| |
| |
| |
Hoofstuk I.
Die Pondok en Koker.
Aan die voet van die Drakensteinberg in die distrik van die Paarl het 'n pondok onder 'n eikeboom gestaan. Die inwoners daarvan was ou Iedries en ou Sina - twee opregte peperkorreltjie Hotnots, regstreeks van Groot Damaraland, wat hul omtrent die jaar 1820 verlaat het. Hul het drie kinders gehad: Filies, die oudste seun en Etta, die enigste dogter, was reeds al twee getroud, terwyl die jongste seun, Platjie, nog onder hulle beskerming in die pondok was - hy het die naam van Jakob later as doopnaam gekry. Sy ouers was seer aan hom geheg en hul het hom altyd voor die ander twee getrek, wat nie so plesierig vir Filies en Etta was nie.
Platjie was omtrent twaalf jaar oud en net 'n plesierig en skrander Hotnotjie; jammer maar dat hy daardie skranderheid nie altyd in die regte rigting aangewend het nie. Sy oubaas het altyd gesê:
‘Platjie, jy is vir die houtjie van die galg ver te slim: hang 'n mens jou op, dan byt jy die tou af; skiet 'n mens jou, dan vang jy die koeël; smyt 'n mens jou in
| |
| |
'n dam water, dan suip jy dit leeg; gooi hul jou in die vuur, dan spuug jy dit dood; wil 'n mens jou vang, dan klim jy in 'n boom en as die een bo in die boom klouter om jou te vang, dan staan jy reeds op die grond.’
Hy het sy ouers tata en memme genoem - 'n gebruik wat van die slawetyd bestaan het, want slegs die blanke kinders het die voorreg gehad hulle ouers pa en ma te noem.
Met al hulle gebreke, was ou Iedries en Sina twee ou troue skepsels; wel is waar, dat hul soms hulle lyf by swaar werk weggesteek het, maar dan redeneer hul weer so: wie maak nie so nie?
By hierdie tyd was ou Iedries omtrent sestig jaar en ou Sina was 'n handjie vol jare jonger as hy en moes sowat vyf-en-vyftig jare bereik het. Hy was bokwagter en was net gek na sy ou meid - was daar 'n geskilletjie tussen hul, dan was dit soos 'n stomp vuur, wat in die water gedruk word - dit sis, dit rook en gou-gou is die gebruis en damp verby.
Voor die pondok het hy vir haar 'n kookhuis of koker gemaak om son en reën weg te keer. 'n Koker het presies die vorm van 'n groot omgekeerde tregter - bo by die gat borrel die rook uit. Die pondok was die woonplek en die koker die kombuis en geselsplek; want 'n Hotnot sterf sonder vuur, en die rook is sy leventel.
Met één ding was die oudjies so gereëld as klok- | |
| |
werk: by die end van die maand, as hul hulle werkloon ontvang het, dan hou geen wind of reën hul teë om dorp toe te stap nie. Uit die dorp kom hul nie alvorens die laaste pennie daar uitgegee is. Dan kom hul luidrugtig in geselsery en sing-sing huis toe. Daardie dag moet hul vakansie gaan hou.
Wèl, die end van die maand het weer gekom; weer het hulle geld ontvang en nou sit die drie dit in die oggend in die koker nareken. Almal stry; maar uiteindelik kry ou Sina haar was- en strykgeld, Platjie sy halfkroon as varkwagter en Iedries knoop sy part van die geld in die punt van 'n doek en steek dit in sy knapsak, en almal is nou tevrede.
‘Toe, toe,’ sê hy, ‘ek wil trap - julle wil die dag hier in die koker om maak.’
‘Kyk, my ou, ek sal nog my rok dik en bont wil lap; maar wrintig ek gaan my maag nie ingord om hom te fop nie. Hier is mos nog die skaap se ingewande, laat ons dit in 'n omsientjies braai en eet - dan is ek jou kiewiet om jou langers my te laat drafstap.’
