| |
| |
| |
Hoofstuk VII.
Wat Doepa en Paljas kan doen - Spogtery.
Gert Buurman het instruksies van Koos Fonk ontvang om in die nag aan te kom, want die poliesie van Calvinia het die snuf in die neus gekry dat daar smokkelgoed op die waens is. Maar om ontdekking te voorkom, is Koos te oorlams. Smokkelgoed soos gewere, kruit, doppies en drank is verbied. Die geweerlope was onder in dubbel-bodem kiste verpak; die geweerkolwe was vas gesit in 'n vat, met lynolie opgevul, en die bodem van die vat was weer netjies met die hoepels vasgedrywe, sodat dit as 'n vat lynolie kan deurgaan; die kruit en doppies was binne in dubbelde sakke, waarvan die buitenste met koffie en rys opgevul was, sodat dit as koffie en ryssakke kan deurgaan; die brandewyn spiritus is in vate gedoen, vasgesit binne in okshoofde, wat met asyn opgevul was, sodat dit as 'n lêervat asyn kan beskou worde. Koos en Gert het die nodige voorsorg bespreek en geneem. Hul was klaar vir die poliesie.
| |
| |
Die volgende dag oggend vroeg, was twee konstabels by. Die sakke waarin die kruit en doppies was, lê op die grond naby die vuur om suspiesie te voorkom; want wie sal so roekeloos wees om kruit naby die vuur te bring! Die poliesie saal af en vra: Wie se waens is dit, waar kom hul vandaan en waar is die reis na toe? Koos gee die nodige inligting in korte woorde.
Die sersjant handig Koos 'n brief oor en sê: ‘Hier is ons soek-warrent om te kyk of daar nie drank en ammuniesie op die waens is nie.’
‘Seker, julle is vry. Ek mag jul nie belet nie. Daar staan 'n klein vaatjie drank vir ons en ons volk se gebruik, en daar is ons gewere en ammuniesie vir ons diens op die pad: twee behoor aan ons, twee aan ons veewagters om die vee teen ongedierte te beskerm. Hier is ons papiere om handel in negosieware te drywe en wat ons reg gee op ons skietgoed.’ Verder sê hy: ‘Sit maar op hierdie rys- en koffiesakke, dan kan jul eers 'n boegoetjie of koffie drink - net soos jul verkies.’
Die sersjant het dadelik pyn op die maag en die ander poliesman kla oor koue op die niere, en so verkies hul vir hierdie kwaaltjies liewer 'n boegoetjie.
‘Dit spyt my dat ons julle die moeite moet gee om die goed af te pak, maar jul verstaan tog ook dat ons onder orders staan,’ sê die sersjant.
‘Ag, man, dis g'n moeite nie - ons moet tog die
| |
| |
waens oorpak om te weet waar die goed gepak is. Nee, nee, glad g'n moeite nie,’ sê Koos.
Gert bevestig alles wat Koos vertel en sê.
Wel, die twee konstabels is meer met vee-diefstalle, brandstigtings en moorde bekend gewees, as om smokkelaars te betrap, en so word hul maklik om die bos gelei - hul vind daar niks wat tot verbode handel behoor nie.
Koos vra hul om saam brekfis te neem, trakteer hul op lekker ingelegde vis en bolandse konfyt, en daarop kry hul 'n likeurtjie. Die twee konstabels het hul weg met vreugde en gesels voortgeset, en Koos en Gert is nou gerus - hul weet wat hul mag doen en laat.
Die osse van die negosiewaens is moeg en het minstens twee dae rus nodig. Dan het Koos nog 'n paar houtjies met Gert te sny, (besigheid te bespreek) want alles moet van hawer tot gort bepraat worde.
Koos se volk is 'n Hotnot, Samuël, en Platjie. Gert se volk is 'n Slamaaier, Abdol, en 'n baster, Braam Basjans - al twee Kaapse volk. Toel Oerson bly agter op Oorlogskloof om na die reeds ingekoopte skape en bokke te kyk; die kar met vier perde bly onder die sorg van die baas van die plaas.
