Versamelde gedigte(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 285] [p. 285] Middagslapie (Na 'n Duitse model) (Salig-dromerig, om te pas by die trotse moedertjie van 'n poppie met ogies wat toegaan as sy neergelê word.) Aan die lyn oor die groene gras Hang al haar kleertjies skoon gewas; Sewe stuks hang hulle daar op 'n ry; Wyd ope ogies loer nog vir my. Wil my klein skapie Dan nog nie slaap nie? In die sand maak die hen haar bed; In die hoek span die spin haar net; Vlindertjie daal op die blomkelk neer, Wikkel sy vlerkies heen en weer. Wil my klein skapie Dan nog nie slaap nie? Dóédoedoe, dóédoedoe, suis die wind; Flou lyk die kykertjies van my kind, Moeg, alte moeg om hul oop te hou; Slaap werp sy sluier oor albei nou. Net nog 'n gapie ... Sag slaap my skapie. Vorige Volgende