Daarop gaan die drie om die vuur in die koker sit en vleis braai. Sina bly aan die woord.
‘Ons het dit reeds so swaar onder die Duisvolk, dan wil jul die wêreld vir 'n mens nog smaller maak. Ons moet hard genoeg swoeg vir die bietjie geld, waaroor ons moet wurg om dit uit die base hulle hande te kry en al dankie
| |
| |
wat ons boënop kry, is om te hoor hoe lui ons is. Wag maar, daar sal eendag 'n end aan kom.’
‘Ja, wanneer?’ vra Iedries op 'n ongerekende manier.
‘Wel, as ons gevrek het en hul ons onder die grond in gestop het,’ antwoord Sina kortaf, toe sy die vleis met haar hand op die kole omdraai.
‘Nou, as dit so moet kom, dan wens ek dat ek reeds op die troon van ewige rus sit,’ sê Iedries met 'n houding van kom soos dit wil.
Met 'n blye gelaatstrek sê Sina, toe sy met haar ellemboë op haar knieë rus en haar hande in tevredenheid saamvou: ‘Nee hartjie, weet jy wat ek liewers sal wens? Dis, om nou by ou Bob in die kantien smoordronk te sit.’
Met 'n opgewekte gesig slaan Iedries vir Sina op die skouer en vra: ‘My ou, waarom moet jy altyd meer beterder wens as ek?’
By hierdie tyd begin hul aan die gebraaide kos te eet en die gesprek werd vroliker. Toe kan 'n mens hoor hoe hul die witmense nou prys, omdat hul so fluks is om drank te maak en dit ook aan die bruin mense te gee en te verkoop.
Platjie, wat in die gesprek geïnteresseer is, vra: ‘Tata en memme, sê nou daar was glad g'n drank op die wêreld nie; wat sou julle gemaak het?’
‘Wel, dan moes ons die moord steek! Maar jy is gek;
| |
| |
waar is daar 'n plek op aarde waar 'n mens nie 'n sopie kan kry nie?’ merk Iedries in volle oortuiging op.
‘Ek weet watter plek 'n mens in die dorp nie drank kan kry nie!... Moet ek sê?... In die tronk,’ was die polietse aanmerking van Platjie.
‘Hou jou snater!’ roep Iedries uit. ‘Moenie hier al voorspooksels van die tronk wil maak nie - dis dinge waaroor jy moet gesels as ons eers die dorp uit is. Hou die ding maar net dig, my jong.’
‘As ek hier nie kan drank kry nie, dan spaner ek sonder om 'n oomblik te wag reguit na my land toe - daar is genoeg heuning om bier van te maak, en daar het jy ook nie die ewige las van konstawels nie wat net daarop uit is om hulpelose mense die tronk in te prop. Nee, ons weet daar nie van sulke goed as tronke nie,’ sê Sina, wat haar nie laat vermaak nie, maar wat vir die tronk so bang is as 'n bobejaan vir die hits van 'n gloeiende yster.
‘Maar sal die oubaas ons dan nie uit die tronk kom los nie?’ vra Platjie. ‘Hulle sê mos hy is kos aan en het baie pitjies op die bank.’
‘Gà!’ was die veragtelike lag van Sina toe sy sê: ‘Moenie glo nie! Die Duisvolk sê mos dat die tronk, die kats en pergasie moet jy nooit by 'n Hotnot spaar nie - dit hou hom gesond en fluks.’
‘Maar tata en memme, waar lê tog die danige ge- | |
| |
boorteland van julle, waarvan ek so baie hoor praat?’ vra Platjie belangstellend.
‘Toe, Iedries, toe, vertel tog aan die kind van ons land, waar ons aldag verjaar het,’ sê Sina. ‘Ek weet nie wat die drommel ons gery het om hiernatoe te kom nie.’
Iedries gee 'n sug toe hy 'n stuk vleis met sy tande vasbyt, met die linkerhand vashou, terwyl hy dit met sy sakmes voor sy mond sit afsaag.
