| |
| |
| |
Hoofstuk XI.
Lugverheffings - Solang die fees duur, lag almal, maar by die betaalpart lag niemand meer nie.
Kalm en rustig werp die goue dageraad sy sombere lig oor die vlaktes van Gwaggas. Weldra verrys die son; maar is van sy oogverblindende ligglorie ontroof - die dig gepakte dampkring het al die sterk uitskietende strale opgesuig. Die son lyk nou so groot as 'n wa se voorwiel (in alledaagse taal). Vroeg laat die sonbesies hulle hoor; die mense voorspel 'n warme dag en spoedig verandering in die weer. Reeds vroeg begin skilderagtige en spookagtige landskappe sigbaar te worde. Dit is lugverheffings, wat in hierdie streke nogal oorvloedig te sien is. Waar kom al die sonbesies vandaan? sou 'n mens vra. Hul skree, of sing, rondom, bo en onder 'n mens en tot binne in sy twee ore.
Dit is die laaste smous-dag van Koos Fonk op Gwaggas. Wie nog iets nodig het, moet hom haas. Koos het dit
| |
| |
goedgevinde om nog iemand by te huur, want Platjie moet wa oppas as Koos wegstap; Samuël moet agter die osse kyk en wa drywe, dus is 'n derde jong nodig om die handelvee aan te jaag. Koos huur toe 'n Grikwa met die naam van Adam Danster, een van Adam Kok (Grikwaland-Oos) se weggelope volk. Ou Danster was net so oorlams as ou Samuël - as Saterdagaand hom nie inloop nie, haal hy nooit Saterdagaand nie. Vir werk was ou Adam Danster glad nie bang nie, want hy kan daar ewe gerus by gaan sit, of ewe getroos by gaan lê slaap. Vroeg is hy reeds met die vee vooruit na die volgende handelsplek getrek.
Koos pak nou sy negosiegoed reg in die wa en span in; ou Samuël waai sweep oor en blêr uit:
‘Toe, my kalwers, val weg, trek! Daar vóór is net sulke lekker kos!’ En gou-gou is die wa oor die plat bult verdwyn. Ou Samuël sit so die omgewing te beskou en sê: ‘Ei, kyk hoe gee die wêreld vanoggend weer op.’
Platjie sit hom verwonder, want hy het so iets nog nie gesien nie. ‘Oom Samuël, is daardie groot panne regtig water en is daardie goeters regtig bome?’ vra Platjie.
‘Nee jong, dit spook so hier in die wêreld in die dagtyd, hoe sal dit nie in die nag maak nie?’ antwoord Samuël toe sy oë daar vèr oor die vlaktes dwaal.
Selfs Koos, wat baie sulke lugverheffings gesien het,
| |
| |
sit hom verkyk hoe 'n groot pan stadig aan nog groter word, hoe hy weer geleidelik ander vorms aanneem en kleiner word, totdat hy eindelik heeltemal verdwyn het.
Koos doen nog orals op pad by die uitspanplekke goeie besigheid. Hy volg die rigting na Kenhard, langs die Hartebeestrivier af. So gaan hy aan met smous tot hy eindelik Vischkuil en Krommaag bereik, waar Boere, sowel as Basters met hulle vee staan. Platjie neul nou die hele dag aan die ore van Koos oor sy ses aanteelbokke, wat hy as huur sal ontvang. Om van die gesanik ontslae te raak, koop Koos die ses bokkies en oorhandig dit aan Platjie. Nou kan jy Platjie hoor spog en vertel wat hy alles gaan maak en breek met die bokkies, hoe hul sal aanteel en hoe gou hy ryk sal wees.
‘Al wat jy nou nog makeer, Platjie,’ sê Koos Fonk, ‘is volstruisvere op jou hoed.’ Koos gee hom 'n bossie waardelose vere, wat hy self vir waaiers en stoffers present gekry het. Platjie steek 'n paar daarvan op sy hoed en bewaar die ander asof hul watter kosbaarhede is, om dit later op sy hoed te steek as hy die Boland intrap. Hy verbeel hom nou dat hy self watter groot veeboer is en dat hy die koning se hond se oom is - al kos sy ou bokkies maar vier shillings per stuk. Hy is nou so gelukkig as 'n Turk en so ryk as 'n koning.
