| |
| |
| |
Latere ongebundelde gedigte
| |
| |
Piet Slemiel
(Die grondidee ontleen aan die novelle van Adalbert von Chamisso Herr Peter Schlemihl)
Neef Pieter Slemiel was eenvoudig, maar eersaam,
Sy lewensgeskiedenis tragies, maar leersaam.
Ordentlik, maar brandarm, en maer as 'n kraai,
Ook rank van vleis, lelik van aansien, maar raai
As Piet penorent in die sonlig gaan staan,
Of selfs op die vlakte by heldere maan,
Dan werp hy 'n skadu so dik en so vet -
'n Prag van 'n skadu; my vriende, ek wed
'n Mens sal moet ver in die wêreld rondry
'n Skadu veel netter of vetter te kry!
Eendag staan hy so op sy eentjie en kyk.
‘Betrag daardie skouspel,’ sê Piet, ‘so lyk ryk.’
Want net kom oom Hans du Plessie daar verby
- En Lazarus se vrind was nie ryker as hy -
So styf agteroor in sy blink landoulet
Met oë wat uitpeul van voorspoed en vet.
En spogrig was hy; by 'n dorp of 'n plaas,
Dan stoot hy sy drywer aan: ‘Pieterse, blaas!’
So oordeelsdagagtig as Gabriël se hoorn
Sal klink op die einddag van vrese en toorn,
Laat blaas hy en maak of die rykdom nie tel,
Terwyl tog van hoogmoed sy nekhare swel!
‘Hoe goed,’ sê Slemiel, ‘vir jou liggaam en gees
Net een dag so ryk as oom Hansie te wees!’
Die woord was nie koud nie toe voor hom kom staan
'n Vreemde met vaal jas en bokbaardjie aan.
Met hoflike buiging begin hy: ‘Meneer!
Pardon dat ek self my moet introduseer.
Ek heet Van der Vaaljas; ek kom ver vandaan;
Toevallig sien ek u allenig hier staan.
'k Moet eerlik erken, en dit sonder vlei,
Geen mens het 'n skaduwee mooier as jy.
Hy lyk tog so net en so vet en so rond,
Die fees vir die oë laat water jou mond,
'n Blinde kan sien hy is fris en gesond,
| |
| |
'n Kunswerk, niks minder, lê daar op die grond!’
Piet erg hom nou bloedig en sê ewe koel:
‘Was jy nie 'n vreemde, 'k sou sê: “Hou jou smoel!”
Daar's baie meer woorde wat ook rym op rond,
Maar nou bly jy stil en dit sieto (terstond!).
Al lyk ek eenvoudig, armoedig en naar,
Meer rede vir jou my jou spot te bespaar.’
Maar Vaaljas kyk hom met 'n glimlaggie aan:
‘Ou vrind, jy het dié slag die bal misgeslaan.
Ek wil maar 'n handelsbetrekking aanknoop.
Noem my net jou prys: 'k wil jou skaduwee koop.
Vir my's dit nou eenmaal 'n liefhebbery,
'n Stokperd, 'n hobbie of wat dies meer sy.’
Metdat hy dit sê, haal hy iets uit sy sak.
‘Nee dankie,’ sê Piet, ‘ek gebruik geen tabak!’
‘Ou vrind, dit is spotkoop: jou swart skaduwee!’
‘Nou top,’ sê Slemiel. ‘Goed, en wat sal jy drink?
Die sak moet vir oulaas die piekfynste skink.
Gesondheid en prosit, die saak is beklink.’
Te voorskyn haal Vaaljas 'n skêrtjie wat blink.
‘'n Oomblikkie, Piet, bietjie weg van die klip,
Terwyl ek jou skaduwee netjies uitknip.’
Hy rol hom sorgvuldig op: ‘Pieter, adieu!
Verwag my vandag oor 'n jaar weer, Mesjeu;
Wie geld het, het alles: vroueliefde en wyn -
Leef lekker!’ en Vaaljas was skoonveld verdwyn.
Piet loop nou 'n trippel, en trippel 'n dansie
So bly as die skooljeug die dag van vakansie.
Vergeet glad hy kan uit die toorsakkie haal
'n Ryperd kompleet met sy toom en sy saal.
Hy juig: ‘O, nou gaan ek tog bad in sjampanje,
Want nou's ek so ryk as die Prins van Kokanje!
Moet ek by geleentheid 'n skaduwee hê,
Dan vra ek vir Pierneef, hy sal wel oorlê
'n Skadu te skilder so mooi as op aarde,
En hy word dan eenslag betaal na sy waarde!
