Di koningin fan Skeba, of Salomo syn oue goudfelde in Sambesia
(1998)–S.J. du Toit– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina [23]]
| |||||||||||||||||||
S.J. du Toit en die kultivering van Afrikaans
|
1. | Afrikaans as taal |
2. | Afrikaans as moedertaal |
3. | Afrikaans as landstaal |
4. | Afrikaans as volkstaal |
5. | Afrikaans as skryftaal |
6. | Afrikaans as Bybeltaal |
7. | Afrikaans as skooltaal |
8. | Afrikaans as kerktaal |
In die gedeelte oor Afrikaans as taal gaan dit oor wat Du Toit as die intrinsieke waarde van Afrikaans beskou: die rykdom, welluidendheid, eenvoud (gebrek aan verbuigings) en eenvormigheid (gebrek aan dialektiese verskil) van die taal. Die sestien stellings in hierdie afdeling dien as voorbereiding vir die 55 wat volg.
Du Toit se argumentasie word baie sterk bepaal deur die betrekking van Afrikaans met sowel Nederlands as Engels. In die tyd toe Afrikaans net omgangstaal was, het Afrikaanssprekendes nie sonder kultuurtaal gesit nie. Hulle het weliswaar nie hulle moedertaal as kultuurtaal gebruik nie, maar het of Nederlands of Engels of albei in hierdie funksie gebruik. Die pleitbesorging vir Afrikaans as kultuurtaal moes dus rekening hou met die feit dat baie Afrikaanssprekendes reeds 'n gevestigde belang gehad by Nederlands of Engels. Afrikaans as moedertaal handel grootliks oor die verhouding met Engels. Du Toit het dit sterk teen die gebruik van die Engelse skool om Engels as kultuurtaal onder Afrikaanssprekendes te bevorder. Teen Nederlands het Du Toit nog veel meer te sê, juis omdat Nederlands onder Afrikaanssprekendes, onder andere in die geledere van die Afrikanerbond en die Kerk, soveel steun geniet het. Die afdeling Afrikaans as skooltaal handel daaroor dat Nederlands as skooltaal die intellektuele ontwikkeling van Afrikaanssprekende kinders strem. Wat die verhouding met Nederlands betref, het Du Toit dit oor die verskynsel wat nou tweetalige diglossie heet, naamlik die gebruik van een taal (Afrikaans) as omgangstaal en 'n ander (Nederlands) as kultuurtaal.
By gedagtes oor die potensiaal van Afrikaans as kultuurtaal het Du Toit dit nie gelaat nie. Hy het in die agtiensewentigjare reeds met aktiewe mobilisering begin, eers deur middel van die GRA en daarna deur die Patriot. Selfs na Du Toit se vertrek na Transvaal toe het hierdie koerant verreweg die sterkste mobiliseringsinstrument binne vroeë Afrikanernasionalisme gebly. Later het Du Toit stukrag verleen aan die stigting van die Afrikanerbond, maar weens die oorvleueling van Du Toit deur Hofmeyr het die saak van Afrikaans as kultuurtaal heel gou die steun van hierdie kragtige politieke party verloor. Daar moet aanvaar word dat Du Toit sy rol as predikant ook weldeeglik benut het om propaganda vir die kultivering van Afrikaans te maak.
Hand aan hand met sy pleitbesorging en mobilisering het Du Toit ook 'n belangrike bydrae gelewer tot verskillende aspekte van die kultivering van Afrikaans.
'n Sentrale proses in die kultivering van 'n omgangstaal is gebruiksuitbreiding. Om kultuurtaal te word, moet die sosiale terreine van die omgangstaal verbreed word. 'n Omgangstaal is spreektaal, en dit moet skryftaal word; dit is die taal van die huis en die vriendekring, en dit moet openbare taal word wat in die onderwys, die kerk, die skool en die regspraak aangewend word. Du Toit het die gebruik van Afrikaans verruim deur sy werk as joernalis en propagandis, as Bybelvertaler en as skeppende skrywer.
