| |
| |
| |
Hoofstuk IV.
Voor die Magistraat - In die tronk.
Die Resident Magistraat van die Paarl het op 'n maand verlof van afwesigheid weg gewees, so het 'n ander persoon oorgekom om as waarnemend op te tree, hy was jonk en het maar min geduld gehad met die nat gemeente en met die ou gereëlde tronkvoëls. Om 10 uur is hy in sy stoel en die beskuldigdes word binnegelei.
Die eerste wat opgeroep word, is ou Dronk Spaas. Die Magistraat vra vir haar: ‘Wel Spaas, wat het jou hier gebring?’
‘Twee konstawels, mister.’
‘Seker weer dronk gewees, nes gewoonlik, nè?’ vra die Magistraat.
‘Ja mister, al twee was smoordronk,’ antwoord Spaas sonder 'n spier in haar gesig te trek. Die Magistraat glimlag.
‘Wel, en wat het die Magistraat laas aan jou gesê?’
| |
| |
‘As ek hier weer sou kom, dan drie maande; maar mister ek sal met één week ook tevrede wees,’ sê sy.
‘Nee, jy is te beskeie, ek sal jou volgens belofte drie maande gee, en pas op vir die volgende maal.’
Sy word verwyder en toe dien die saak van Iedries, Sina, Platjie en Hendrik Haas.
Die Magistraat tot Iedries: ‘Jy word beskuldig van aanranding - skuldig of onskuldig?’
Eer Iedries die woord kan vat, val Sina in: ‘Iedries, sê vir die mister dat Hendrik Haas, die vergalste skelm, die eerste ons goed kom buit het, dan kan hy mos in die tronk kom en proe hoe smaak dit.’
‘Stilte!’ roep die Magistraat, ‘ek spreek met Iedries - jou beurt kom netnou!’
‘As ek nie mag praat nie, dan weet ek nie wie mag praat nie. Hier sal ek been-oud word, eer ek 'n beurt sal kry,’ sê Sina op ongerekende manier.
‘Meid! wil jy tog nou eenmaal jou tong hou? Ek order jou om stil te bly!’ sê die Magistraat.
‘Iedries, dan hou jy ook maar jou bek - as ons dan nie vir ons regte mag opkom nie!’ praat Sina weer teë.
Die Magistraat tot die dierier: ‘Neem tog hierdie skepsel uit die hofsaal - ek sal met haar later afreken.’t Die diener stap nader, vat Sina by die arm en lei hoar uit.
‘Moenie so astrant vir jou wil hou om met my gearm te stap nie - ek is baie partikeler met wie ek
| |
| |
ingehaak stap. Ek is nie somaar watter ding nie. Ek is behoorlik 'n kaptein se dogter - Jonkies Danster is sy naam!’ roep sy uit, toe sy die saai uitgelei word.
Toe orde herstel is, vra die Magistraat weer: ‘Iedries, is jy skuldig of onskuldig?’
‘Mister, ek weet nie eintlik wat ek moet sê nie. Sê ek onskuldig, dan jok ek, want ek het Hendrik Haas goed met die klippe gekarnuffel, en sê ek weer skuldig, dan sou dit lyk of ek gaan skoor soek het. Ek het Haas net onder die klippers gesteek om my goed, wat hy gesteel het, van hom terug te vat,’ was Iedries se uitleg. Hy vra: ‘Hoe moes ek dan anders gemaak het, mister, om my goed weer in hande te kry?’
‘O so! dan verklaar jy jouself skuldig. Hoe durf jy self die wet in jou hande neem? En dan vra jy nog wat jy anders moes gedoen het. Jy moes 'n diener gaan roep het.’
‘Maar mister, toe ek 'n diener nodig het, kan ek nie een sien nie; maar toe ek hom glad nie meer nodig het nie, is hy by. Wat help dit?’
‘Wel, Iedries, aangesien dit die eerste maal is, dat jy voor 'n Magistraat kom, sal ek jou 10 shillings gee, of 14 dae tronkstraf.’
Daarop word Sina weer binne gelei en plooi haar gesig in 'n sedige tronie; want die diener het haar gewaarsku om haar propertjies te gedra.
| |
| |
Die Magistraat tot Sina: ‘Jy word beskuldig van klippe na Hendrik Haas gegooi te hê en verder dat jy 'n groot bombarie opgeskop het - is jy skuldig, of onskuldig?’
‘Mister, ek is onskuldig. Ek het wel klippe na Haas gegooi; maar dis tog te jammer, dit was mis. Hy het met ons goed weggehol en ek wou hom laat stof byt het. Dis waar, ek het 'n bombarie opgeskop; maar dit was om die besope goed tot order te roep; ek kon net so goed sa-sa geskree het. Meer kon ek nie gedoen het nie, mister.’
‘Ja, en wag,’ sê die Magistraat, ‘en dan het jy jou hier in die hof oproerig gedra. Ek vind jou op al hierdie punte skuldig, na ek die getuienis gehoor het. Ek sal jou 10 shillings gee, of 14 dae.’
