| |
| |
| |
Hoofstuk VIII.
Gevolge van Engels praat en Bynes uithaal.
Hulle waens is ingespan, Koos Fonk en Gert Buurman is gereed om te vertrek. Koos volg die weg aan die westekant van Hantamsberg, en Gert gaan oor Calvinia en set sy smoustog voort ooswaarts van Hantamsberg. Die volk was ewe plesierig met hulle afskeid, en roep mekaar toe: ‘Voorspoedige reis en kom vet tuis - gee my groetnis aan al die mooi tannies daarvoor, die lelikes kan jul maar oorslaan - sê, ek sal gou kom om hulle te loop haal - bog met julle, die mooies is vir my en die lelikes vir julle - og, blaf vir jouself en kommandeer jou honde - ja, praat so, dan sien ek jy word bang - pas maar op dat die volk julle nie oor die tannies weer blou oë en lek horings slaan nie - jy kan mos lieg ook’; en nog meer sulke gesegdetjies. En toe hul 'n paar honderd treë van mekaar weg gery het, los hul 'n paar geweerskote as afskeidsgroete - 'n ou gewoonte, wat nog hier en daar in gebruik is; maar meestal word
| |
| |
geweerskote gelos as die persone terug keer om, te laat weet, hul kom aan.
Op die eerste handelsplek word die brandewyn spiritus reg gedokter. Die resep is: 1 deel spiritus, 2 dele water, peper, rissies, tabak en blousteen na smaak. Vir Koos se beste vrinde het hy altyd 'n beter kwaliteit as die mikstuur aangebied.
Hierdie handel in drank het goed betaal; want 'n skaap vir 'n bottel drank is nie so sleg nie. Die stof smaak nie juis lekker nie, maar maak vrolik en olik en dan moet daar weer van die hond se hare gehaal worde om op die hond se bytplek te sit. En so volg skaap na skaap, bottel vir bottel. Dis dan net: Weg wêreld, weg droefheid, kom sopie!
'n Engelsman kom by Koos se wa, saal af en sit te gesels. Toe hy hoor dat Koos drank het, koop hy 'n half botteltjie, waarna Koos sê: ‘Hierdie drank is 'n bietjie sterk, jy moet stadig drink, want dit werk met 'n man se lyf net gou-gou.’
Die Engelsman proe en sê: ‘Ja, mister, jy het reg; dis so sterk as blaasbalkvuur en kan 'n mens maklik binne 'n honderd treë katswink slaan.’ Na 'n rukkie het hy die halwetjie leeg en gaan sy weg in vrede, maar verloor dit spoedig om rond te dwaal.
Oom Koert van Smal en sy vrou het oorgekom om te handel. Koos se soet sopies was lekker en dit het
| |
| |
Oom Koert kooplustig gemaak. Die oubaas wou graag 'n kannetjie brandewyn gehad het en vir 'n bottel soet sopies sal hy gedroogte springbok boudjies stuur. Koos vertel dat hy die drank eers moet tap en sal dit dan met sy volk oorstuur.
'n Rukkie voor sononder, toe die handelvee naby die wa wei, sê Koos aan Platjie en Samuël: ‘Kyk, bring hierdie drank oor na oubaas Koert toe - hy woon hier naby agter daardie rantjie. Loop gou, want dit spook langs die pad.’ Dit was om die volk haastig te maak.
Samuël en Platjie vat die drank en die brief, en loop drafstap weg. Daar digteby die rantjie - uit die gesig - sê Samuël: ‘Platjie, weet jy wat ons maak? Kom, ons vat die bottel drank vir ons, drink nou die helfte uit en met ons terugkoms drink ons die ander helfte uit. Is dit nie 'n goeie plan nie?’
‘Nee,’ sê Platjie, ‘die brief, wat ons hier het, sal ons daar by oubaas Koert gaan verkla.’
‘Wat, man, het jy dan nie 'n plan nie? So lank ons drink, moet die brief daar onder die plat klip lê, dan kan hy mos nie sien wat ons maak nie.’
