Versamelde gedigte(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Geluk! Aan A.J.L. (Baanbreker - bouer - dienaar) Drie maal gelukkig is die man Wat eind'lik stilhou met sy span Die opdraand uit, die punt bereik, Waar vóór hom - effe en gelyk - Tot aan die verre horisont Wyd strek die Hoëveld se grond; Wat met verligting ‘Dankie’ sê, Gedagtig aan wat agter lê: Aan steiltes, skuinstes - wal en drif Op hand en hoof en hart gegrif; Aan dae en nagte, kommervol Swaar struikelblokke weggerol. Gelukkig dat hy weet en voel: ‘Bereik is tog 'n eind, 'n doel; Wie ná my kom, kan regdeur gaan: Die pad is oop, die weg gebaan!’ [pagina 239] [p. 239] Gelukkig is die man wat bou, Gestaag een grootse plan getrou, Van hegte, vaste fondament Tot kleinste nis en ornament; Van vloer tot dakspits in die haak, Loodreg en waterpas gemaak Met niks onedel, niks gemeen, Geen kromme hout, geen slegte steen; Noukeurig elke onderdeel Verenig tot een groot geheel - 'n Sieraad wat die Bouheer toon; 't Was om die werk, nie om die loon. Sy brose hande mag vergaan: Sy handewerk sal voortbestaan Teen wind en reën; rotsvas en sterk Sal leef die werker in sy werk. Driewerf gelukkig is die kneg Wat diep die akker ploeg en eg, Getrou verrig die dag se taak En naarstig oor die kudde waak, Al gaande en al wenend saai, Maar in die oestyd gerwe laai, En ondanks t'rugslag en verdriet Tog sien sy werk was nie verniet. Gelukkig as hy moet bely: ‘Hier was die taak te swaar vir my, Daar het ek kosb're krag verspil, Verkeerd my oordeel, swak my wil.’ Driewerf gelukkig as sy oor Die woorde van die Meester hoor - Sy Heer en Meester, wat verstaan: ‘Getroue dienskneg, welgedaan!’ Vorige Volgende