| |
| |
| |
Hoofstuk V.
Koos Fonk, Platjie se Baas - Onderveld toe - Lesse.
‘Eindelik hier! Ho, ha, Duisend Dalers!’ roep Koos Fonk uit, toe hy oorkant 'n stroompie stilhou. Hy sê verder vir Gert Buurman: ‘Laat ons hier 'n rukkie losmaak, die perde laat rol en water suip, dan kan ons nog vanaand tot digteby Hermon ry om daar in die veld te gaan slaap.’
Die son het net agter die Paarlse berg weggeduik en werp nog sy afskeidstrale teen die Drakensteinberg.
Na hul uitgespan het, keer Gert die perde na 'n kweekplaat en sandplek om te rol en om hul vereers van die water weg te hou. Koos maak vuur om koffie te maak en om 'n stukkie kos te berei.
Net toe begin 'n jakhals naby te tjank. Gert meen dat dit 'n nadroejakhals is en sê: ‘Maar Natie is vanaand vroeg besig. Hier is tog genoeg miere vir hom om knuppeldik aan te vreet.’
| |
| |
‘Nee Gert, jy vergis vir jou, dis nie Natie nie, dis Vossie, wat die karmenaadjies op die vuur ruik - dis 'n skaapvangerjakhals,’ merk Koos op, toe hy die rooster met vleis lig om kole onder in te krap.
Die jakhals draf weer 'n endjie met die kruispad en sit nog eenmaal so hard 'n keel op. Meteens hoor Koos en Gert die angsvolle kreet van 'n kind. Hul loop op die plek toe, vind Platjie daar, dood in die nood en lei hom kar toe, gee hom water en iets anders om sy skrik en senuwee-aandoening te stil. Toe Platjie na 'n rukkie beter word, vertel hy dat sy ouers, Iedries en Sina, in die tronk sit; dat hy nou alleen huistoemoes gaan; dat hy vrugteloos na Drakensteinvolk rond in die strate van die Paarl gesoek het; dat dit al laat geword het en hy dus alleen moes terug gaan. Hy was so moeg van rondstap dat hy gaan rus het en het agter die bos aan slaap geraak. Nou hoor hy die jakhals, waaroor hy so geskrik het, en daarom het hy gehuil.
Toe die ergste skrik verby is, sê Koos Fonk: ‘Platjie bly by die kar, baas Gert en ek gaan gou die perde na die water keer, dan kom ons dadelik terug.
Toe hul daar opsy staan, sê Koos Fonk: ‘Kyk Gert, ons moet 'n plan maak om Platjie saam te neem om my op pad te help, jy weet my jong het siek geworde.’
‘Goed,’ antwoord Gert. ‘Ek laat dit aan jou oor.’
| |
| |
Platjie het die twee base geken; want hulle twee het dikwels by sy oubaas aan huis gekom.
Toe hul by die kar kom, sê Koos: ‘Kyk Platjie, ons is bly dat ons jou gekry het. Ons het die ander dag met jou tata en memme gepraat en ook met die oubaas en ounooi om jou saam na die Onderveld te neem en hulle het ja gesê. Nou was ons op die plaas aan en die ounooi het gesê ons sal jou op die pad vinde. Nou is ons bly dat ons jou gekry het. Is jy klaar om saam te gaan?’
‘Baas Koos, hoekom het hul my dan niks van hierdie plan vertel nie? Baas Koos korswil maar, nè!’
‘Hier staan baas Gert, vra vir hom,’ sê Koos Fonk. ‘Jou oubaas het gesê, ons moet hom daarvoor slagskape bring. Jou tata en memme kry ieder 'n present en jy sal ses aanteelbokke ontvang. Nou, Platjie, dan is jy somaar in één slag ryk.’
Platjie se oë blink en word weer dof van afwisselende blydskap en twyfel. Hy kyk Gert aan en vra: ‘Baas Gert, is dit waar wat baas Koos my vertel?’