Abdol was 'n vertroubare Maleier, knap by die handel en wat daarby goed met vee kon werk. Hy het as Slamaaier net 'n groot naam as dokter gehad, en die volk was vir sy towergoed en paljas so bang as
| |
| |
'n bobejaan vir 'n blaasbalk. Selfs witmense het by Abdol kom meestergoed haal, en die volk weer het sy houtjies en doepa hoog op prys gestel, sodat Abdol net geld maak soos gemaalde koffie uit 'n meul. Hy het allerhande goeters waarna hy kyk, net soos die dolosgooiers maak. Waar hy sy medisyne vandaan kry, weet geen een nie.
Gert Buurman was net versigtig vir sy Slamaaier; want hy het net sterk in die houtjies van Abdol geglo. Maar Koos Fonk aan die ander kant was glad van ander gevoele - hy het min daarin geglo. Gert beweer dat die poliesie deur die paljas nie die vereiste ondersoek ingestel het nie, terwyl Koos dit alles aan sy voorbedagte planne toeskrywe. Hieroor het hul baie geargumenteer en gestry en elkeen het by sy insigte gebly.
Eén oggend, met brekfis, het Platjie 'n bietjie te skerp aan die wildbiltong en skaapribbetjies gewerk. Hy vat die perde en gaan daar onder wei. Hy word lui en val in die skaduwee van 'n bos op sy rug, vas aan die slaap en droom toe dat 'n nagmerrie, of spook, hom ry; want die taai biltong werk met sy spysvertering. Hy begin benoud te skree, word wakker, hardloop en kom by die waens vertel dat die duiwel daar onder by die bos vir hom vas gedruk en wou verwurg het. Abdol het sy goeters deurgekyk, goed op sy hande gegooi en daarmee ingevrywe, en stryk toe sy hande aan sy gesig en vertel:
| |
| |
‘Jy het by 'n graf sit speel en daaraan met 'n stok gegrawe. Dit is die graf van 'n kwaai ou meid en sy het daaruit gekom om jou te kasty, omdat jy haar nie met rus gelaat het nie.’
Platjie erken dat hy daar by 'n hoop klippe sit speel het; maar hy het nie geweet dat dit 'n graf was nie. Abdol het toe 'n sakkie met doepa - so groot as 'n halfkroon - om die nek van Platjie gehang en hom verseker dat die bose gees hom nie meer sal kom pla nie. Hierop is Platjie gerus gestel en hy het die sakkie vir jare daarna nog gedra en nooit weer is hy met nagmerries - so sê hy - gepla gewees nie.
Dieselfde dag kom daar 'n ou Baster en sy vrou by Abdol goed haal, omdat daar by hulle aan huis (of liewers gesê by hulle matjies huis) met klippe en houters gegooi is. Dan had die meid veel te kla oor die vreemde houding wat haar man teenoor haar aangeneem het. Hy is, sedert die klipgooiery aan die gang is, so danig maters - sy kan byna sê verlief - met 'n ander jong. Hierdie gedrag van haar man doen haar diep leed aan en werk op haar humeur. Hulle is dus oorgekom om Abdol te sien om die klipgooiery te laat ophou en die towerdery te stop.
Wel, Abdol het weer opsy gestap en toe hy terug kom, vertel hy dat daardie jong hul getower het met goed wat hy ver vandaan gekry het. Hy het die ding verkeerd aangeleg, want die goed wat die Baster moes gekry het,
| |
| |
het sy vrou gekry en omgekeerd, die goed wat vir die vrou bestem was, het die man gekry.
Die plan was om die vrou op daardie jong se hand te kry en om die man met haar te laat twis sodat die man haar in die pad kon steek. ‘Gee my nou £5 dan sal ek die ding vir julle gou-gou reg maak,’ sê Abdol. Hul het hom die geld gegee; daarop versien hy hul met paljas waarmee hul terug gegaan is. En hulle vertel later dat die goed wat daar begrawe was, het hul onder die drempel gekry en die fout het so gekom. Die jong het die towergoed in die koffie van die Baster en sy vrou gegooi, en omdat een koppie koffie toe net toevallig soeter was as die ander, het die Baster en sy vrou kommetjies omgeruil; sodoende het daar 'n omruiling met die towergoed gekom. Verder weet hul te vertel, dat die Baster en sy vrou weer op ou voet gelewe het, asof daar nooit verskil tevore was nie.
