.’
Daarop val ou Tys weg: ‘Julle Duisvolk wil mos altyd met ons Hotnots jil en die spot drywe. Nou ja, ek sal jul die ding net kaal vertel. Ek was één aand met die volk op die Calvinia dorp, en na ons baie aan die druiwestok gemelk het, hou die volk by my aan dat ek eers soos 'n haan moet kraai. Al die hoenders in die dorp begin saam te kraai. Daarop dwing hul weer dat ek nes 'n bok moet blêr. Al wat van hierdie ding geworde het, is dat die bokke nie wil saam blêr nie en toe ek my kom kry, stap die konstawel met my baadjie se kraag in sy hand en lei my tronk toe. Van daardie tyd af roep hul my Tys Bokkies.’
Koos Fonk gee die ou toe 'n beker vol asyn. Al die bystaanders maak hul klaar om nou lekker te lag, maar ou Tys drink dit uit sonder 'n mond te trek.
Koos Fonk vra: ‘Wel, ou Tys, hoes maak die wyn vir jou?’
Ewe stemmig antwoord hy: ‘Maar seur, ek sou darem sê dat die wyn so 'n klein krakie weg het.’
Daarop sê oom Willem: ‘Nou toe, nou het jy al genoeg slim praatjies verkoop, nou kan jy die klein-baas en die volk gaan help om die lammers te merk, daar by die skeerhok in die kraal. Of het daar 'n misdruk
| |
| |
in jou tien gebode gekom om net ses dae te rus en een dag te werk?’
‘O so, dan wil jul my nog meer werk gee as ek reeds gedoen het: al die kraalheinings op Gansmond het ek gepak en daarvoor moes ek amper al die doringbome afkap. Al die bogkinders het voor my groot geword, ek moes hul oppas, en nou is daar soveel meer om my rond te jaag, ek sal maar my mond hou en loop.’
Woerts! spring hy daarop reguit skeerhok toe. Die eerste die beste smyt hy die hek oop, die skape hol uit en toe moet jy sy bek hoor, hoe hy die mense en volk nes watter kaptein staan rondorder om gou-gou die skape weer kraal toe te keer.
|
|