Versamelde gedigte(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Rosa Rosarum Kom na my tuin waar die donkerrooi rose Duist're geheime vertrou aan die nag; Sonnestraal-kusse en suidewind-kose. Drome en liefde die lang somerdag. Kom in die soel someraande en luister - Wanneer die nagwind hul drome verklaar - Na die veelvuldige blommegefluister, Bloesem en bloeisel en blad altegaar! [pagina 48] [p. 48] Kom waar die lelie - die blanke, die reine - Skugter haar bloesem ontbloot aan die maan, Blou miosotis - die slanke, die kleine - Met haar vergeet-my-nie-ogies betraan. Kom as die maanblom - wit sy en satyne - As 'n vorstinne verskyn in haar prag Onder die wierook van roos en jasmyne - Skoonste juweel op die bors van die nag! Daar in die vywer, bestraal deur Arjana, Open die lotus haar heilige kelk, Dan eers bereik sy die hoogste - Nirvana - As sy in glorie van songloed verwelk. Bok-bokmakieries sing bly twee-gesange Wanneer die oggend ontwaak in my tuin; Saans koer die tortel sy lied van verlange Bo-uit die troost'lose treurwilg se kruin. Kom in die aand en geniet van haar geure: Foelie, jasmyn, angelier, minjonet; Kom in die môre en kies van haar kleure: Rooi, wit en goud, groen en blou, violet! Kom as dit skitter van dou-diamante, Rosa Rosarum, in my Paradys, Dat ek my blomme, my bome, my plante, Roos van my hart, hulle weerga kan wys! Vorige Volgende