Die feit dat die 71 Theses in Afrikaans geskryf is en nie in Nederlands nie, is baie belangrik. Hierdie teks het getoon dat Afrikaans die draer kan wees van heel gesofistikeerde argumentasie en propaganda. Die groot Nederlandse taalkundige, D.C. Hesseling, - grondlegger van die Afrikaanse taalkunde - het in 1897 in die vooraanstaande tydskrif De Gids 'n uitvoerige artikel
geskryf waarin hy dit onder andere het oor die kultivering van Afrikaans. Hierin argumenteer hy teen die voorstanders van Nederlands as kultuurtaal vir Afrikaanssprekendes. As bewys van die kulturele potensiaal van Afrikaans haal hy dan aan uit die 71 Theses.
Du Toit het sy joernalistieke aktiwiteit in die belang van Afrikaans voor en na sy Transvaalse verblyf in die agtientagtigerjare bedryf in die Patriot. Van 1896 af was hy betrokke by Ons Klyntji en daarna, van 1907 tot 1909, by Ons Taal. Reken hierby Du Toit se deelname aan die godsdienstige joernalistiek, wat buite die kader van die kultivering van Afrikaans val, en dit blyk dat die joernalistiek vir Du Toit 'n belangrike tweede beroep was. In sy joernalistieke werk sou S.J. du Toit weliswaar nooit sonder die organisatoriese talent van sy broer D.F. du Toit en die infrastruktuur van die Paarlse Drukpers die mas opgekom het nie, maar feit is dat S.J. du Toit die groot joernalistieke krag was in die heel vroegste Afrikaanse media.
S.J. du Toit en sy medestanders het uit die staanspoor uit vir 'n Afrikaanse Bybelvertaling geargumenteer. Om die waarheid te sê, die propaganda vir die kultivering van Afrikaans het gegroei uit die strewe na 'n Afrikaanse Bybelvertaling. Vier van Du Toit se 71 Theses (nr. 56 tot 59) word aan Afrikaans as Bybeltaal gewy. Onder andere voer hy aan dat daar 'n besondere band is tussen Bybelvertaling en ontwikkeling en stel hy dit dat die Bybel in die omgangstaal (‘volkstaal’) 'n ‘volksbeskawer’ is. In die teses oor Afrikaans as kerktaal (nr. 66-71) word in aansluiting hierby gewys op die nut van Afrikaans in die sending. Hierdie sterk standpunt oor Afrikaans as godsdienstaal het die vroeë Afrikaanse beweging trompop met die Afrikaanse establishment laat bots. Die kerkmanne was die intellektuele leiers, en hulle was glad nie ten gunste van die vervanging van Nederlands deur Afrikaans as godsdienstaal nie. Hulle denke het 'n bepalende invloed gehad op die media en die onderwys. Du Toit was heelwaarskynlik nie ten volle bewus van die gebruik wat aan die Kaap gemaak is in die Islam se godsdiens, godsdiensonderrig en skole nie, en die gebruik van Afrikaans in die Anglikaanse kerk vanaf 1880, dalk selfs vroeër. Dit is waarskynlik dat Du Toit se kritiek op die N.G. Kerk daartoe bygedra het om die wig tussen die voorstanders van Nederlands en die voorstanders van Afrikaans dieper in te dryf. Du Toit self het Nederlands in sy eie kerklike aktiwiteit nie tersyde gestel nie: hy het naamlik aktief bygedra tot die Nederlandstalige kerklike tydskrifte De Getuige (1881-1904) en De Stemmen des Tijds (van 1905 tot aan sy dood in 1911). Aan die Afrikaanse Bybelvertaling het Du Toit hom ongeag die fel kerklike teenstand van die laat agtientagtigerjare af gewy. Binne sowat twintig jaar, tot 1908, het hy die volgende Bybelboeke vertaal: Genesis, Matteus, Openbaring, Hooglied, Psalms, Handelinge, Markus en Lukas. Op breër kerklike front het hy twee Bybelse handboeke gepubliseer: Handboek fer Godsdiinsonderwys (1892) en Bybelse Frage en Antwoorde (1897).