Hy het nie so veel van Adam Danster as van ou
| |
| |
Samuël gemaak nie en sing so nou en dan hierdie liedjie vir ou Danster:
Katjie, Katjie Kekkelbek;
Hiervandaan na Katrivier,
Drink ons nooit g'n water nie,
Maar daar drink ons niks as bier.
Waarop ou Adam ewe vererg aanmerk: ‘Moenie jong, moenie. Jy is net soos 'n sonbesie, wat nie klaar met sing kan kry nie. Wat al te lank duur, word vervelig. Jy weet Katrivier is my wêreld, waar ek vandaan kom.’
‘Waar die skatte vermenigvuldig, daar vermeerder die eters,’ was 'n spreuk, wat nou op Koos toepaslik was. Nou dat hy meer vee het, het hy ook meer volk nodig, en meer volk gee meer kwelling. Platjie word nie beter onder die invloed van sy omgewing nie. Ou Samuël en Danster leer hom om oneerlik te handel, om te lieg en om nie oor hulle wanbedrywe te gaan klik nie. Wat Platjie egter te vurig was, het die twee oues, ou Welmoed en Dooiebloed (soos Koos ou Samuël en Danster noem) te min stoom opgehad. Tans is Koos ver onder die bereik van die poliesie uit, so kan hy maar, waar dit nodig word, die aapstert (sambok) laat rondswaai.
Toe dit donker word, kom een van die trekboere Koos by sy wa haal om by hom in die matjiesgoedhuis te kom eet - volgens 'n afspraak van die agtermiddag. Voor Koos vertrek, sê hy: ‘Platjie, bly nou
| |
| |
hier by die wa, jy sit jou pote nie hiervandaan nie, sodat as ek netnou kom kyk, alles nog in order is.’
‘Ja baas,’ antwoord Platjie kortaf.
Net na die ete sê Koos aan sy gasheer: ‘Kom, ons stap eers wa toe om te gaan kyk of daar nog alles pluis is.’
Hul stap en kom by 'n veewagterspondok verby waarin, binnekant baie gelag en gesels word. Op die puntjies van hulle voete stap hul nader, hul loer en sien daar word geskink en gedrink. Stadig fluister Koos: ‘Kom, ons gaan eers by die wa die wêreld beskou; want ek sien al drie my volk hier binne sit.’
Stadig stap hul weg en gaan wa toe. By die wa egter skyn nog alles in orde te wees, maar Koos hou vol: ‘Gesteel is die drank, gesteel!’
Hy wapen hom met 'n strop en 'n osriem; hy en sy vrind stap weer terug na die veewagter se pondok toe, waar al die uitsinnige gelag plaas vind. Weer ongemerk bereik hul die plek en by aankoms loer hul deur die skeurtjies.
Ou Samuël staan op met die waterkannetjie amper vol brandewyn in sy een hand, 'n bekertjie in sy ander en hy kondig af: ‘Geagte gemeente, hier gaan die eerste gebod van Adam Danster met Katjie Kekkelbek.’ Daarop word gelag, geskink, gedrink en geluk gewens. Hierop volg handgeklap en groter gelag sodat die trane uit die oë rol. Eer hul gaan sit, reik almal eers die hand
| |
| |
van gelukwensing aan ou Adam Danster, en wens hom ‘al wat wenslik is, tot selfs 'n boggel, wat onmenslik is’.
‘Tyd is kosbaar,’ staan ou Samuël te preek. ‘Netnou is die baas terug en as hy ons looi met die seekoeirib (sambok), laat ons dan lekkerlyf wees om die slae nie te voel nie. Kom, hier gaan die twede gebod van Adam Danster met Katjie Kekkelbek.’
Met die selfde pret word die vrolikheid begroet en het hul al die seremonies weer deur gegaan. Nou was hul al 'n endjie dieper in die wingerd verdwaal.
