| |
| |
| |
Ds. S.J. du Toit
| |
| |
| |
Ter inleiding
Die maker en sy Koningin
deur Dorothea van Zyl
'n Eeu het verloop sedert Di koningin fan Skeba deur S.J. du Toit die eerste keer in 1898 as roman gepubliseer is. Vanaf Maart 1896 tot Mei 1898 het dit as vervolgverhaal in Ons Klyntji verskyn. Tog is dit steeds 'n belangrike en relevante teks. Dit is 'n sleutelroman vir almal wat geïnteresseerd is in die ontstaan en behoud van Afrikaans. Dit is ook 'n boeiende en toeganklike teks - sodra die oog gewoond raak aan die fonetiese spelling, wat egter 'n bekoring van sy eie inhou.
Dit is daarom tyd dat Di koningin fan Skeba opnuut bekendgestel word aan sowel die ruimer publiek as aan skoliere, studente en navorsers. Die roman is teenswoordig moeilik verkrygbaar. Dit is in 1921 uitgegee in 'n gemoderniseerde Afrikaanse spelling. In 1963 is dit verkort en hersien deur P.J. Nienaber met die oog op die voorskryfmark. Die oorspronklike teks is egter nog nooit weer gedruk nie en die tweede uitgawe is moeilik bekombaar.
Juis die oorspronklike teks is besonder interessant vir die kombinasie van S.J. du Toit se fonetiese spelwyse, sy manier van skryf, sy foto's, en sy beskouinge oor die godsdiens, die politiek en ander sake. Die roman én sy skrywer fassineer steeds lesers en ondersoekers - in die woorde van Elize Botha (1980:17): ‘Ek kon ook nog nooit, sedert ek haar die eerste keer leer ken het, die Koningin met rus laat nie. Sy, soos haar maker, ds. S.J. du Toit, vertoon aan die ondersoeker telkens 'n ander, verrassende faset’. Enkele hiervan is:
* | Di koningin fan Skeba is die eerste historiese roman in Afrikaans (Kannemeyer, 1978:56), 'n genre waaraan historici en literêre ondersoekers weer die afgelope dekades besonder baie aandag bestee. Vanuit dié hoek is dit boeiend om die Di koningin fan Skeba te vergelyk met byvoorbeeld 'n tydgenootlike werk soos Rider Haggard se bekende King Solomon's Mines (sien Van Zyl 1990) of met latere historiese romans soos André P. Brink se Die muur van die pes (Ohlhoff 1988:40-52) en Magersfontein, o Magersfontein deur Etienne Leroux (Botha 1990:53-61). |
| |
| |
* | Omdat Di koningin fan Skeba 'n venster bied op die idees van 'n eeu gelede is dit 'n prominente teks binne sowel die Afrikaanse konteks as binne die koloniale en postkoloniale diskoers. Soos M.C. Botha (1988:170) tereg gevra het: ‘Lewe ons nie met ons harte steeds in die negentiende eeu geanker nie?’ Baie van die kragte en konvensies wat later 'n groot rol in die Suid-Afrikaanse samelewing sou speel, is gewortel in die 19de-eeuse idees van toonaangewende figure soos S.J. du Toit. |
| |
* | Ofskoon S.J. du Toit se teorie, dat die koningin van Skeba van die Zimbabwe-ruïne afkomstig kon wees, lank reeds agterhaal is, bly die roman steeds om verskillende redes boeiend en oortuigend. 'n Interessante ontdekking was dat Du Toit in 'n groot mate die riglyne van die klassieke retorika volg in Di koningin fan Skeba, soos in sy talle openbare disputasies, sy preke en ander openbare optredes. Daar is teenswoordig 'n wye oplewing in belangstelling in die literatuurteorie en in die media te bespeur in die uitgangspunte van die retorika (sien ook Van Zyl 1996). Hiertoe bied dié roman ryke stof. |
'n Literêre teks verkry mettertyd uit verskillende lesings binne wisselende kontekste ander betekenisse. Dit geld by uitstek vir Di koningin fan Skeba - vandaar dat dit as tydsdokument soveel boodskappe inhou wat uiteenlopende lesers bly intrigeer op sowel taalkundige, literêre, geskiedkundige as sosiale vlak. Die aantrekkingskrag van hierdie historiese roman tot op hede kan juis daaraan toegeskryf word dat verskillende lyne mekaar hier verrykend kruis. Ons hoop daarom dat hierdie faksimilee-weergawe aanleiding sal gee tot nog veel meer lesers - en betekenisse.
