Versamelde gedigte(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 332] [p. 332] Heimwee (Te sing op die melodie van ‘Aberfoyle’, deur Albert W. Ketélby.) O, hoe swaar was dit vir my vaarwel te sê Aan die Boland met sy berge dynsig-blou; Aan die strome klaar en rein In die goue sonneskyn Wat my bind aan die verlede en aan jou! Liewe Boland, wanneer sien ek jou nou weer? Weer die duine opwit teen die hemelblou? Maar al duur dit kort of lank, Eenmaal kom die dag, Goddank, Dat ek weer my huis se berge sal aanskou! Koor: Want die Boland is my huis; Nêrens voel die hart so tuis; Altyd hoor ek jou musiek, O wind, wat in die denne ruis, En die boodskap wat jy bring } twee maal As jy deur die blare sing, } twee maal Is die groete van die Boland: } twee maal Welkom aan die swerweling! } twee maal In die vreemde het die lewe my gevoer Ver van al wat my aan die verlede bind, Maar nog altyd skyn die lig, Altyd kom die droomgesig Van die Boland en 'n sorgelose kind; En dan pluk ek wilde blomme in die vlei, Of ek lag weer met die branders aan die strand En ek voel, waar ek mag woon, Sy ook alles om my skoon, Altyd sterker word die onverbreekb're band. Koor: Want die Boland is my huis; ens. Die Huisgenoot, 8 Februarie 1929 Vorige Volgende