Koos, wat graag die belaglike sy van 'n saak ook end uit wil volg en sien afspeel, sê: ‘Wag, moenie raas nie, laat hul end uit spook - die drank is tog eenmaal gesteel en verlore.’
‘Goed,’ antwoord die vrind, ‘laat ons die end van die Hotnot-pret sien!’
Waarop Koos fluister: ‘Ja man, so lank die fees duur, klap hul hande en lag; maar wag as die afrekenpart kom, dan klap die strop en hul lag dan nie meer nie.’
Dit was wrintig soete genot en plesier vir die Hotnots. Hul lag só, by die gedagte van die huwelikvan ou Adam Danster met Katjie Kekkelbek, dat die trane oor hulle wange rol. Sommige sit oop mond, kop voor die bors, kopskud. Almal is ewe gerus en g'n een kom uit om eers te spioen nie.
Ou Samuël lig hom beswaarlik vir die laaste op en
| |
| |
met 'n slap tong kondig hy af: ‘Geagte gemeente, daar 's net genoeg lawaaiwater om die derde gebod van Adam Danster mee te vier....’
Eer Samuël verder kan vorder, spring Koos die pondok binne en roep aan sy vrind: ‘Keer by die deur!’ Die Hotnots val oormekaar. Koos pak ou Samuël en bind hom aan die paal van die pondok, gryp die strop en sê: ‘Gemeente, hier gaan die eerste gebod van Samuël met die strop!’
Vóór die hou val, steek Samuël sy hand op, en roep uit: ‘Ek stop hierdie gebode. Ek is teë op die huwelik!’
Koos en sy vrind, wat 'n grap kan staan, lag sonder om te slaan, want hy dink by homself: ‘slaan ek die skurke, dan loop hul dalkies weg en gaan my nog boënop by die poliesie aankla, dat ek met drank smokkel.’ Tot hulle sê hy: ‘Dit is die eerste keer dat ek julle betrap, dat jul my goed steel; maar ek waarsku julle; dit moet nou ook die laaste maal wees, anders sal dit slegter met julle afloop. Hoor julle?’
Die vrind sê aan Koos dat hy sy seun na die wa sa oorstuur om n wakend oog te hou; want die drie skepsels is nou smoordronk en sal na niks omkyk nie.
So gaan hul weer terug na die matjiesgoed-huis.
Na 'n rukkie word die drie skepsels 'n bietjie nugter, maar die seun hou hul daar in orde. Onder mekaar begin hul toe te korswil. Ou Adam Danster het ook
| |
| |
nou stof in sy hand gekry om na die ander twee te gooi: ‘Matie,’ so begin hy aan Platjie te krap, ‘hoe het dit met julle kerkhouery afgeloop? Heeldag is jy mos 'n mannetjie wat jou mond van Katjie Kekkelbek vol het. Vanaand moes die baas vir jou onder die kerkbanke aan die agterpoot kom uitsleep.’
‘Ja, maar oom moet darem weet, die baas het die bruidegom ook onder die ou tante se kros moet kom uithaal, en hoe smaak dit vir 'n bruidegom?’
‘O, ek wil maar daardie kros geruil het en toe wil ek weet of hy warm genoeg is. Maar bang was ek nie om 'n pak slae te verdra nie.’ Daarop kyk hy na Samuël en vra: ‘Toe, ou swaer-predikant, jy is mos ook een wat so baie van Katjie Kekkelbek af weet; maar hoekom moes ons ou leraar dan met 'n osriem aan die paal, nes 'n melkkoei, vas gemaak worde? Dit het so hit-tit-tit gegaan of ons ou leraar het sy traktement met die strop agter sy skouerblaaie ontvang.’
‘Ja, ou swaer, toe jy jou kop daar onder die kros weggesteek het, laat jy my dink aan 'n volstruis, wat net sy kop agter 'n graspol wegsteek onder die verbeelding dat die mense dan sy lyf ook nie kan sien nie, want jou hele lyf het buitekant die kros uitgestaan, net soos 'n kuiken wat net sy kop onder die vlerk van sy ma ingesteek het.’ Hierdie gekorswil het nog vir dae aangegaan tot daar weer iets anders was.
| |
| |
Terug in die matjiesgoed-huis, vertel Koos aan die vrind se vrou watter kaskenades die Hotnots afgespeel het en hoe glad hul daarvan afgekom het.