Daar word vervolgens oorsigtelik stilgestaan by die outeur se lewe as konteks waaruit die roman ontstaan het, by die aanleiding tot die skryf van Di koningin fan Skeba, die verhaalverloop, die teks as vervolgverhaal en roman, die werklikheids- en waarheidsillusie wat opgebou word, die ontvangs daarvan en S.J. du Toit se kyk op andere.
| |
S.J. du Toit
S.J. du Toit was 'n besonder kleurryke, dinamiese en komplekse figuur, wat respek ingeboesem het deur sy wye belesenheid, redenasievermoë en formidabele geheue. Sy genialiteit, gekombineer met kreatiwiteit, 'n uitsonderlike werkywer en sterk taal-aanleg het daartoe gelei dat hy op talle terreine gepresteer het. Die keerkant van die munt is dat Du Toit in die proses nie alleen volgelinge verkry het nie, maar ook bittere teenstanders. Sy seun J.D. du Toit (die digter Totius), wat S.J. du Toit nog in 1949 as die mees gesmade man in Suid-Afrika beskou het, formuleer dit só: ‘Ds. Du Toit was 'n Ismael: sijn hand was teén almaal, en almaal sijn hand was teén hom. Dit was sijn roeping om alleen te staan en harde dinge te sê’ (J.D. du Toit,
| |
| |
1917:voorwoord). Na die Tweede Vryheidsoorlog noem adv. J.H.H. de Waal hom ‘die onpopulêrste man onder die nasie’ (Nienaber, 1941:106). Hierdie teenstellings roep vrae op oor die persoon van S.J. du Toit. Wie en wat was hy?
In dié inleiding kan net baie kortliks en oorsigtelik op hierdie kleurvolle lewe ingegaan word en dan hoofsaaklik vir soverre dit help om Di koningin fan Skeba beter te begryp. Raadpleeg vir verdere besonderhede Totius se Ds. S.J. du Toit in weg en werk (1917), die omvattende proefskrif van D.A. Scholtz, Ds. S.J. du Toit as kerkman en kultuurleier (1975) en Hoofstuk 3 van die proefskrif deur D.P. van Zyl: Salomo syn oue goudfelde. Op die spoor van die retorika in die Afrikaanse romankuns (1996), in verkorte vorm verkrygbaar in die Annalereeks van die Universiteit van Stellenbosch onder die titel Die retorika en die Afrikaanse historiese roman (1998). 'n Lywige biografie oor S.J. du Toit deur prof. V.E. d'Assonville is ook binnekort beskikbaar.
Ses fases kan binne S.J. du Toit se leeftyd van 64 jaar onderskei word:
1847-1867: Stefanus Jacobus du Toit is op 9 Oktober 1847 gebore as die jongste van 13 kinders. Hy is tot op tweejarige leeftyd grootgemaak deur 'n vrygemaakte slavin en vroedvrou wat hy ‘ma’ genoem het, terwyl hy sy moeder aangespreek het as ‘nôi’. Sy intelligensie en uitsonderlike geheue het vroeg reeds opgeval. Hy kon sy woord so goed doen, dat hy ‘klein advokatjie’ genoem is. Op vierjarige leeftyd kon hy Nederlands en Engels lees. Reeds tussen vyf- en sewejarige leeftyd het hy 'n geloofstryd ondervind met betrekking tot die uitverkiesing en het hy na 'n intense sieleworsteling geloofsekerheid verkry. Nogtans het hy vroeg ophou leer om 'n wynboer te word.
1867-1872: Op negentienjarige leeftyd het S.J. du Toit die roeping ervaar om tot die bediening toe te tree. Nieteenstaande die lang onderbreking in sy studie het hy sy admissiekursus met die hulp van ds. G.W.A. van der Lingen en Arnoldus Pannevis binne 21 maande voltooi. Tydens sy vier jaar studie by die kweekskool op Stellenbosch kon hy homself nie met die liberale neigings daar vereenselwig nie. Om dié rede besluit hy ook teen verdere studie in Nederland. Hy sou sy lewe lank sterk ortodokse standpunte huldig en sterk gekant wees teen enige vorm van wat hy as vrysinnigheid vertolk het.