Platjie vind die plan goed en toe hul die brief onder die klip toedek, sê Platjie: ‘Sorg dat hy goed toe is, want 'n brief is net 'n oorlamse ding.’ Sorgvuldig word 'n plat klip op die brief geleg en los sand word ten oorvloede rondom die klip opgehoop.
| |
| |
Na hul gedrink het, en die halwe bottel versteek het, vat hul die kannetjie, gaan die brief uithaal en stap vort.
Toe die soet sopies begin trek, word Platjie vrolik en begin Engels te praat - net soos Hotnots gewoonlik doen as hul die takke in raak. Hy het geen Engels geken nie, maar het wel die taal hoor praat. Dit was vir Samuël wat ook 'n sliertjie weg het, o, tog te mooi en hy verwonder hom oor die talentvolle Platjie, dat hy so slim is.
‘Gà-gà-gà!’ skater Samuël uit van lag en sê: ‘Julle bolandse volk is vol draadwerk, nè? Praat weer Engels, laat ek weer kan hoor.’
‘Jis, jis, jis,’ praat Platjie en voeg daarby: ‘Noo, noo, noo.’
‘Maskas man, dis verdeksels mooi! Ek wens dat ek ook so goed kan Engels praat!’ roep Samuël uit.
‘Oom Samuël, ek ken omtrent al die Engelse woorde, maar as ek hul agtermekaar wil span, dan raak ek deurmekaar en die gesegdes wil dan nie goed rym nie. As 'n mens vir 'n Engelsman sê: “Jis, jis”, dan word hy bly; maar as jy vir hom sê: “Noo, noo”, dan raak hy somaar vir jou die josie in. Daarvoor moet jy oppas.’
Noueliks is Platjie se woorde koud, of hier kom die Engelsman aan, wat van sy koers afgeraak het, en hy vra op Engels die pad na Boesmanland. Die Engelsman het geen woord Hollands geken nie. Die Engels van die man was bo Platjie se horison en hy staan te dink. Die
| |
| |
Engelsman vra weer en Platjie is nog meer in die spinnerak vasgedraai.
Ou Samuël, wat met gapende mond op Platjie se antwoord gewag het, sê: ‘Toe jong, steek hom met die jis-woord.’ Platjie was ook nie links nie en sê ‘jis, jis, jis.’ Samuël staan steeds met gespanne aandag.
Die Engelsman praat in sy taal en vra weer mooi.
Ou Samuël sê: ‘Verdra jy dit? hoor hoe taai sê hy vir jou.’
Platjie sê: ‘Nee, ek hoor hy praat van binnevet (benefit), van 'n boudvleis (doubt), van dankie vir die kaiings en nog meer goeters.’
‘Wat praat hy van voël (fool) en dennemiet?’ vra Samuël ewe nuusgierig, en vervolg: ‘Nou maak hy ons net kwaad. Jong, steek hom nou met die noowoord.’
Platjie wag ook nie en sê: ‘Noo, noo, noo!’
Aai, maar toe word die Engelsman so kwaad dat hy nie weet of hy sy karwats of sy tong moet gebruik nie - toe slaan hy eers die Rooi-taal dat hy so kleur op kleur kry; want Koos Fonk se mikstuur is goed genoeg om enige Kristenmens gek te laat word. Hy vat weer die koers wa toe om daar na die pad te verneem.
Ou Samuël sê: ‘Platjie, laat ons die veld skeur; want die Engelsman is kapabel goed genoeg om ons die nek in te slaan.’
| |
| |
Na 'n rukkie sê ou Samuël weer: ‘Nee, hy is miskien nie so kwaad as hy lyk nie - hoor hoe bedank hy jou nog een streep deur.’
‘Sien oom nou,’ merk Platjie op. ‘Ek het oom mos gesê, die jis-woord maak 'n Engelsman se hart somaar lekker; maar die noo-woord laat hom knoop.’
Gesels-gesels stap die twee pad langs na oubaas Koert van Smal toe. Op die werf gee hul die brief en die kannetjie brandewyn aan die oubaas. Hy stap binne toe; onderwyl steel Platjie gekerfde tabak, wat daar op 'n gelooide vel lê om te droog, en ou Samuël draf die hoenderneste by. Die oubaas kom terug - na hy en sy vrou die brief gelees het - en vra: ‘Waar is die bottel met soet sopies?’
