Versamelde gedigte(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Laetitia 'n Lied van my beminde 'n Lied van frisse maagdeskoon, Blou oë waarin die hemel woon, Van lokke wat met songoud gloei, Van wange waarop rose bloei; 'n Mond waar soentjies lonk en lag. Op lippe roos en warm en sag, Van hande vlug en wit en fyn, Bekoorlikheid in elke lyn; Van skelme kykies op en neer 'n Glimlag van ons liewe Heer! Lieftalligheid van Godsgena, Laetitia Dulcissima! 'n Blye lied van blyste dag, Die son breek deur die wolke-rag; Die orrel speel 'n jubeltoon; Daar kom 'n koningin te skoon: My bruid, my skat, in wit gewaad! 'n Sluier oor haar lief gelaat. Ons kniel tesaam voor Gods altaar En liefde en trou sweer ons mekaar; Dan blomgestrooi, musiekgeluid! Was ooit so 'n dag, was ooit so 'n bruid? 'k Staar in verbeelding haar nog na Laetitia Bellissima! [pagina 60] [p. 60] Van kleine Moedertjie 'n lied! Die grote wonder was geskied; Met oë stralend van geluk, Haar eerst'ling aan haar hart gedruk. So teer as Onse Liewe Vrou Die Heiland spraakloos het aanskou, Kon sy net kyk - niks anders doen As telkens die klein handjies soen. ‘Is jy ook bly?’ vra sy bewoë, Misterie, wonder in haar oë. ‘My hart kan sy geluk nie dra; Laetitia Carissima!’ 'n Lied van marmer-wit gesig, Van dierb're oë sonder lig; Die liewe lippe bleek en kil; Die warme hart vir ewig stil; Die hande op haar bors gekruis, Vir lange rus in laaste huis; Madonna-lelies op haar skoot, O, kalme Skoonheid van die dood! Die Heer het menig' ligpaleis En daarheen sal haar siele rys En daarheen volg my liefde haar na; Laetitia Beatifica! Vorige Volgende