1873-1881: Na 'n tyd as hulpprediker was hy vir sowat sewe vrugbare jare predikant in die Noorder-Paarl gemeente. Naas 'n groot aantal publikasies wat hy gelewer het oor onder meer die Christelike onderwys, die teologie, die Suid-Afrikaanse geskiedenis en Afrikaans, het hy klas gegee aan die Gimnasium en 'n groot rol gespeel binne die Genootskap van Regte Afrikaners. Hy was nóú betrokke by die totstandkoming van die Hugenote-gedenkskool in
| |
| |
1882. In 1879 en 1880 het hy uitgebreide buitelandse reise onderneem (nadat hy chroniese keelprobleme begin ondervind het) en twee boeke daaroor gepubliseer. Bybelvertaling in Afrikaans het ook heelwat aandag ontvang, maar dit is teengewerk deur die Sinode van die N.G. Kerk. Die Sinode was ook gekant teen die rewolusionêre idees teen die kerk en die staat wat Di Patriot volgens hulle verkondig het. Daar het gevolglik 'n verwydering tussen ds. Du Toit en die N.G. Kerk ingetree wat nooit weer oorbrug is nie. Op politieke gebied het Du Toit gehelp om die Afrikanerbond tot stand te bring, maar sy idees het op hierdie stadium van sy lewe ingegaan teen dié van J.H. Hofmeyr.
S.J. du Toit het veral aanvanklik in die Paarl 'n groot aanhang geniet, maar het tog ook vyande gemaak. Teenstanders het hom in 1877 aangekla oor 'n beweerde verhouding met 'n diensmeisie. Hoewel die kerkraad se kommissie van ondersoek en die Ringskommissie hom onskuldig bevind het, sou dié spook nog loop tot in 1909 en is dit meermale teen hom gebruik.
1882-1890: S.J. du Toit se belangstelling in onderwyssake het gelei tot sy aanstelling in 1882 as Superintendent van Onderwys in die Transvaal. In dié tyd het hy sy grootste suksesse en diepste teleurstellings beleef. Sy vrou is skielik oorlede in 1882, maar hy het sterk opgang gemmaak in sy loopbaan. Sy onderwysinisiatiewe is geprys en hy het in so 'n mate 'n vertroueling van pres. Kruger geword dat hy ná die Eerste Vryheidsoorlog as 'n lid van die deputasie na Londen is om te onderhandel oor die Konvensie van Pretoria. Die groep is op glorieryke wyse in Nederland, België, Duitsland, Frankryk, Spanje en Portugal ontvang.
Konflik met invloedryke Nederlanders soos drr. Jorissen en Leyds; die politieke situasie toe hy die vierkleur gehys het in die republiek Gosen (vergelyk die drama Toe hulle die vierkleur op Rooigrond gehys het deur Henriette Grové); verskille oor die spoorlyn na Delagoabaai en onenigheid met van die Transvaalse kerke het hom egter ongewild gemaak. Hy het toenemend betrokke geraak by die goudmynbedryf en het in 1888 bedank as Superintendent van Onderwys. In 1889 was hy hoofdirekteur van tien maatskappye en direksielid van nog veertien. Sy bates, 140 000 pond in 1889, was destyds 'n aansienlike bedrag. Gedurende nog 'n uitgebreide reis na Europa (1889-90) om kapitaal vir sy ondernemings te werf, wedersydse beleggings te bevorder en navorsing te doen oor 'n Transvaalse universiteit, het hy egter bankrot gespeel, sy seuntjie is boonop oorlede en hy het hom verder ongewild gemaak deur Katolieke Belgiese immigrante aan te moedig om na Suid-Afrika te kom.
Aan die einde van sy Transvaalse tydperk is hy nie alleen sonder geld en status gelaat nie. Sy politieke oortuigings het, veral na sy ontmoeting met Cecil John Rhodes, verander van pro-Kruger na anti-Kruger, anti-Transvaal en uiteindelik in die oë van sy volksgenote na pro-Brits.
| |
| |
1890-1899: S.J. du Toit het ingetrek in 'n enkele kamer van sy skoonmoeder Joubert in die Paarl en opnuut aangesluit by die redaksie van Di Patriot. Hy het in 1896 as redakteur met Ons Klyntji begin. Hy het geïnteresseerd begin raak in die res van Afrika, soos blyk uit publikasies soos Afrika: Het land der toekomst (1890), Sambesia of Salomo's goudmijnen bezocht (1895), Rhodesia, Past and present (1897) en Di koningin fan Skeba (1898).
