Versamelde gedigte
(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 194]
| |
Verlede Sondag in die kerk
Merk ek nog weer die wonderwerk,
Die eienaardigste geval:
Sy wou gaan sit, toe sit sy al!
Kom stipte meester Van der Dool
'n Paar minute laat op skool,
Dan sê die kinders: Weet jy wat?
Tant Sien was seker in sy pad!
'n Wewenaar wou met haar trou;
Die landdros sê: Nee, bog met jou!
Dink jy miskien dis hier Turky?
Ons wet verbied veelwywery!
Wil jy as Volksraadslid gaan staan,
Roep haar byeen en spreek haar aan -
Maar jy alleen met haar gaan trou ...!
Jy laat my lag - wat pla vir jou?
Een Psalm van Dawid maak haar boos:
Dit stempel ‘vet’ as ‘goddeloos’:
‘Indien men op hun voorspoed let,
Hun oogen puilen uit van vet!’
Suid-Afrika! So moes Van Wouw,
Presies soos sy, jou beeltnis hou:
Swaar die Verlede agter, hoor,
Maar groter nog die Toekoms voor!
Haar einde was besonder sag,
Al was dit ook 'n sware slag.
Haar val was sonder blaam of smet.
Die oorsaak van die dood: Net Vet!
|
|