S.J. du Toit se belangrikste bydraes tot skeppende skryfwerk in Afrikaans is die drama Magrita
Prinslo (1896) en die historiese roman Di koningin fan Skeba. Daaroor aanstons meer.
'n Kultuurtaal moet gekodifiseer word: dit wil sê, grammaties en leksikaal beskryf word in grammatikas en woordeboeke. Kodifisering is ten eerste op sigself belangrik as 'n besondere vorm van wetenskaplike gebruiksuitbreiding: grammatikas en woordeboeke is immers deel van die wetenskaplike register wat vir 'n ontluikende kultuurtaal ontwikkel moet word. Ten tweede lei kodifisering tot normering, dit wil sê die omlyning van die inhoud van die kultuurtaal. Deur normering word bepaal watter moontlike variante uit die omgangstaal in die kultuurtaal toegelaat word.
S.J. du Toit het aan sowel die grammatiese as die leksikale kodifisering van Afrikaans gewerk. Hy het meegewerk aan die heel eerste grammatika van die Afrikaanse taal, die Eerste Beginsels van die Afrikaanse Taal, wat in 1876 verskyn het.
Die Eerste Beginsels van die Afrikaanse Taal van 1876 (Loubser 1980) is die eerste grammatikaboek in en oor Afrikaans. Hierdie kort werkie, wat opgestel is deur 'n span waarvan S.J. du Toit waarskynlik deel gevorm het; is in 1882 met verbeteringe herdruk. Du Toit self het die hersiene teks as basis gebruik van sy Fergelykende Taalkunde fan Afrikaans en Engels van 1897 (tweede druk 1902). Opmerklik is dat Du Toit 'n vergelykende Afrikaans-Engelse grammatika opgestel het. Daarmee gee hy sy bewustheid te kenne dat Afrikaans in 'n meertalige verband met Engels funksioneer.
Die werkie fokus op die normering van die attributiewe adjektief, die voornaamwoord en die werkwoord. Die variasie tussen verboë en onverboë attributiewe adjektiewe word opgehef: die attributiewe adjektief verbuig altyd met 'n -e. Die voornaamwoordelike vorm ek word gebruik, en daar word nie eers verwys na die variant ik wat in die tyd nog moet bestaan het nie. Die voorwerpsvorm is my. Die voorwerpsvariant myn is nog in die 1876-uitgawe gebruik. Die onderwerps- en voorwerpsvorm hulle word gebruik, terwyl die 1876-uitgawe die variant sulle gebruik het (ter onderskeiding van die besitlike vorm hulle). Die besitlike vorm van die eerste persoon enkelvoud is myn en dié van die derde persoon manlik is syn. Hierdie vorme was teen daardie tyd reeds beperkte variante van onderskeidelik my en sy. Die rede vir die keuse van myn en syn is waarskynlik die onderskeid tussen die voorwerpsvorm my, sy en die besitlike vorme myn, syn. Ons is die besitlike vorm, en daar word glad nie eers verwys na die variant onse nie, wat veral in Kaapse taal moet geleef het. In plaas van die besitlike vorm s'ne word die vol vorm syne erken.
Had is die imperfek van het. Hierdie imperfek het sekerlik voorgekom, maar dit is te betwyfel of dit meer voorgekom het as die verlede tyd het gehad. Die hulpwerkwoord van tyd het het 'n
infinitiefsvorm hê, bv. in moet dit gedoen hê (vir moet dit gedoen het). Die werkwoord word het die vorme word (persoonsvorm), werd (imperfek), geworde (voltooide deelwoord) en worde (infinitief). In die geheel het S.J. du Toit die werkwoordstelsel genormeer om dit sover moontlik in ooreenstemming met Nederlands te bring.