Sy politieke ommekeer, wat lynreg ingegaan teen die heersende klimaat in die opbou tot die Tweede Vryheidsoorlog, het steeds groter verwydering geskep met betrekking tot sy Afrikaneraanhangers, vriende en selfs sy familie. Daar het kwaaivriendskap gekom tussen hom en sy broer, oom Lokomotief, oor onder meer die Adendorff-trek (1891). Na die Jameson-inval (1896) het hy nog ongewilder geraak nadat hy die inval verdoem, maar Rhodes na die openbare mening nie sterk genoeg veroordeel het nie.
1900-1911: S.J. du Toit se positiewe houding teenoor Brittanje, en veral sy uitsprake teen die Transvaal en die Tweede Vryheidsoorlog, het sy tydgenote toenemend van hom vervreem, hoewel hy sy liefde vir Afrikaans en vir sy mense behou het. Hy het geglo hy is reg, soos blyk uit sy oortuiging dat hy hom verset het teen die volksgevoel waar dit volgens hom verkeerd geloop het, dat sy beskuldiginge gegrond was en dat hy die Engelse politiek slegs geprys het ‘waar sij dit verdien het’ (in J.D. du Toit, 1917:335). Di Patriot en De Getuige het gevolglik so aanhang verloor dat die uitgewersfirma D.F. du Toit & Co. in 1904 bankrot gespeel het. Ons Klyntji het tot 1906 bestaan. Stemmen des Tijds, wat hy daarna opgerig het, het binne die bestek van 16 bladsye die werk van Di Patriot en De Getuige probeer voortsit, maar dit het slegs 'n baie klein leserstal van 300 gehad. Die Gedenkskool is gesluit. Du Toit het wel nog vernuwe op die gebied van wynmakery en vrugteboerdery en het selfs druiwe en waatlemoene na Engeland en Europa uitgevoer. Hy het ook baie gereis in Suid-Afrika as konsulent van die Gereformeerde Kerke onder die Kruis. In 1911 is S.J. du Toit oorlede in die ouderdom van 64 jaar.
| |
Die voorspel tot die skryf van Di koningin fan Skeba
Die oorsprong van Di koningin fan Skeba lê digby die kolonialistiese uitbreidingsdrange van Cecil John Rhodes in die negentigerjare van die vorige eeu en die fassinering wat dit vir S.J. du Toit ingehou het. Rhodes, die Afrikanerbond en S.J. du Toit het in die vroeg-negentigerjare goed saamgewerk. Met die Adendorff-trek het Du Toit kant gekies vir Rhodes en sy Geoktrooieerde Maatskappy wat Afrikaanse koloniste in Masjonaland wou vestig en teen die aansprake van die Adendorff-groep. S.J. du Toit, altyd 'n ywerige reisiger, het in die proses so geïnteresseerd geraak in die huidige Zimbabwe, deur hom Sambesia genoem, dat hy self 'n reis daarheen wou onderneem, onder meer in belang van 'n ‘Paarlse syndikaat’.
| |
| |
Daar was vanaf 1891 voortdurend gerugte dat Rhodes S.J. du Toit sou omgekoop het. Scholtz (1975:194) se navorsing kon niks hiervan bewys nie, maar hy het wel 'n skuldbewys van byna 340 pond, gedateer 20 Februarie 1894, opgespoor. Dit het waarskynlik vir Du Toit se uitgebreide tog van Julie tot November 1894 na Sambesia betaal. 'n Besoek om die moontlikhede van dié ‘nuwe’ streek te ondersoek, sou ook tot Rhodes se voordeel kon wees. Rhodes se gewildheid by Du Toit het duidelik op daardie stadium tot sy positiewer gesindheid teenoor Brittanje gelei, soos blyk uit sy lofuitinge in Sambesia: ‘De Engelschman was toen de tegenstander van den trek, nu is hij, in den persoon van den heer Rhodes, zelf den wegbereider en helper’ (1895:7).
