woord is begrypliker, en hy is tuis in die klankverband (met ‘links’). Die verbetering is hier aangebring.
Die manuskrip van ‘Die bestelling’ is opmerkenswaardig vanweë die wysiging in die reëlvolgorde wat Visser in die bundel aanbring. In die manuskrip lees die derde strofe soos volg: ‘Die water moet so helder lyk,/So helder as kristal/En elke maal as sy verjaar/Moet 'ploemps' 'n appel val/'n Ronde rooiwang-appeltjie .../ Ek dink dit is nou al.’
Dikwels is die byskrifte anders. Gewoonlik word dieselfde gedagte net anders, meer persoonlik verwoord. In die manuskrip van ‘'n Dosyn waarhede’ heet die byskrif: ‘Vir ouma kan dit nie te hartlik wees nie’. By ‘Rymritjie’ het die bundel afgesien van die manuskrip se meer ‘volwasse’ byskrif: ‘Van die verhewene tot die belaglike is maar één treetjie oortréé.’
In sommige gevalle is die bundel nie 'n foutiewe weergawe van die manuskrip nie, maar bevat die manuskrip 'n alternatief wat volgens my selfs beter as die finale keuse was. ‘'n Dosyn waarhede’ is in die manuskripvorm: ‘'n Dosyn waar-hede’. Die konteks gee hierdie spel-wyse gelyk. In ‘Heldelied’ het die manuskrip vir die bundel se ‘grof’ in die tweede strofe die woord ‘rof’; 'n kleinigheid, maar ook hier sou mens ten gunste van die manuskrip kon kies.