Sulke stories het groot invloed op die Hotnot se gemoed en hul kan dosyne daarvan sit uitpak.
Dieselfde aand vra Samuël, Toel en Platjie om daar by die Hotnot pondokke musiek te gaan maak. Koos het geweet, waar so 'n musiekbende is, daar is heuningbier; waar musiek is, word gedans; waar gedans en gedrink word, is 'n skoordery waarop 'n bakleiery volg. Maar verbied hy die volk om te gaan, dan kan dit gebeur, dat hul nukkerig word en hom by die poliesie gaan aangee
| |
| |
dat hy smokkelgoed op sy wa het. So sê hy in vredes naam dat hul maar kon gaan, al weet hy in watter toestand hul terug sal keer.
Vóór hulle vertrek, het hul daar by Abdol se vuurtjie gelol (want hy het altyd sy potjie alleen gekook). Daar het iets fout gekom - glo 'n pot of ketel was omgesmyt. Hul spring soos honde, wat vet gesteel het, weg. Gert hoor hiervan en hy sê aan Koos: ‘Wag, dit sal 'n wonder wees as die Slamaaier hul vannag nie sal tower nie.’ Hy skud sy kop met sekerheid.
‘Og, wat is jy weer met jou towerdery aan die gang! Ek het die Hotnots die dood voor die oë geskilder, as hul vannag nie weer terug kom nie - so nie, bewaar hulle siel as hulle môre laat kom,’ werp Koos teë.
Dis helder dag die volgende oggend en die volk is nog nie terug nie. Hul was klaar om in te span en te vertrek, maar moes wag. Toe die son teen die Hantamsberg aanslaan, kom een na die ander. Koos is boos, maar uit vrees van verklik, moet hy hom bedwing. Hy wil al weet waar hul so laat gebly het.
Ou Samuël begin toe te vertel: ‘Aai, my baas, ek weet jou hart is vanmôre tjokvol van ergernis. My eie hart spring met my rond en bont, dat ons so sieg is. Maar kyk, baas, ons het eers gemusiek, toe het ons begin skoffel; al die volk en meide spog; ons gaan teenoor mekaar staan; nou die een klomp hul oorwin die ander
| |
| |
met die dans; wat win spog; wat verloor word tjurang en soek skoor; toe die skoor gekom het, staan elkeen op sy twee balke en presenteer sy twee murgpype; toe kom die gemoker; die beste manne bly staan; die ander lê stof snuiwe; maar toe die wêreld vir ons daar smal word, sit elkeen sy rieme neer en koers die veld in. Nou, dis pik-pikdonker. Ons het geloop tot vanoggend toe. Nou kry ons eers die wa.’
Abdol lag en stap weg, waarop Gert sê: ‘Koos, hoe lyk dit nou vir jou, hoe maak doepa en paljas nou?’
Al wat Koos sê is: ‘Og, bog, ek glo niks daarvan nie!’
Arrie, maar die volk sien daar getakel uit en lyk asof hul 'n noue ontkoming onder die behandeling van aasvoëls en honde gehad het - klere is geskeur, oë is pimpel en pers geslaan en daar is wonde aan hulle koppe, sodat al drie met doeke om hulle koppe loop. Koos was verplig om aan Platjie 'n nuwe broek en baadjie te gee, om hom in staat te stel sy ander klere heel te maak.