'n Besoek aan die Zimbabwe-ruïne was klaarblyklik nie aanvanklik vir Du Toit die hoofdoel van sy reis nie. Voordat die koningin van Skeba die eerste keer ter sprake gebring word in Sambesia bekyk S.J. du Toit die landskap met kolonialistiese oë en wei uit oor sake soos die beskikbaarheid van water, hout, arbeid, die goud en die bydrae van die bevolkingsgroepe. Dit lyk in Hoofstuk 14 van Sambesia of die reisgroep maar toevallig daarheen gegaan het: ‘Hier besloten wij een uitstapje te maken naar Fort Victoria en Zimbabwe’ (1895:81). Dié uitstappie het 'n omweg van 'n week behels, eers 80 myl per ossewa na Fort Victoria, met 'n paar dae oponthoud tussenin waar geen pad bestaan het nie, en vandaar nog 18 myl na Zimbabwe! Hy wou dit dus kennelik graag sien. Die groep het uiteindelik slegs op 2 en 3 Oktober 1894 by Zimbabwe vertoef, maar: ‘deze 2 dagen tellen wij tot de belangrijkste van ons leven’ (1895:83). In Hoofstuk 8 van Sambesia onderbreek Du Toit sy vertelling om hom soos volg oor Zimbabwe uit te laat:
Onze bevindingen op dezen omweg waren zóó romantisch, dat ik vrees als ik ze letterlijk beschreef de lezers toch onwillekeurig onder den indruk zou komen dat hij een roman las. Daarom, en omdat ik toch met mijne reisschetsen te achteren raak, zal ik de beschrijving dezer avontuurlijke reis maar laten totdat ik werkelijk na tehuis komst D.V. een Roman beproeft te schrijven over de oude mijnontginning in dit land van Ofir in Salomo's dagen toen de Koningin van Scheba alhier regeerde - voor welk roman ik nu de bouwstoffen bijeenversamel (1895:37).
'n Bladsy later volg hy dit op met 'n verwysing na ‘belangrijke gesprekken’ met die inheemse bevolking wat hy met behulp van Henry as tolk voer oor die ou mynwerke. So meegesleur was hy deur die raaisel van die Zimbabwe-ruïne dat hy sy ‘oudheidkundige nasporings’ later as die hoofdoel van sy Sambesiareis bestempel het (in J.D. du Toit, 1917:312).
Hy het na sy terugkeer 'n grondige studie onderneem, onder meer in Cecil John Rhodes se biblioteek. Die eerste gedeelte van die epistolêre reisverhaal (briefjoernaal) Sambesia is uiteindelik afgerond in Houtbaai op 17 Mei 1895. Ná navorsing van etlike maande het die laaste vyf hoofstukke in die Paarl gevolg teen 3 September 1895. Hierin gaan Du Toit uitgebreid en in groot besonderhede, met lang aanhalings uit 'n groot aantal bronne, in op sy teorie dat die
| |
| |
koningin van Skeba afkomstig kon wees van Sambesia en die Zimbabwe-ruïne.
Sambesia het dus kolonialiseringsmoontlikhede ingehou, die oopmaak van nuwe gebiede vir ontwikkeling waarby ook Du Toit kon baat. Hy kon dus eerstens meehelp om die moontlikhede van die nuwe gebied staatkundig en finansieel uit te bou en tweedens deur 'n geskiedenis daarvoor te help ontdek en skep. Sy liefde vir sowel reis as skryf kon in beide 'n bevredigende uitlaatklep vind, terwyl die onderwerp ook derdens aangesluit het by Du Toit se profetiese en baie letterlike Bybeluitleg. Sy belangstelling in Salomo se goudvelde en Ofir hou verband met sy geloof dat dié goud gebruik sal word om in die eindtyd die tempel van God te herbou. Hy het dié plek aanvanklik geplaas naby die Transvaalse goudvelde, maar het daarna steeds sekerder begin raak dat dit in Mashonaland sou wees.
Ten slotte het die skryf van hierdie ambisieuse historiese roman goed ingepas by die doelstellings van die Genootskap van Regte Afrikaners, Di Patriot en Ons Klyntji, naamlik om die gebruik van die Afrikaanse taal te stimuleer, asook om die Afrikaners kultureel op te voed deur hulle aan die lees en skryf te kry. Daarom is die roman, anders as die Nederlandse Sambesia en die Engelse Rhodesia Past and Present (1897) in die Afrikaans van daardie tyd geskryf. In Maart 1896 het die eerste episode van Di koningin fan Skeba in die eerste nommer van Ons Klyntji verskyn.
| |
Die verloop van die verhaal
Die eerste deel van Di koningin fan Skeba verhaal die reiservaringe van die vyf hooffigure: Meneer Du Toit, die leier en deskundige; neef Gideon en neef Hendrik; Henni, die Transvaalse wadrywer en tolk, asook Klaas, die ‘klyne Koranna lyer’. Net voor die tweede deel van die roman gee Du Toit pertinent sy indeling vir die res van die roman: ‘Al aande deel hulle dan mé wat hulle di dag ontdek het, en ek lees foor wat ek fertaal het, en dan bespreek ons dit same. En hiirmé het di leser meteen ons plan fer di ferfolg fan ons ferhaal’. In die tweede deel word die reisteks dan afgewissel met 'n ingebedde verhaal wat met die kern van die roman as geheel te make het, naamlik die ontrafeling van die koningin van Skeba se geheim.