‘Baie dankie mister, die 10 shillings sal ek vat, maar die 14 dae kan maar bly,’ sê Sina met 'n verheugde gesig.
‘Nee, verstaan goed: ek beboet jou met 10 shillings of 14 dae tronkstraf,’ herhaal die Magistraat. Dit laat haar glimlag in 'n suur en verslae gesig verander.
Hiermee was die sake op 'n end behalwe die saak van Hendrik. Hy bewys deur valse getuie dat hy nooit die goed geneem het nie; dat Iedries en Sina in hulle beskonke toestand hom kom aanrand het. Dus hy word vry gelaat.
| |
| |
Teë Platjie was niks ingebring nie, hy mag ook huis toe gaan. Hy versoek om by sy ouers in die tronk te mag bly, maar sy versoek word van die hand gewys, waarop hy hartroerend in trane uitbars. Iedries en Sina kan hulle nie bedwing en hul trane weerhou nie - selfs die aanwesige in die hof, word met innige medelyde bewoë. Toe die tronkdeur, wat in daardie tyd naas die Magistraat-kantoor gewees het, agter Iedries en Sina toegegrendel word, kan hul Platjie nog voor op straat hoor huil. Die smekende stemmefjie gaan verder en verder, en word eindelik nie meer gehoor nie. Ja, en dit was die laaste van die stem, wat hul vir 'n lange tyd sou hoor.
Treurig en hartseer gaan die twee teen die muur van die tronkagterplaas sit en beskou nogmaals die plek van hoekie tot kantjie.
‘Aai, my ou, my hart voel vandag baie seer in my. Vrolik het ons van huis gegaan, treurend moet ons bloedjie alleen die weg na huis vinde. Ek is bang, hy sal verdwaal en nie terug kom nie.’
Iedries probeer om haar moed in te praat en sê, die 14 dae sal wel gouer om wees as hulle dit voorstel, maar Sina sê: ‘Aai, 14 dae is lank! Ons weet die baas is vir 'n maand van huis, maar as die nooi maar stuur om ons uit die tronk te haal.’
‘Ek het maar min hoop, dat die nooi sal kom, want
| |
| |
die baas het die kar en perde saam geneem,’ sê Iedries.
‘Wèl, as die nooi 'n plan wil maak, daarvoor is sy nie te sleg nie. Maar wil sy nie, dan sal ek maar hier in die tronk vrek. Maar as my kind op die pad 'n ongeluk mag oorkom, dan sal ek oor daardie ding nooit kom nie,’ sê Sina op 'n verdrietige manier.
Terwyl Iedries vir Sina sit troos - want sy is regtig hartseer - kom ou Tys Tandjies nader en vra verwonderd: ‘Og, wat maak sulke brawe ou skepsels as oom Iedries en tante Sina dan hier in die tronk? Sulke ou prysenswaardiges kan hul maar gerus loslaat.’
Sina voel skaam en nors, en ewe botweg vra sy: ‘En wat soek jy hier?’
‘Ag, tannie, by my is dit 'n gewoonte, en 'n gewoonte is 'n gewente. So skoot om skoot vang die Engelsman my aan die agterpoot en keer my kraal toe. Ja, tannie, 'n Engelsman as hy vir jou sê: jollie booi, jollie booi, eer dit eltuur is, drink ons saam; maar ag - as hy eers daardie woord “dennemiet” sê, glo eer dit middag is, moker hy jou,’ antwoord Tandjies ewe onverskillig. Hy vervolg weer: ‘En dan bly dit nie daarby nie, nee, dan is hy te lief om jou in die tronk te stop. Ek het dit liewers soos by die Boere - hul gee jou 'n goeie loesing met die sambok, dan is alles oor en jy verdien weer jou eie geld by die selfde baas.’
Hierop merk ou Iedries aan: ‘Ek weet wel dat slae
| |
| |
'n mens beter gemaak het; maar toon my die man, wat in die tronk beter geworde het.’
Ou Spaas, wat staan passies in die agterplaas maak, vat die woord: ‘Wat is jul dan so orig met. julle lyf om julle te laat slaan, - dit sal ek so nooit toelaat nie - slawetyd is verby!’ Daarop vlie sy kort om, lig haar hakskeen, gee dit 'n paar klappe met haar hand en roep uit: ‘So slaan ek die hele boel af. Ek kom liewers hier in die tronk sit as om my te laat kasty. Hier kry ek alles verniet. Ek is net so ryk as koningin Viktorie; want sy het genoeg en ek het genoeg. Sy kry haar kos verniet, ek ook; sy word deur wagte opgepas, ek ook, en wat die deksels wil ek meer hê?’
‘Og, wat help al jou rykdom vir jou - jy sit opgesluit, en Viktorie nie,’ sê Tandjies.