Ek word nou meteens ook 'n man van gewig,
En gaan na die Volksraad, nie meer as my plig,
Ek leef, van my rente, ek hoef nie te werk,
| |
| |
En netnou is ek 'n pilaar van die Kerk,
Die landdros, die leraar, kom speel met my skaak -
Die onderskeid wat tog die geelvinkies maak!
Die dames die kry my nou skielik ook lief,
En waar word my drome van Annie Retief.’
Piet loop nog so lekker, daar hoor hy 'n gil.
'n Ou vrou val vlak by hom neer dat sy dril.
Sy skree en sy skop en sy gaan so te keer.
‘Wat is dit, ou tannie, wie't jou molesteer?’
‘Wyk, Satan,’ skree sy, ‘onnatuurlike man:
Is jy nie der Duiwel, waar's jou skaduwee dan?’
En dit was nog maar die begin van sy smart.
Die skooljeug het hom agtervolg en getart.
Hy was ook by elke verskyning op straat
Die spot van Jan Salie, Jan Rap en sy maat.
‘Die beste sal nou wees: ek bly daar maar uit,
Al lewe ek ook soos 'n uil op 'n kluit.
Wie geld het, het vrinde, dit spreek as 'n boek,
En buite hoef ek my plesier nie te soek!’
Maar tuis sien sy vrinde verwonderd hom aan:
Waar kom al die rykdom so skielik vandaan?
En wat het hy dan met sy skadu gedaan?
‘Ag, mense, dis maklik genoeg te verstaan:
Ek was vanmelewe nog heeltemal jonk,
Toe kry ek rooihond, kort daarna ook rooivonk,
Die siekte was kwaai kan ek julle vertel.
'k Verloor toe my hare, my naels en my vel.
My skaduwee, ook, het maar altyd gekwyn
Tot onlangs, en toe is hy spoorloos verdwyn.’
Vir een sê hy kortaf: ‘Ag loop na Jan Dorie.’
Vir ander prakseer hy 'n roerende storie:
‘Ek was, arme wees, 'n twaalfjarige knaap,
As wagter een bittere nag by die skaap,
Verkluim tot die murg en my skadu verys
(So waar as ek leef, 'k kan die plek nog gaan wys!):
Toe'k weer my kom kry, daar alleen op die veld,
Was hoog al die son, en my skadu gesmelt!
Maar waarom my vrinde my nie wil gelowe,
Dit gaan my verstand en my denkkrag te bowe.
Maar so stel ons vrinde en vrindskap teleur,’
| |
| |
Sug Piet, droef te moede, ‘as iets nie gebeur,
En gou ook dan gaan ek my doodkis bestel,
Want sonder 'n skadu is die lewe 'n ... fout,’
(Dit rym nie, my vrinde, maar wil julle hê
Dat ek vir 'n dame iets leliks moet sê?)
'n Dame. A, nou word dit interessanter,
Die storie pikanter, die oë briljanter,
Die skuimwyn frappanter! Die here galanter,
Die hele verhaal van Slemiel amusanter.
Dis menslik, dis wenslik, my vrinde, en waarom
Sou Piet nie bewandel die Via Rosarum?
Want waar is die mens of die dier of die ding
Wat nooit in sy lewe 'n Hooglied wou sing?
Dit spreek as vanself, dus, dat Piet moet verlief raak
En proe hoe 'n soentjie van Annie Retief smaak.
O Liefde! O Toornaar! 'n Koning was Piet,
En sy: Roos van Saron, Prinses, Sulamiet!
O Oosterse glorie, o vuurkoloriet!
O, wie so gelukkig as Annie en Piet?
Hul sit op 'n tuinbank, sy arm as haar leuning,
Die tweetjies - en vry daar soos lopende heuning!
Nie lank nie of Piet het vir Annie gevra
Om al hulle skapies in een klomp te ja.
Die jawoord - hoe kon sy dit weier aan Piet,
So ryk, so galant, so verlief, so ‘just it’?
Hul stap soos verliefdes maak, staan-en-loop aan;
Van agter die bome verskyn juis die maan.
Hy sien daar die twee loop so arm in arm,
Die liefde so vurig, die harte so warm.
‘Die ou storie,’ dink hy, ‘die pleister trek skerp.
Hoekom sou die kêrel geen skaduwee werp?
Die voorval lyk my nogal bietjie uitsonderlik,
Gewoon seker nie, maar wel wesentlik wonderlik!’