Die roman se eerste episode open (na 'n ‘Inlyding’ wat aansluit by Sambesia) met 'n vir dié tyd tipiese ‘Natureingang’ of stemmingsinleiding. Die ek-verteller bevind hom in peinsende stemming by die graf van Wilson, wat tragies in Sambesia gesterf het in die stryd teen Lobengula. Die ruimtebeskrywing met sy onheilspellende trekke (onweer, duisternis, grafte, krieke en 'n uil) herinner aan 'n Gothic novel of Gotiese roman, 'n genre wat in die 19de eeu baie gewild was. Dit sluit aan by bonatuurlike gebeure in latere episodes en illustreer terselfdertyd S.J. du Toit se belangstelling in dié soort aspekte. In Di Afrikaanse Patriot plaas
| |
| |
hy byvoorbeeld vanaf 14 Januarie tot 7 Julie 1892 'n aantal vertalings van verhale oor ware geesverskynings. Dit is vir hom in pas met die Bybel en toon dat daar ‘wel degelijk 'n bowenatuurlike wereld is, en hogere magte as net di stoffelike’. Ook Afrika-towermagte kom egter in die roman voor, waarby dit interessant is dat voorspellings meestal as waar bewys word. Hierdie teken dat S.J. du Toit wel iets substansieels in Afrika-magie gesien het, kan as 'n versoening tussen die Eurosentriese en die Afrosentriese godsdiensopvattinge in die roman vertolk word.
Die motoriese moment of katalisator wat die gebeure in beweging bring in Deel 1, is die koms van Umsalomi, 'n toordokter wat die groep se beskerming kom vra. Die eerste kort gedenkskrif word kort daarna ontdek, asook 'n ‘vermufte Papirus-rol’. Eersgenoemde lewer 'n verwysing op na die berg Afoer, wat weer lei tot 'n besoek aan die Molimo en sy dogter in die Matoppoberge, opgevolg deur die reis na die berg Afoer. Deel 1 bereik ten slotte 'n klimaks met die ontdekking van die gedenkskrifte in dié berg se grafkelders. Benewens 'n kort stukkie vertaling bestaan die eerste elf hoofstukke dus hoofsaaklik uit reis- en ontdekkingservaringe, met die hoofdoel om die gedenkskrifte te vind.
Die ingebedde tekste in Deel 2, naamlik die gedenkskrifte en uitleg wat mekaar losweg logies en chronologies opvolg, motiveer Du Toit se teorie dat die koningin van Skeba se ryk geleë kon wees in Sambesia. Dit speel veral aanvanklik vernuftig in op die Bybel. Die eerste gedeelte van die gedenkskrif, met die langste bespreking daarná, handel oor Du Toit se teorie dat Eden in die middel van Afrika was, oor Kain en Abel, die eerste oorstroming van die Nyl, Henog en oor die mense se sondigheid. Van dié gegewens kom in Hoofstuk XII weer aan bod, gestaaf deur drie aanhalings uit Stanley se boek In Darkest Africa uit 1890.
In Hoofstuk II word na aanleiding van Noag se verhaal 'n nogal uitsonderlike interpretasie gegee van Sem, Jafet en Gam, naamlik dat Gam se afstammelinge die oorspronklike inwoners was van die ryk Skeba en dat hulle 'n koninginne-opvolging ingestel het. Die derde hoofstuk handel oor Egipte, Hatasu en die eerste (San) koningin van Skeba se besoek aan Egipte, met Rawlinson as bron. Haar opvolgers is vervolgens van Egiptiese afkoms. In Hoofstuk IV word die verhaal van Josef en Asenat ietwat bygesleep, met as enigste motivering die ‘feit’ dat Josef 'n voorsaat was van die koningin van Skeba.