Die twee kyk mekaar verspot aan en Samuël antwoord: ‘Die baas het seker vergeet om dit aan ons te gee.’
‘Dit kan nie wees nie,’ merk die ounooi op. ‘Die brief sal nie lieg nie. Dè, hier is 'n springbok boudjie, gee dit aan julle baas en sê ek stuur dit vir hom present. En sê verder dat as ek die bottel soet sopies kry, sal ek die ander springbok boudjies stuur.’
‘Toe, julle moet trap, ek gaan die honde losmaak en hul sal julle gou plat loop,’ sê die oubaas.
Op weg sê Samuel: ‘Jong, die vergalste brief het ons so waarlik waar gaan verklik. As ek nie gelieg het,
| |
| |
weet ek nie hoe ons sou los gekom het nie. Hoekom het jy my dan nie gesê dat die vervlakste brief deur 'n klip kan sien nie?’
Verbysterd antwoord Platjie: ‘Oom, ek het dit wrintig ook nie geweet nie.’
Toe hul by die plek kom waar die halfbottel versteek was, draai hul uit en drink die bottel droog. Singsing stap hul vort en meteens kom die oubaas se seun met sy wit baadjie en wit hoed hul teë; die twee dink dat dit 'n gees is en vat die wêreld aan en daar vóór ontmoet hul mekaar eers.
Toe hul weg is, mis oom Koert van sy gekerfde tabak en die tante merk haar hoendereiers is gesteel. Hy word nooit kwaad nie, maar sê net: ‘Jou siegte Hotnot, jou kanontrekker, jou klipkop, kort van haar, maar lank van vingers!’ Maar die ou tante het al die sê-goed aan haar kant gehad; sy het hul tamelik geseën.
Platjie en Samuël het geweet dat Koos die oggend vroeg sou vertrek, so was hul nie bevrees dat die diefstal van die bottel soet sopies aan die dag sou kom nie. Hul lewer die een boudjie springbok biltong, en vertel dis al wat die ounooi gegee het. Koos sê: ‘Hoor, sy het my lekker gefop.’
Van hierdie staanplek het Koos weer langs die Hantamsrivier gaan kamp. Wat die handel van Koos groteliks bevorder het, was dat vir 'n paar maande
| |
| |
tevore in die Hantam- en Boesmanland pragtige reëns geval het. Die veld is mooi en die vee is vet. Sy klompie handelvee groei by die dag in getal en ou Samuël is nou die wagter, wat met die vee moet trek en wei.
Toe Koos vir 'n paar dae moet oorstaan, wei ou Samuël met die vee langs die Hantamsrivier. Op plekke loop die rivier tussen hoë kranse deur. In die klipskeure van die steil kranse is baie byneste te vinde, waarvan die meeste onbereikbaar is, maar die Hotnots weet die neste met lere van takke gemaak, of met toue van bo af te bereik. Wel, ou Samuël, met rondwei met die vee, het 'n bynes bo teen die krans sien sit. Voor die bynes is 'n kliplys of 'n klipstoep, waarop die man wat die nes uithaal, kan staan. Al wat te doen staan, is om die nes van bo van die krans met 'n tou te bereik. Daarvoor was 'n tou van omtrent drie vaam lengte nodig. Samuël pluk matjies-goed, draai daarvan 'n sterk tou en knoop dit bo op die krans aan 'n bos vas; die ander punt maak hy om sy lyf vas en hy klouter ewe versigtig langs die tou af tot hy die klipstoep bereik het. Hier vind hy gemaklike staanplek en niks meer ruimte nie. Die nes was maar ongemaklik in die klipskeur geplaas en dit neem tyd om die heuning daaruit te kry. By die tyd dat Samuël genoeg geëet het, en sy knapsak vol gestop het, is die son baie warm geworde. Hy trek aan die matjiesgoed-tou en dit kraak. Hy twyfel of dit nog so
| |
| |
sterk sal wees om daar teen op te klouter. Sy moed sak, hy dink en maak plan, maar daar was geen ander weg ope nie, as om maar te probeer. Hy trek weer aan die tou en nogmaals kraak dit. Nou wil hy nie meer waag om langs die tou op te klouter nie; want sal die tou breek, dan val hy omtrent 'n 100 voet na benede. Die beste weg om te volg is, om vir hulp te skree. Hy het geroep en weer tot vervelings geroep, maar sy stem vind geen luisterende oor nie. Hy kry dors, wat deur die gebak van die son teen die krans en deur die soetigheid van die heuning vererger word. Hy word hees, sy bene onder hom word moeg van staan, en hy voel dat as hulp nie gou-gou opdaag nie, hy die prooi van die gapende afgrond daar onder hom word. Gelukkig kan hy 'n stuk klip uit die krans breek om daarmee te stamp. Hy hoor die eggo van sy eie gestamp, maar niemand anders nie, as net die bye wat daaroor toornig word; weer moet hy rook maak, tot eindelik die rookmaakgoed op is.