Die noodlot erken nòg die mens nòg sy werk,
Beskik dit dat Annie juis toe ook moes merk
Dat êrens 'n skroef los, dat alles nie pluis was,
en Pieter se skadu wel seker nie tuis was.
Sy skrik dat haar grondveste dawer en bewe.
‘Wat skort dan,’ vra Pieter, ‘my liefste, my lewe?’
En sprakeloos wys sy met oë betraan
| |
| |
Na één skaduwee in die lig van die maan!
‘Ag, Annie, presies op die dertiende dag,
Die dertiende maand, in 'n stikdonker nag
Is ek met die helm en die rondas gebore,
So iemand se skadu gaan maklik verlore!’
Maar Annie was troost'loos en snik van verdriet.
Hy pleit soos 'n ou advokaat - maar verniet.
‘Hoe lief ek jou had, dit is alles nou klaar,
Vaarwel! Jy en ek sien nie weer vir mekaar!’
Piet, sluk maar gerus daardie bittere beker
Van gal en edik, want één ding is seker:
Daar's byna geen man nie of hy kry 'n vrou.
As hulle die gier kry, dan sal hulle trou,
Al het ook die man net een oog of een oor,
Al is hy verskimmel, vermuf of half goor,
Al het hy geen hare, al het hy geen tand,
Geen eer of karakter, geen kriesel verstand
(Wat maak so 'n bietjie dommer of slimmer?),
Maar trou met 'n man sonder skaduwee? NIMMER!
Piet sug en hy steun en hy sê: ‘Goue fluit!
Dis duidelik, dis amen, my kerk is hier uit;
Ellendige Vaaljas, kry'k eendag vir hom,
Dan draai ek sy nek soos 'n klein voëltjie om!’
Tot oormaat van ramp vind hy by die huis
Sy diensbodes almal gedros, man en muis.
Dit spyt hulle seer, so verklaar die mandoor,
Maar almal is bang want die baas is getoor!
Met moeite beweeg hy ou Kekkelbek Kaatjie
En Klaas Tarentaal, die ou skeelooghalfnaatjie,
Om tog maar in vadersnaam langer te bly
En volop tabak en sterkwater te kry!
Piet sit so sy haglike lot te betreur,
Daar hoor hy 'n harde geklop aan sy deur.
‘Onthou u vir Vaaljas, Meneer?
Ons afspraak: Vandag oor 'n jaar kom ek weer.
‘Jy durf dit nog vra? Dit gaan vrot!
Ek voel so mis'rabel, verknoei en verspot.
| |
| |
Die ruil was 'n misoes, totaal, en ek skat
Jy kan maar jou toorsakkie (daar is hy!) vat.
Gee my weer my skadu: die ding het meer waarde -
Wie sou dit kon dink? - as die goud van die aarde.’
‘Ag nee - het jy werklik dit so swak gevind?
Dit spyt my nou rêrig, my goeie ou vrind,
En daarom, en louter vir jou satisfaksie,
Vernietig ons daadlik die hele transaksie.
Die toorsakkie bly jy vir altyd behou,
Jou skaduwee ook sonder krakie of vou,
En daarvoor, die sak en die skaduwee, reken,
Moet jy, dit is al, die bewyse hier teken:
Ek ondergetekende, Pieter Slemiel,
Bemaak hiermee plegtig my onsterflike siel
Aan Joos van der Vaaljas vir waarde geniet!’
‘Geniet! O, ek bid jou, jou veinsaard!’ brul Piet,
‘Ons handel het my al so bitter berou -
Dus maak dat jy wegkom, en voertsek met jou!
Jou duiwel, ek voel my tot doodslag kapawel.’
En woedend bevlieg Piet ... 'n ruikie van swawel,
Want Vaaljas, gedwarsboom, bedroë en vies,
Moes veiligheidshalwe die hasepad kies!
Die lewe is kort, en die storie word lank.
Daar lê nog 'n grote som geld in die bank,
'n Erfnis vir enig barmhartige siel
Met deernis bewoë oor Pieter Slemiel
Wat eniger mate ten minste besef het
Hoe groot of die ramp was wat Pieter getref het,
En sonder die hulp van verkoue of uie
In bysyn van een of meer troue getuie
Klaarblyklik bewys die verlies van 'n Traan
Of Trane van weemoed en meely spontaan!
En Piet? Sonder skadu, by donkere maan
Is hy na die Ryk van die Skadu's gegaan!
| |
| |
Maar Vaaljas loop nog met twee skaduwees rond:
Die een in sy sak en die een op die grond!
Heidelberg, 10 Julie 1924
Die Burger, Kersnommer 1925 |
|