‘Nou basta, as jy vir baas Koos nie wil glo nie. Waarom sal ons jou met leuens voorkom. Aai, Platjie, dink net aan jou vee as hul begin aanteel - somaar tweeling lammers ieder slag en netnou het jy 'n groot klomp vee, sodat jy kan slag en verkoop, en die volk sal vir jou hoed afhaal en sê: “Dag baas Platjie”; want jy het dan mos geld op die bank.’
| |
| |
Platjie se kompas staan toe stil. Hy bevind hom in die middel van 'n see van onsekerheid.
‘Waar is my klere en kooigoed dan vir die reis?’ vra Platjie om uitdraaiplek te soek; want hy is ouderwets genoeg.
‘Jou kombers het ek gekoop en 'n ou jas is hier; jou nuwe jassie en velskoene sal ons by die eerste winkel koop. Toe, is jy klaar om in te klim en saam te gaan?’ vra Koos.
Platjie laat sy kop sak en raak diep in twyfel; onderwyl word die jakhals nog af en toe gehoor.
‘Basta Platjie, as jy nie wil gaan nie; ons gaan nou eet, dan inspan en jy moet alleen in die skemer jou weg huis toe soek. Jy weet die jakhals dwaal hier orals nog rond en dan moet jy langs die ou slawekerkhof verby stap,’ sê Koos om die beslissing te verhaas en af te dwing.
Platjie kry 'n gril oor die gedagte van jakhals en kerkhof, slaak 'n sug en sê: ‘Ja, ek sal saam gaan; maar hoe sal die ounooi dan weet, dat ek saam gaan en dat my ouers in die tronk sit?’
‘O jong, dis maklik om te verhelp. Hiervoor is 'n poskantoor; ek sal 'n briefie skrywe en dit daar pos en dan is die hele wêreld mos reg, nie waar nie?’
Ewe stemmig, sê Platjie: ‘ja baas.’ Die ‘ja’ is uit, wat nog so baie trane en kommer aan sy ouers sal besorg,
| |
| |
en wat aan sy oubaas en ounooi soveel slapelose nagte sal veroorsaak. Koos is tevrede en het sy voël met kaf gevang.
Koos Fonk was 'n vabond en bedrieër van die eerste water. Wie met Koos handel, moet weet hy moet vroeg opstaan, anders sit hy dubbeld gefop. Sy woorde is so soet as heuning, sy dade so smartend as die angel van 'n by. Handel drywe by hom, sonder bedrog, was vir hom so smakeloos as kos sonder sout. Hy maak geld eerlik as hy kan, maar kan hy dit nie eerlik maak nie, dan maak hy tog nog geld. As iemand hom op die skouer tik, met die haar-oog knik en sê: ‘Koos, jy is 'n gebore en geswore handelaar, want jy fop iemand met sy oop oë,’ dan antwoord hy: ‘Dis iedereen se gouigheid - daarvoor het hul ook mos oë en ore gekry. En hy, wat van sy oë en ore nie behoorlik gebruik maak nie, moet ly wat daarop volg.’ Hy was daarby die mening toegedaan, dat bedrog en handel so onafskeidbaar van mekaar is as pot en deksel. Hy het wel altyd gesê: ‘Ek weet, hul noem my Skelm Koos, maar ek weet goed wie ek moet toetrap en wie nie.’ Maar hy het dit altyd gedoen.
En tog het Koos Fonk altyd 'n ope hart vir 'n eerlik verleë man gehad. Hy sê: ‘Ek steel van Petrus om dit aan Paulus te gee.’ Sy bediendes het dit lekker by hom gehad: geld, goeie kos, en as dit nodig was, 'n
| |
| |
afgedankste pak slae daarby; daarom het hy altyd volk gekry as hy hul nodig gehad het.
Ofskoon Gert Buurman ouer was as Koos, tog het hy laasgenoemde altyd die eerste viool laat speel. Hy was nie soos Koos, wat jou openlik sal vastrap nie; maar hy het baie skynheilige praatjies verkoop, wat by sommige nogal dieper ingang gevind het als die onverskillige praatjies van Koos.