S.J. du Toit se Patriot-woordeboek, waarvan die Afrikaans-Engelse deel in 1902 verskyn (Van der Merwe 1968) en die Engels-Afrikaanse deel in 1904, plaas Afrikaans ook binne sy verband met Engels. Die woordeboek het, wat die invloed van Engels betref, 'n sterk puristiese inslag. Net enkele van die groot getal Engelse ontleninge wat 'n eeu gelede reeds in gebruik was, word opgeneem, bv. dres (naamwoord en werkwoord), sikspens en siling. Die Nederlandse inslag is baie sterk:
* | freselik, frouelik, gebrekkelik, gekkelik, hoffelik, ens. met die Neerlandistiese voegsel -e-; |
* | -g- tussen vokale en elders binne woorde: fermoge, fygeboom, gefolgelik, hogepriester, ygenaar; |
* | vorme soos: gehoornd en hoornig, hagedis ‘akkedis’, hengs ‘hings’, hinnik ‘runnik’, noot ‘neut’, oogs ‘oes’. |
In nóg die grammatika nóg die woordeboek het Du Toit dit eksplisiet oor spellingnormering. Dié het hy vroeg in die agtiennegentigerjare reeds meer informeel in sy ander publikasies bewerkstellig. Ongeag sy akkommoderende houding teenoor grammatiese en leksikale Neerlandismes (vgl. bo) het Du Toit die Afrikaanse spelling radikaal in afwyking van die Nederlandse ortografie genormeer:
* | die onderskeid tussen f en v, ei en y het verval; dus fark, ferlore; gehym en dofhyd; |
* | ii vir ie: diir, giit, en i vir ie: babetji, di; |
* | é vir ee: gé, né, sé. |
Hierdie vernuwings het nie die paal gehaal nie, omdat geredeneer is dat hulle te skerp van die Nederlandse tradisie afwyk.
Di Koningin fan Skeba is geen eksplisiete taalpolitieke teks nie, maar die werk moet geplaas word binne die kader van S.J. du Toit se Afrikaanse strewe. Dit is 'n gewigtige werk waarmee Du Toit die potensiaal van Afrikaans as kultuurtaal probeer aantoon.
Die tydruimte is nie die kontemporêre Suid-Afrika nie, maar die destydse Rhodesië (Sambesia).
Van hier word die lyn gevolg na die ou Zimbabwe toe, en van daar na die Ou-Testamentiese en Antieke Egiptiese tyd. Met hierdie vervreemding wil Du Toit laat blyk dat daar in Afrikaans geskryf kan word oor 'n wêreld ver van die intieme huislike kring. Die Bybelse aansluiting is besonder belangrik. Dit gee aan Du Toit die geleentheid om die wêreld van die Bybel ter sprake te bring sonder om te oortree teen die kerklike verbod op die gebruik van Afrikaans as Bybel- en kanseltaal.
Naas die beskrywing van hierdie omvattende tydruimte is die roman baie sterk beredenerend en oorredend (vgl. die inleidende opstel van Van Zyl in hierdie bundel). Die gebruik van Afrikaans in hierdie funksies oorskry ook die grense van die omgangstaal.
Die taal van die romanGa naar voetnoot1 laat blyk hoe Du Toit hom die Afrikaanse kultuurtaal voorgestel het. Dit sluit sterk aan by die Afrikaanse omgangstaal, maar ook by Nederlands en by Du Toit se normering van Afrikaans.