Koos Fonk by die wa merk uiteindelik onraad toe Samuël nie uitkom nie. Hy het geweet dat Samuël nie weggeloop het nie, want sy komberse en ander goed was nog by die wa. Koos laat soek en roep, maar geen een sien of hoor iets van Samuël nie. Hul vind wel die skape, maar die vee het reeds ver weg gewei van die plek waar hul Samuël verlaat het. Die volk sny spoor en eindelik
| |
| |
vind hul sy spoor na die krans. Hul roep en hoor iemand met 'n klip slaan, maar die eggo van die kranse maak dit moeilik om die plek waar geslaan word te bepaal. Met die spoor te volg, sien hul hom op die klipbankie staan; gou het hul gestuur om rieme, en water te haal, en toe hul hom bo op die krans gehys het, sak hy van vermoeienis inmekaar. Hul moet hom net hard lawe om hom by te kry - gedurig staan in die warm son, die knagende dors en daarby die vrees om na benede te stort, het op sy senuwees gewerk en het al sy kragte uitgeput. Aan sy arms word hy na die wa gelei. Koos het die ou gedokter en die anderdag was ou Samuël springlewendig - net hy kla sy bene voel effentjies styf.
Samuël, met al sy leed, is daar egter beter van afgekom as sy ou vrind Ruiter, wat net van veldkos, jag en heuning lewe.
Die Hantamsberg aan die noordekant van die dorp Calvinia is 'n groot plat tafelberg, deur steil kranse bo aan sy kruin omring. Daar is maar 'n paar uitklimplekke waarmee 'n mens bo die tafelland kan bereik. Die diep skeure in daardie kranse dien as vestings vir die bye. So vind 'n mens daar neste waar geen mens ooit kan by kom nie. Die wat laag teen die kranse sit, word van onderaf met lere bereik, en die wat byna bo teen die kranse sit, word van bo af met behulp van rieme of sterk toue bereik. Ruiter het te doen gehad met 'n
| |
| |
bynes, wat byna bo teen 'n lae krans sit. Hy dra altyd sy sterk rieme by hom; want 'n goeie soldaat is altyd goed gewapen. Bo, regoor die krans, het hy geen bos of boom kan vinde om sy riemtou aan vas te binde nie, maar maak dit om 'n groot klip vas.
Ruiter was seker dat die rots swaar genoeg was om hom teë te hou, sodat hy teen die krans met die tou kan afsak. Hy het die rots van alle kante beskou en bekyk en selfs daarteen gedruk om te oortuig dat die rots vas en stewig genoeg leg. Maar juis die wikkel en pomp aan die groot klip het hom los uit die grond gemaak. Ruiter, na hom van alle veiligheid oortuig te hê, bind die riemtou om die rots en ewe versigtig, met sy knapsak om sy skouer, sak hy teen die tou af. Die tou was geduldig, die rots net so. Maar toe Ruiter met die swaar knapsak heuning teen die krans met behulp van die tou begin uit te klim, was die rots, waarom die tou gebinde was, glo te nuusgierig om te kyk wat Ruiter so aan hom trek: hy rol oor. Die vas gebinde Ruiter volg - dan is Ruiter voor, dan die rots, soos hul die hange afrol. Ruiter het daarna drie maande siek gelê.
|
|