‘Daardie land noem ons Damaraland. Hy lê vèr hiervandaan. Jou binnevet sal smelt voor jy die end pad daarnatoe afgestap het. Waar my ouers gewoon het, is baie rante en koppies. In die rante is kranse en in baie van die kranse is klipgate of kliphuise. In een van die kliphuise was ek gebore.’
‘Maar dis seker baie lank al?’ vra Platjie.
‘Oe! lank, lank geleë! Tafelberg was toe so groot as 'n perdevulletjie en die waaisand so groot as 'n molshoop. Ons Hotnots het mees in pondokke in krale gewoon, terwyl die swerwer van 'n Boesman in die spelonke gewoon het. Daar teen die kranse het hul prentjies gemaak om te wys hoe uithaler hulle was, hoe hul gevry, geveg, gedans en wild gejag het. Die prente was hulle boeke, wat hul geskrywe het - party tekenings is rooi, ander swart en ander weer wit. Hul teken vir hulle self af as rooi klein mensies met pyl en boog in die hande. Ons Hotnots teken hul weer groot en rooi af, terwyl
| |
| |
die Kaffers altyd met asgaaie swart afgeteken word.’
‘Is memme ook in een van die gate gebore?’ vra Platjie.
Voor Sina kan antwoord, val Iedries in: ‘Nee, sy is op die kaalhaai-vlakte onder 'n volstruis uitgebroei.’
Sina slaan die as van die vleis op 'n klip af en werp teë: ‘O, dit mag jy jou verbeel dat ek somaar watter ding is. Ek is behoorlik in die pondok van my pa, Jonkies Danster, die kaptein van die stad, gebore. Hy is Man - swaar in die baard - aldag skeer. Nou hou jy jou so asof jy dit kamma alles vergeet het. Weet jy nog, hoe jy moes pamperlang om my te kry? Toe ek jou die jawoord gee, soen jy my dat jou wange hol trek en jy bedank my ouers dat die stof so trek.’
Iedries gee Sina so 'n skelm tikkie onder die ken en met 'n skudlaggie sê hy: ‘Oei! ou Jonkies Danster se voor-trippelaar! - ei, gee pad voor!’
Na hy 'n paar slukke water gedrink het, vervolg hy: ‘Ons Hotnots het baie vee gehad, baie melk en baie heuning was in die veld, ook volop wild en rysmiere; maar die witmense het daar kom jag en het die wild baie verniel en verjaag.’
‘Ja, en daarmee was die Duisvolk nie tevrede nie; toe wil hul ons, Hotnots, ook uitroei - net soos hul aan die Kaap gedoen het,’ val Sina in die rede.
‘Kyk, Sina, as jy daardie mond van jou nie kan
| |
| |
toehou nie, dan gee ek jou netnou 'n klap in jou ete en drinke. Swyg nou tot ek klaar is.’
Daarop vervolg hy: ‘Daar in die wêreld is nie bra lopende water nie: maar water is in die rivierbeddings vlak. Die gate wat in die sand gemaak is, word deur ons Hotnots gorrê's genoem. Die Boesmans het weer 'n ander plan as hulle vlak water op die vlaktes aantref: hul neem 'n lang riet, wat uitgehol is, steek dit tot onder in die water; dan stop hul die gat bo toe sodat net 'n kort endjie van die riet bo die grond uitsteek. Wil hul nou water drink, dan suig 'n ieder op sy beurt aan die riet. Wil hy 'n bak of leë volstruis-eierdop vul, dan suig hy die water deur die riet en spuug dit in die bak uit totdat dit vol is. As hul na die drinkplek stap, trap die een Boesman in die spore van die ander om te vermy dat 'n voetpad soontoe getrap word en as hul terug gaan, veeg hul die spore met 'n tak dood. Op hierdie wys bly hulle drinkplekke net aan hulle alleen bekend. As hul in dorre streke ver agter wild moet gaan, neem hul gevulde volstruis-eierdoppe met water saam en begrawe dit op afstande sodat hul dit weer met terugkom kan vind.’