Die aansluiting by die Afrikaanse spreektaal word bewerkstellig deur die uitgebreide gebruik van dialoog, maar selfs buite die dialoog om kom daar heelparty spreektalige verskynsels voor. Die oop sinsvorm is baie algemeen. Dit is 'n sinstruktuur waarin die werkwoord deur 'n ander element (veral 'n setselstuk) gevolg word. In die voorbeelde word die niefinale werkwoord gekursiveer:
Naderhand hoor ek Klaas ankom met di osse (bl. 2)
... ons had toen al 'n 2 of 3 maande gery sonder groente (bl. 3)
Ek ... begin te steek in di slyk en anpaksel (bl. 30)
Mar ons laat eers di koefoet haal bij di wa (bl. 31)
Skoon bysinne (dus sonder die voegwoord dat) word gebruik. Hierdie tipe konstruksie staan onder Engelse invloed. Die plek waar dat ontbreek word aangedui met die teken [0]:
Toen ek siin [0] daar is gen ander raad ni (bl. 4)
jy moet oek denk [0] dis al amper 3 duisend jare dat ... (bl. 31)
Neef Hendrik syn plan was [0] ons moet nog diper grawe ... (ditto)
Di grote beswaar was mar, [0] ons padwysers het fer ons ferseker dat ... (bl. 52)
Die konstruksie met vir saam met 'n voorwerp word gebruik in ooreenstemming met hedendaagse informele taalgebruik:
fer hulle verdruk (direkte voorwerp; voornaamwoord)
... dadelik het hulle fer di Kaptyn wys gemaak hy het di kind getower (indirekte voorwerp, substantiefstuk)
hy moet fer hulle [dolosse] op di grond gooi (onpersoonlike direkte voorwerp)
Di héle dag het ons fer ons boeg lam gegrawe (wederkerende konstruksie)
Die voegwoord wat word gebruik in plaas van dat:
al di tyd wat hy dit prewel (bl. 5)
Deur grensverbreking kom 'n element in die werkwoordkluster aan die einde van 'n sin te staan. Hierdie element word in die voorbeelde gekursiveer:
waarin ons kan water skep (bl. 30)
di grote dinamiitskoot waarmé ons di sware klipdeur laat stukkend skiit het (bl. 52)
Die ontkenningskonstruksie word konsekwent gebruik en volgens die tans bekende patroon, ook met betrekking tot die weglating van slot-nie na sinsfinale niks en die struktuur van die ontkennende bevel met moenie:
... dan kry ons nog niks. (bl. 30)
Di tou is niks. (bl. 52)
‘Moe ni glo ni!’ (bl. 52)
'n Enkele keer is dit of daar met die plasing van nie reg aan die sinseinde geweifel word:
... mar dit blyk oek duidelik, dat di klip ni so sekuur in di natuurlike rots in geset is ni as di klip-deure wat ons by Simbabwe gesien het (bl. 31)
Setselskeiding (onder Engelse invloed) kom in betreklike konstruksies voor, dus bv. wat ... fan vir waarvan en wat ... mé vir waarmee:
biirpotte wat ek fer julle fan fertel het (bl. 5)
di berg ... wat di Rol fan praat (bl. 30)
di graniit wat hulle Simbabwe mé gebou het (ditto)
Ander Engelse ontlenings is vorme en uitdrukkings soos die volgende:
Dit meen dan 'n nuwe forstehuis; of hy 'n ding meen; Altemit meen dit dat daar dri aparte openinge is (bl. 52)
dit sal ni so danig lank tyd neem ni
in die tussentyd
barste en krake
Werkwoordsvorme op -e is heel waarskynlik in ooreenstemming met die ouer spreektaal, maar Nederlandse invloed kan nie heeltemal uitgesluit word nie:
uitfinde, berowe, te fertoewe, te bewege, skuiwe. Die gebruik van die infinitief worde en die
voltooide deelwoord geworde is in ooreenstemming met Du Toit se normering in sy grammatika: sonder moeg worde, te worde; het geworde.
Vorme soos die volgende is kenmerkend van ouer en/of Kaaps getinte gewestelike taal:
asgaaie, baing, ferfas ‘sekerlik’, follende, klippers, makaar, maters, molik, oek, ope, perbeer, persente, rewine, skippe, sofeul, speul.
Daar is heelwat Nederlandse invloed.