‘Wat help dit? Dit help baie! Hier kry ek kos en slaapplek verniet - by jou wrintig nie. Ek is 'n knap meid: my hande is soos seep, die werk glip daardeur; maar julle hande is met voël-ent besmeer - die werk sit daaraan vas.’ Weer spring sy kort om, trippel weg, druk die een hand in haar sy en swaai met die ander en sy roep uit: ‘Gee pad voor, julle tannie kom!’
Ou Tandjies roep uit: ‘Die wegtrap van haar, die maak my so naar!’ Waarop sy weer sing: ‘Oor die wegstap van hom, Sal my harte net blom.’
Al hierdie spektakels van die ou twee tronkvoëls,
| |
| |
Spaas en Tandjies, verset ou Iedries se verdriet; dit laat hom aanmerk: ‘Ei, jul maak dit net plesierig hier vir julle in die tronk!’
‘Oom Iedries, as jy eers gramaste wil aanskou, dan moet jy kom kyk as ons hier in die agterplaas sit - ons is dan so vrolik as hasies op 'n kweekplaat,’ merk Tandjies op.
‘Jou malle verstand!’ roep Sina uit, wat al die tyd vir 'n wonder stil gebly het; maar sy treur. ‘Al gee jul my hier tert en pasty, met drank daarby, sal Jul my hier nooit plesierig maak nie - dis hier nie 'n plek vir 'n fatsoenlike Hotnot nie.’
Kort daarna word Iedries se hare kort teen die kop afgeskeer en die skêr het ook oor die klapperdop van Sina gewei. Elkeen sit nou in bandietklere, wat alles nog nie so swaar is nie as om van mekaar geskei te worde, want die mans en meide kom in afsonderlike afdelings. Nou word die tyd vir hulle lank - dae lyk so lank as weke, en die twee weke so lank as twee maande.
Maar aan alles kom 'n end. Hul word losgelaat en kry weer hulle goed terug - Iedries sy knapsak en Sina haar handmandjie. Toe hul so drafstap die straat afloop, sê Sina: ‘Ek voel nou so bly asof ek 'n shilling verloor het en 'n pond opgetel het. Maar kom, laat ons gaan kyk of al ons goed nog hier is.’ Op 'n afgeleë plek vind hul nog alles korrek, net Hendrik het die twee
| |
| |
bottels wyn uit die knapsak die ander dag gesteel; maar elkeen het nog 'n shilling, so was daar nog koring in Egipte. Die twee stap weer af na Bob se kantien toe om die geleë skade in te haal en om verdriet te verdrink - pyn en smart word eerder vergeet as plesier.
Bob lag toe die twee ingestap kom en vra: ‘Het jul ook nou geproe hoe tronkstraf smaak? Pas op net vir 'n volgende keer!’
‘Seur, gee nou vir my en my ou meid 'n bottel, sê Iedries, dan wil ek met Hendrik Haas ook afdrink.’
Bob en Sina sê om tog met Hendrik nie af te drink nie, maar Iedries het sy houtjies klaar gehad, wat hy met die glas wyn geming het. Hy roep vir Hendrik, wat daar agter die bos staan uitloer. Die twee was dan kamma so bly om af te maak, maar Haas moes gou trap, om die dag nie weer sy verskyning te kom maak nie - dis 'n ou stel wat dikwels destyds moes afgetrap worde.
Nou rook Iedries weer dat die wolkies rondsweef en Sina klap so af en toe op die snuifdoos.
Die skrik sit egter nog in hulle lyf en daardie dag versuim hul nie lank nie, maar neem genoeg lawaai-water om langs die pad en tuis te verjaar - dit was nou maar eenmaal 'n ingewortelde gewoonte van die volk.
Op weg agter die kersbosse buitekant die pad, het hul die grootste part van die dag loseer; want hul was
| |
| |
te skaam om te vroeg tuis te kom. Die eerste gaan hul pondok toe en vind daar gelukkig nog alles in orde.
En toe die son agter die Paarlse berg wegkoes, stap die twee na die woonhuis van die oubaas, wat nog nie tuis van sy reis gewees het nie, Die ounooi staan in die kombuisdeur en van ver af roep Sina uit: ‘Dag nonna! Hoe gaan dit nog hier? Dag my ounooi!’
‘Beter as by julle! Waar het julle dan so lank weggebly?’ was die antwoord en vraag.
‘Aai, my nonna, waarom het nooi dan nie gestuur om ons uit die tronk te los nie?’ vra Sina.
‘Ek het julle mos nie daarin gestuur nie. Julle wil ook nie julle drinkery laat staan nie, nou moet jul ook 'n slag voel om in vervolg te luister,’ is die antwoord van die ounooi.
‘Nooi, en hoe gaan dit nog met Platjie? Het hy veilig hier aangekom?’ vra Sina.
‘Kyk, en was hy dan nie saam met julle in die tronk nie?’ vra die ounooi met verwondering.
‘Nooi speel maar! Hy is seker hier êrens,’ merk Sina op. Maar toe dit 'n saak van erns blyk, is almal op die plaas onrustig. Hul het die volgende dae gaan soek, maar sonder hom te vinde. Platjie is weg.
|
|