Gert was van die soort Fariseërs, wat die onderlip op die onderbaadjieknoop hang. Dit was net juis die man, wat vir Koos Fonk van die grootste diens in sy handelstransaksies kon wees. In ander woorde: Gert het probeer om eerlik te bly, maar kon dit nie reg kry nie. Hy wou almal gelyk gee. Het twee persone 'n woordestryd, en die een kom hom sy storie vertel, dan sê Gert: ‘Jy het gelyk,’ en kom die ander daarop weer sy verhaal van die storie meedeel, dan sê hy ook: ‘Jy het gelyk.’ En as 'n derde, wat die gesprekke aangehoor het, sê: ‘Gert, jy is 'n wonderlike man om al twee gelyk te gee,’ dan antwoord hy ook: ‘Jy het gelyk.’
O, skynheilige mensdom, wat sy medemens oordeel! As die helder soeklig op almal gedraai word, hoeveel blikskottels en blikborde sal van die rakke tussen die silwergoed moet pad gee! En hoeveel sal bly staan, wat as egte sterling silwer verklaar word!
Dit was toe al skemer geworde, hulle was klaar met
| |
| |
eet en het ingespan. Platjie voel hom huiwerig, maar klim op en sit gedurig om te kyk. Koos en Gert sit grappies te maak om sy aandag van sy huis af te trek, maar dit gaan vereers net swaar. Hul werk maar meer op sy verbeeldingsvermoë en vertel hom van die Onderveld, van springbokke, mierkatte en wat nie al.
Gert sê: ‘Platjie, jong, jy sal net groot man lyk as jy met jou hoed vol volstruisvere die Boland inkom en so na jou bokke kyk. Ek weet wat jy dan sal sing: ‘Sak-sak, sak-sak, sak-sak vol ponde. Vra vir jou ma die opsitkers en die velkombers. Sak-sak, sak-sak, saksak vol ponde!’
Hul ry nou die pad na Hermon toe. Onderkant Wellington gaan hul in die donker 'n huisie verby. Hier maak Koos of hy 'n brief skrywe, hy stap om die huis en kom terug en vertel dat hy die brief daar gepos het. Van toe af vertoon Platjie 'n blyer gelaat en begin ook te gesels, begin alles omtrent die reis uit te vra - en natuurlik in antwoord belieg Koos hom die nek vol.
Koos Fonk en Gert Buurman was twee veekopers, of liewers gesê twee smouse, wat vee vir negosiegoed inhandel. Die negosie kry hul in Kaapstad op vier maande krediet, wat deur sekuriteit van een of ander Spekulant gesteun geword het. Dan verdiskonteer hul ook 'n wissel op die Bank om vir daardie kontant ook vee in te koop. Hier moet hul versigtig wees om hulle skulde voor die
| |
| |
tyd te betaal, anders word hul krediet die nek deur wanbetaling ingeslaan.
Die plan vir hierdie teenswoordige tog is om na Vleisch Bank (Hermon) te gaan, daar veekopers te ontmoet om hulle skape, wat daar is, te verkoop. Gert gaan dan met die los perd, wat aan die kar gebinde is, terug om die geld te ontvang en die skulde te betaal, en hy kom dadelik af met twee negosiewaens, wat reeds vir vertrek klaar staan. Intussen gaan Koos Fonk en Platjie met die kar vooruit om vir kontant geld vee in te koop, die vee dan na Oorlogskloof (wes van Calvinia) oor te bring om daar met die vee vir Gert Buurman af te wag.
Wel, hierdie aand het hul tot naby Hermon gery, in die veld by groot oliewehoutbome uitgespan om die nag daar oor te bly.
Platjie voel toe nog nie heeltemal op sy gemak nie: die skrik van die tronk, magistraatshof en die jakhals werk nog op sy senuwee; daarom is Koos en Gert vir tydverdryf nog steeds besig om sy aandag deur Stories af te trek. Na hul die perde aan die seilkrip voer gegee het, het hul langs die kar op die grond hulle bedde opgemaak. Platjie kry die nuwe perdekomberse en 'n sak om bed van te maak.