Episode V, vol Egiptiese intriges en seremonies, verhaal hoe die koningin van Skeba (Balkis) en haar halfsuster (Hanes) by geboorte omgeruil is. Dan volg Salomo se huwelik met Hanes, die besoek van die koningin van Skeba (Balkis) aan hom en die bekendmaking van die omruilingsgeheim. Die volgende twee ingebedde tekste (VIII en IX) gaan uitvoerig in op die koningin van Skeba se besoek aan Salomo en die wondere van Salomo se paleise, sy stalle en
| |
| |
perde, tuine, vywers en fontein, in aansluiting by S.J. du Toit se eie waarnemings tydens sy vroeëre reis deur die Bybellande. Daar word besluit om die susters weer om te ruil. Hanes gaan dus saam met haar minnaar Elihoref, die skrywer van die gedenkskrifte, terug na Skeba, terwyl Balkis agterbly as Salomo se vrou. In die middel van 'n lang gedeelte ‘vertaling’ volg 'n stuk waar ‘di rol baing beskadig en fer di grootste gedeelte onleesbaar’ is. Dit laat 'n aantal los drade en verlos die outeur van die verantwoordelikheid om 'n moeilike stukkie intrige self te bedink! In Hoofstuk XI vervolg die gebeure dan in Egipte, met die openbaring van Egiptiese geheime aan Elihoref.
In Episode XII kom Elihoref by die Maanberge, 'n beskrywing van Zimbabwe en die goudindustrie word gegee in XIII en die sonfees kom aan bod in XIV. Hoofstuk XV is weer vol intriges, met selfs drie sameswerings teen die ryk van Skeba. Die volgende twee gedeeltes beskryf die mislukte planne, wat uitloop op die dood van Hanes na haar baba se geboorte. Ten slotte word die laaste los drade geknoop met behulp van die reeds vroeg gevonde papirusteks wat (vanweë sogenaamde swaar beskadiging) kortliks opgesom word deur die hoofkarakter.
Heelwat minder bladsye word in Deel 2 aan die reis afgestaan, in die roman maar 17 uit 58. Wanneer die gedenkskrifte vertaal is, die ingebedde verhaal afloop met die dood van die koningin van Skeba en die gedenkskrywer Elihoref, asook met die ryk se ondergang, word ook die reiservaringe redelik kortaf beëindig. Die reisgroep se redding deur twee olifantjagters word in die vooruitsig gestel en Klaas vertel dat 'n gees, 'n jong vrou met 'n baba wat kennelik die koningin van Skeba voorstel, drie nagte agtereenvolgens verskyn het. Hoewel hulle die volgende nag waghou, verskyn sy egter nie weer nie.
| |
Di koningin fan Skeba as vervolgverhaal en roman
Di koningin fan Skeba is kennelik die werk van 'n (weliswaar baie talentvolle) man wat hom maar deels besig gehou het met die letterkunde. Daar is verskillende aanduidings dat die roman as eenheid gekonsipieer is, maar dat Du Toit dit stuk-stuk geskryf het. Sommige maande (September en Desember 1897, Februarie en April 1898) ontbreek die vervolgverhaal byvoorbeeld in Ons Klyntji en die lengte van die aflewerings wissel van drie hoofstukke en tien bladsye in Junie 1896 tot een bladsy in Januarie en in Mei 1898. Dit lyk dus asof S.J. du Toit die skryf van die roman moes inpas by sy besige program, moontlik ook by die ruimte wat gevul moes word in die tydskrif. Hy het klaarblyklik ook stoom verloor na die einde toe. Sommige hoofstukke is foutief genommer - in beide die vervolgverhaal én die roman. 'n Hoofstuk VI ontbreek byvoorbeeld in Deel 2. Daar was ook verwarring met Hoofstuk XVII, sodat die slothoofstuk van die vervolgverhaal XIX is en dié van die roman XX.
| |
| |
Enkele teenstrydighede kom voor: In Hoofstuk VII word Hanes as vrou van Salomo byvoorbeeld onvrugbaar genoem, maar sy verwag tog later in Hoofstuk XV, nadat sy Balkis stilletjies vervang het as die koningin van Skeba, sonder enige verwysing na haar vroeëre onvrugbaarheid. Lalia, die hofdame van die koningin, is eers in Hoofstuk XV die informant wat die koningin inlig oor die ‘drifoudige sameswering’ teen haar. Twee hoofstukke (en maande) later is Lalia ontsteld as die koningin inligting oor die sameswering aan háár oordra.
Omdat Di koningin fan Skeba aanvanklik as 'n vervolgverhaal verskyn het, vertoon die roman 'n episodiese struktuur. Die meeste hoofstukke word met 'n vooruitwysing na die volgende hoofstuk (‘Mar wat ons di nag gesiin en ontdek het, fertel ons follende keer’) of op 'n spannende noot afgesluit om verwagting vir die vervolg te skep, soos: ‘Toen ons by di ingang kom, was di grote klip weer daarop en gen molikheyd om dit fan binne ope te kry’. Enkele hoofstukke sluit gewoon met opmerkings soos: ‘En weldra was dit oek doodstil by di wa, almal in dipe rus’.