Net toe Koos en Gert haas wil inspan, kom daar 'n seker meneer Visagie om een van die waens te handel. Koos en Gert wil eers die handelvee sien, dus span hul die kar met vier perde in, om die vee op die plaas van meneer Visagie te gaan besigtig. Intussen kry die volk naalde en gare om hulle klere mee heel te maak. Koos sal maar die aand laat terug kom en Visagie sal die wa later op Oorlogskloof opvang.
| |
| |
Daardie aand sit die volk by hulle vuurtjies - Abdol en Braam sit by hulle vuur en Samuël, Platjie en Toel sit by hulle vuur. En nou volg daar 'n diskoers oor bakleiery, soos 'n mens dikwels volk hoor gesels - onder hul is daar beroemde kierie-slaners, soos Toel; vermaarde kop-slaners, soos Samuël, en daar is ook goeie stoeiers en min uitstekende vuis-slaners, - natuurlik klipgooiers makeer nie.
Platjie begin die gesprek deur te vra: ‘Toel, waar is dan nou jou danige kierie, wat die towerdokter jou gegee het? Hoekom het jy dit dan nie saam gebring nie?’
‘Ek het dit hierdie slag skoon tuis vergeet,’ sê Toel.
‘Dis jammer man, anders kan jy die danige lekker oom Jannies, wat so danig met hulle karree-knopkieries spog, hoor Engels gesels het,’ merk Platjie op.
‘Og, wat wil jy nog praat! Toe die kieries begin te kletter en die volk begin te rumoer, toe staan jy mos bossies se kant toe,’ val Samuël in die rede.
‘Maar oom weet, 'n hond se agterpootnaels is kort, maar hy skop die klippies vèr - ek het die volk met die klippe gewerk en hul goed gekarnuffel,’ sê Platjie.
‘Dis jammer dat die ding so gekom het. Dit het eers regtig goed gegaan,’ hervat Toel; ‘want toe die musiek 'n dans losdraai en 'n riel oor die grond gooi, toe kan jy net volk en meide hoor steun soos hul trippel en askoek afslaan. Maar toe Darries-goed en Jakob-goed met hulle
| |
| |
dwarstrekkery en afjakke begin, toe was dit vir my of jy sa-sa sê. Die kieries klap toe al, en man, ek gryp toe my kree-kierie, en ek laat hul soos dik gevrete aasvoëls ronddans. Dit gaan toe loodswaar met my, die kieries klap op my harsingpan. Ek takel hul toe dat die vere en donse van hulle vlie. Daardie lelikerd van 'n Kareljong het ek getakel - hy is mos altyd soos 'n vis - papnat en lekker lyf.’
‘Maat,’ sê Samuël, ‘ek word so blind van kwaadheid. dat ek nie weet of ek met die tong of vuis moet spook nie; maar ek spring onder die lyf van Trossies in. Hy wil hom nog presenteer, maar wie sê! Eer hy hom kom kry, steek ek hom met die horing onder sy ramkie-kinnebak in, en gee hom een met die haar-horing in sy ribbekas; toe kan jy net kopskote hoor klap, soos ek hom met die hot-horing inklim. Ek los hom en toe skiet ek net vuurpylskote met my murgpype voor sy bors en in sy ete en drinke. Ek basta toe met hom; want Darriesgoed kom hom toe voor my presenteer; maar ek was vandag weer klaar, ek pak hom en nogmaals kan jy kopskote hoor boef! boef! klap. Ja, ek saai die sterre voor sy oë en laat duisend reënboë voor hom bolmakiesie slaan. Toe eers speel ek tamboer met my kop op sy ribbekas - toe sing die sonbesies nog 'n streep in sy ore. Hy het mos 'n lekker bakkies om jou vuis daarop bloed te laat proe, want sy smoelkant van sy gevreet is mos
| |
| |
groter as al sy harsings. Hy vlug onder die skerm, maar glo, daar het baie van sy knope agter gebly. ‘Kom uit,’ roep ek, ‘dan sal ek nog verder jou sop laat spat!’ Daardie drag slae het hom laat voel hoe na hy aan sy dood was. Ek het daardie vuilgoed, wat net aan die heuningbier-pot sit melk, gou koud gelei, kleingeld gemaak en kaf geslaan. Aai, en dis 'n wonder hoe rat my voetsole hulle sitplekke opsoek. Ek het hulle kruit vir hulle papnat gemaak.’
Maar geen een het vertel nie, hoekom hulle waens toe hakskene moes wys.
|
|