2: | enkele leeus, lanksaam, toen (passim), denk |
3: | ... breng my 'n paar pragtige tamatiis mé, wild-flees, an imand anders openbaar, pakt osse (hiperkorrekte -t aan die woordeinde), gebreng |
4: | kafferkoorn, werkelik, digteby |
5: | toren, neergeset |
30: | bemerk, meteen ‘dadelik’, |
31: | nuwsgirig, eer ‘voordat’, same, enige male, wat bre'er |
32: | an brand te steek, akeliger, bedug worde |
33: | tamelike, enige ... wangedrogte, mégeneem, sit ... te fermaal, di benodigde instrumente |
52: | 'n goeie party wildflees |
Intervokaliese -g-, -w- en -d- word onder Nederlandse invloed ingevoeg:
bewege, dage, fersegel, ferslage (adj.), fragend, froeger, gelege, hoge, hoger, klagend, lager, morge, oge, segen, werktuige, wyger
towerdokter, sawels
breder, al hulle dode
In vergelykingsinne ontbreek die Afrikaanse voegwoord wat:
so fêr as ons kan; diselfde fo'els ... as by Simbabwe gekry is; ni ... so duidelik ... as ons dit wens ni; so nou keurig as ons kon (bl. 33)
Verskeie mutatiewe perfekte met die hulpwerkwoord van tyd is kom voor. Dié het wel in ouer taal voorgekom, maar weer eens kan Nederlandse invloed nie uitgesluit word nie.
Henni ... is gekom; is afgefal; is geworde; Ons is ... ingegaan; is gebly
Hierdie is wissel met het:
toegefal het; afgeskuiwe het; het ingestort; het geworde; baing nasiis het gekom; het kom help; Ek het op di gedagte gekom
Die volgende verskynsels strook met Du Toit se normering (maar nie met wat later in Afrikaans aanvaar is nie).
* | Die attributiewe adjektief word verbuig:
2: 'n grote druppel |
* | In 'n minderheid van gevalle word die onverboë adjektief gebruik, in ooreenstemming met die spreektaal:
ander witte mense, grote hol plekke, myn rooi lantêrn, di ander hand, di ander lantêrn, di los grond, ander witte mense, di los klippe/grond, di tamaai klippe/boom, di dooi mense, 'n mooi stori |
* | Die attributiewe voornaamwoorde myn en syn word aangewend: syn nek, myn foete. Die ‘voorgeskrewe’ voorwerpsvorm my wissel met myn:
Terwyl hy myn nog syn befindings ... médeel (bl. 2) |
* | Die infinitiefsvorm van die hulpwerkwoord het is hê (in ooreenstemming met Nederlands, waar die hulpwerkwoord van tyd 'n infinitiefsvorm het):
hoewel gen mens daar 'n ingang sou gaan soek hê; sal .. kan ope gemaak hê; kan dit ... kom ope maak hê; kon ... toegefal hê, ... gegroei hê (almal bl. 31) |
Dit het die hoogste tyd geword vir 'n nugter herwaardering van S.J. du Toit. Die uitvoerigste en mees resente studie oor S.J. du Toit, naamlik Scholtz 1975, is helaas nooit gepubliseer nie, en dit bevat in elk geval geen deurtastende studie van Du Toit se bydrae op taalkundige gebied nie. Dit kan wees dat Du Toit wispelturig was en veels te veel hooi op sy vurk gelaai het. Maar een ding staan vas: hy het hom deurentyd en enduit op alle terreine met die kultivering van Afrikaans besig gehou. Dit is vir die volledige verstaan van sy Koningin fan Skeba essensieel.
Literatuur
Du Toit, S.J. 1891. Afrikaans ons volkstaal. 71 Theses, of Stellinge. Paarl: D.F. du Toit en Co. |
Hesseling, Dirk Christiaan. 1897. Het Hollandsch in Zuid-Afrika, De Gids 61: 138-162. |
Loubser, J.E. 1980. Eerste beginsels van die Afrikaanse taal en fergelijkende taalkunde fan Afrikaans en Engels. Kaapstad: Tafelberg. |
Scholtz, D.A. 1975. Ds. S.J. du Toit as kerkman en kultuurleier. Ongepubliseerde proefskrif, Universiteit van Stellenbosch. |
Van der Merwe, H.J.J.M. 1968, Patriot-Woordeboek. Pretoria: Van Schaik. |
- voetnoot1
- Die voorbeelde is getrek uit 'n steekproef bestaande uit bl. 2-5, bl. 30-33, en bl. 52. Bladsynommers word nie konsekwent by die voorbeelde vermeld nie.