Nie lang het hulle gesluimer nie of Platjie word deur 'n benoude droom gewek; hy skree en kyk verskrik rond met verwilderde oë en roep uit: ‘Waar is die
| |
| |
jakhals nou?’ Koos roep: ‘Kom jong, jy het gedroom!’
Koos het Platjie 'n goeie sopie brandewyn ingejaag en daarna het hy goed geslaap. Vóór dag het hul die perde weer voer gegee en toe alles opgevreet was, het hul lig dag ingespan en is op hulle gemak nog vroeg op Vleisch Bank, waar hul die veekopers ontmoet het en die vee almal verkoop geword het. Gert is van daar terug om die geld te gaan ontvang en om die lopende rekenings te vereffen. Koos en Platjie het nog gehelp om die skape deur die Bergrivier te ja. Die taak het groteliks vergemaklik geword deur gebruik van goeie voorbokke, wat die baas van die plaas spesiaal vir die doel aanhou en verhuur. Gert is te perd stil weggedraai, hy het gesê dat hy maar 'n endjie met die skape terug gaan, anders sal Platjie wil dwing om weer huist oe te gaan.
Oor Willems Vlei (Porterville) en Clanwilliam het Koos en Platjie die weg na die Warm Bokveld gevolg. Platjie voel hom nou nes. 'n ou togganger in die geselskap van die praatjiesmaker, Koos Fonk.
Koos is druk besig om Platjie lesse in handel te gee, vertel hom wat hy moet doen en sê hoe hy die ander moet toetrap. So nou en dan gee hy aan Platjie 'n kleinigheid om te verkwansel en lag hom lekker uit as hy hom laat toetrap het. Alle skelmstreke het hy Platjie geleer, net nie om te steel, in te breek, of iets wat hom in die
| |
| |
tronk kon bring nie. Sy les was: ‘Platjie, jy kan 'n man onderdeur spring; maar moenie sy goed gaan steel of vat sonder sy toestemming nie. As 'n man wil baklei, wees klaar vir hom en na hy die eerste hou gegee het, of jou met 'n stok gedreig het, spring dan onder sy lyf in en wys hom waar Dawid die wortel begrawe het. Moenie eerste slaan, sodat die ander jou kan gaan verkla nie.’
Hul kom in die Bokveld op 'n plaas waar kort daarna 'n smouswaantjie aankom. Koos sê: ‘Wag Platjie, vandag sal ek jou leer om 'n Jood droog te sit met handel. Bly jy vereers hier by die kar en stap dan na die perde toe.’ Koos stap na die smous en staan na die goed te kyk.
‘Wil meneer iets koop?’ vra die smous.
‘Nee, niks besonders nie. Ek kyk maar of jy jasse het. My Hotnotjie wil 'n jas koop en wil tot £3 gee. Ek het daar by die kar een wat vir hom goed is, maar wys ek dit vir hom; dan wil hy dit verniet hê en waarom moet ek my goed verniet weggee! Ek sal £2 daarvoor vat.’
‘Nee meneer, jasse het ek nie. Maar ons kan besigheid maak. Ek sal jou £2 vir die jas gee, as jou Hotnot eers sê, hy wil £3 gee.’
Hy pak sy goed toe en gaan met Koos saam om die jas te kyk. Maar 'n Jood is versigtig en Koos nie minder nie. So hou Koos die jas by die kar en die smous gaan vir Platjie vra of hy 'n jas wil hê. ‘Ja,’ sê Platjie, ‘ek
| |
| |
kan nie meer van die koue uithou nie.’ Hy steek sy hand in sy sak en wys die £3. Die smous koop toe by Koos die ou jas vir £2 en toe hy na Platjie stap om die jas te wys, sê Platjie hy het sy gedagte laat gaan en sal nou nie meer die jas vat nie.
Daar sit die smous met 'n ou verslyte ding waarvoor hy geen 10 shillings sal kry nie. Hy hou by Koos aan om die jas vir £1 terug te vat, maar Koos wil nie.
Platjie het natuurlik gehandel soos sy baas hom voorgesê het.
|
|