‘Sien jy, my kind, so is dit nie raadsaam om in dorre streke die Boesmans te agtervolg nie - hulle kry water en die agtervolgers kom om van dors. En o! dan kan die vergalste diewe steel! Hul verdien net om die nekke
| |
| |
ingeslaan te word: want aan hulle kopbene maak jy niks - dis so hard as klipsteen,’ merk Sina op.
‘Dit sit nie in iedereen se broekspyp om 'n Boesman te gaan doodslaan nie. Jy sal jou lyf net moet smal hou as oom Boesman sy gifpyle rondom jou laat vlie. 'n Hotnot se oë kan fyn rondsnuffel, maar die van 'n Boesman raak 'n verkyker baas. Wat jy meen om te sien, het hy al vanselewe klaar beskou.’
‘Maar dan is hulle net soos wilde diere,’ merk Platjie op.
‘Wat praat jy daar?’ las Sina in, wat stilbly tog te swaar vind. ‘'n Wilde dier is 'n pure bog om kers by 'n Boesman vas te hou. Nee, 'n Boesman is gedoriewaar ver bokant die kerfhoutjie van wild gediertes.’
‘Eendag kom daar by ons jagters aan,’ so vervolg Iedries sy storie. ‘Ek was toe net pas met jou memme getroud. Orals het ek met die jagters saamgegaan om die wild se loopplekke en die waters aan te wys. Toe kry hul mos saans geleentheid om my om te praat om met hul na die Kolonie saam te gaan, na die plek waar so baie twak en drank is. Ons laat ons waarlik waar ompraat.’
‘Ons het ons aan die ore laat lei en hier sit ons plat in die pot verspot,’ las Sina aan.
‘Die jagters het ons wel by hulle huise van twak en drank, geld en klere hoor praat; maar onsself het
| |
| |
daar dadels van gesien. Toe het ons begin swerwe soos skulpaaie - die een aand agter hierdie bos, die ander aand agter daardie bos, tot ons eindelik by hierdie oubaas en ounooi uitgekom het. En mag ons hier 'n stukkie genadebrood eet. En as die dood eendag ons oë toedruk, mag ons ou geraamtes dan hier in vrede rus.’
‘Troos jou nie met 'n gebarste kalbas nie. As ons eendag oud en afgeleef is, kry ons die blik aan die stert om te trap. Kyk, hoe was die ou melkkoei, Aandblom, in die bloei van sy jare nie opgepas nie! Sy werd geroskam en het voer op stal gekry. Toe sy nie meer melk genoeg na hulle sin gee nie, moes sy buite in die ope kraal en toe sy vet genoeg van skone veldgras was, werd sy aan die slagter verkoop om biltong en soutvleis van te maak.’
By hierdie tyd het hul klaar met eet gehad en Platjie begin sing:
Moenie huil nie, moenie treur nie,
Ons gaan proe hoe duiwesop smaak.
Moenie huil nie, moenie treur nie,
Ons gaan stap om lyf reg te maak.
Iedries stop sy pyp, krap 'n kooltjie uit die as, gooi dit met sy hand op die pyp en laat die blou dampe vlie. Sina sit haar kopdoek om, haak die hand-mandjie in haar arm, terwyl Platjie nes 'n haan sy stertveer in sy kolotjie in steek om parmantig te lyk. Toe Iedries
| |
| |
sy knapsak om sy skouers slaan, sê hy: ‘Nou wag ek nie 'n oomblik langer nie, sluit toe die deur en nou trap ek; - wie wil agterbly, kan maar agterbly.’ Botstil steek Iedries vas, sy pyp is dood en die ou trek dat sy wange induik. Hy gryp weer 'n kooltjie en daar brand die pyp. Sina klop op die snuifdoos en prop 'n spul mondsnuif agter haar onderlip, en daar stap hul Paarl toe.
|
|