‘Toe ek voor by die deur van die pondok keer,’ so val die gasheer in die rede, ‘hoor ek net agter hoe hul deurbreek en hoe hul oor die wêreld saai, maar jou volk was nog te onbekend en het dus agtergebly.’
‘Ja,’ vervolg Koos, ‘as my drie volk maar net so fluks by die werk is as hul poliets met hulle mond is, dan sal ek seker baie diens van hulle kan hê.’
‘Og, maar is hul nie geslepe met hulle bekke nie!’ merk die vrind op. ‘Die ketters sal eerste klas vir advokate deug, want hul bly jou g'n woord skuldig nie. Ek het hier 'n ou Boesman, ou Wolf, hy is glad met die mond, maar dan is hy darem fluks by sy werk. Ek sal jou vertel hoe hy die naam van Wolf gekry het,’ so vervolg Koos se gasheer. ‘Eén agtermiddag stap ek met my geweer deur die veld om na siek famielie te gaan kyk. Ek het laat by die sieke gebly en stap terug toe die maan uitkom. Omtrent 'n duisend tree van my veewerf af, hoor ek iets oorkant die rivier grawe. Ek stap stadig soontoe. Naby gekom, sien ek dit is 'n wolf. Ek kon hom mooi teen die maanlig sien staan. Ek suie die korrel van my roer agter sy blad en haak af en keer die ou om. Ek stap nader om te gaan kyk, en hoor iemand kreun. Met rondsoek vind ek dat die
| |
| |
gekreun uit die ertvarkgat kom, wat die wolf besig was om oop te grawe. Ek krap die gat verder oop en vind eers 'n dooie hond en toe die ou Boesman met akelige wonde aan sy kop - hy dra vandag nog die merke daarvan. Op gehoor van die skot, hol van my kinders en volk oor om te kom kyk. Ek laat toe die ou skepsel na my veewerf oordra; ons het hom gedokter deur die wonde met pekelwater te reinig en salf aan te smeer. Na enige dae kon die ou skepsel praat; hy vertel dat hy 'n hond by hom had, dat hy 'n springbok geskiet het en net toe hy begin te braai, kom daar twee Hotnots by hom. Die Hotnots wil die bok afneem, hy verset hom, sy hond kom hom help, maar die Hotnots slaan eers sy getroue hond dood, daarop rand hul hom met knopkieries aan, en dis al wat hy tot so ver weet. Wel, wat ek daar gesien het, het die Hotnots stilletjies die ou Boesman vir dood in die ertvarkgat gestop, en daarna sy hond. Gelukkig, die ertvarkgat was groot, sodat hy nie kon versmoor nie, want die Hotnots het die gat voor met klippe en grond toegestop. Die wolf het op die bloedreuk afgekom en het begin grawe om die hond te kom eet en so het die wolf die ou se lewe gered, waarvoor hy egter self sy lewe moes inskiet. Ons het die ou Boesman daarop die naam van Wolf gegee en hy dien ons nog al die tyd trou.’
Hierop is Koos na sy wa terug gegaan en is die ander
| |
| |
dag op reis. Na weke en weke verloop het, breek die tyd aan om Gert Buurman by Kenhard langs Hartebeestrivier te ontmoet. Toe hy daar aankom, was Gert reeds daar, wat sy wa daar op die plek ook vir vee verruil het. Hy het 'n ou lendelam karretjie gehandel om daarmee na Oorlogskloof terug te ry. Die meeste van sy negosiegoed was reeds goed van die hand gesit, want sy slagvee, wat hy ingehandel het, was pragtig en baie. Al die negosiegoed word nou op Koos se wa gepak om daarmee verder af te gaan en smous, totdat hy eindelik oorkant Grootrivier is, waar daar vry handel in drank, gewere en ammuniesie is. Van hier is Gert met al die vee - ook dit van Koos - weg. Platjie het eers saam met Gert wil gaan; maar met pamperlang het hy besluit om nog maar by Koos te bly.
|
|