Ten spyte van die episodiese struktuur en die enkele ondeurdagthede kan daar nogtans andersins 'n sterk lyn van oorsaak en gevolg aangedui word wat van goeie en volgehoue oorhoofse beplanning getuig. Die een ontdekking en ontmoeting gee steeds aanleiding tot die volgende, soos in 'n tradisionele soektognarratief (‘quest’). Smith (1921: 'n woord vooraf) noem dit verder nie verniet ‘die mees ambisieuse prosawerk van die Eerste Afrikaanse Taalbeweging op die gebied van die fraaie lettere’ nie. Hy beskryf Di koningin fan Skeba soos volg: ‘die verhaal is goed inmekaargesit en is nooit vervelend nie; die manier waarop historiese kennis verwerk word, getuig van groot talent; die Afrikaans is voorbeeldig suiwer en natuurlik’. Dit is 'n roman ‘waarin die skrywer, deur sy ryke verbeelding en veelvuldige kennis, 'n peil bereik waar baie van ons later (sic) romanskrywers, selfs van die Twede Afrikaanse Beweging, tevergeefs na strewe’. Die bestudering van dié ryk teks lê ook veel bloot van sowel S.J. du Toit se oortuiginge as van die konvensies wat destyds geheers het.
| |
Werklikheids- en waarheidsillusie
Die ingebedde teks oor die koningin van Skeba het destyds aangesluit by die tradisie van die historiese roman; die reisverhaalgegewe by die realistiese roman. Teenswoordig lyk laasgenoemde eerder na 'n historiese roman wat meer outentiek oorkom as die nogal vergesogte ingebedde tekste. Waar Nienaber (1940) die sonfees die mooiste en mees digterlike episode in die roman vind en die wetenskaplike redenasies steurend, is juis laasgenoemde gedeeltes tans interessant as sleutel tot Du Toit se denke. Dit wys ook in watter mate oordele oor die literatuur afhanklik is van lesers se eie konteks en konvensies.
| |
| |
Om geloofwaardig voor te kom en die lesers te oorreed om met sy teorieë en ‘bevindinge’ saam te stem, gebruik S.J. du Toit etlike strategieë (sien Van Zyl 1996:164-183). Du Toit speel veral met die skep van 'n werklikheids- en 'n waarheidsillusie, in ooreenstemming met negentiendeeeuse romankonvensies. Albei is ten nouste verknoop met S.J. du Toit as figuur. Die werklikheidsillusie het te doen met die konvensie van realisme en die skynbaar betroubare werklikheidsweergawe; die waarheidsillusie met die gegrondheid en oortuigingskrag van Du Toit se argumente.
Die karakters se name in die roman, asook baie van die plekke, gebeure en beskrywings, klop met dié in die reisjoernaal Sambesia (1895) wat baie van die lesers waarskynlik destyds geken het. Die hoofkarakter, wat die meeste aan die woord is, het dieselfde naam as die skrywer. Die leser sien sake in die roman hoofsaaklik deur die oë van die ek-verteller, Meneer du Toit (soos predikante destyds dikwels aangespreek is), wat optree as leier en mentor van die groep, as vertaler en verklaarder. Naas sy indrukwekkende kennis van die Bybel, asook van antieke Hebreeus, kan hy soms woordeliks aanhaal uit beide ou en (vir destyds) meer resente bronne oor onder meer Afrika. Van die meer as 50 bronne wat die skrywer S.J. du Toit vir Sambesia bestudeer het, word veral inligting uit sowat nege in die roman gebruik - en soms nogal aansienlik gewysig! Die verteller verwys dikwels na eie waarneminge tydens reise deur die destydse Egipte en Palestina (wat ooreenstem met dié van S.J. du Toit). Hy dra ook kennis van medikasie, Afrika-magie en -gewoontes en van praktiese sake. Lesers wat geweet het van S.J. du Toit se omvattende kennis en talente sou die outeur en die hoofkarakter noodwendig met mekaar vereenselwig het.
Fyn detail oor die groep se ontdekkinge word verder verstrek, daar word verwys na probleme by die vertaling van die ou geskrifte en na plekke waar die rol beskadig is. Nog 'n sterk oorredingsmiddel in die roman is die foto's wat S.J. du Toit self geneem het op sy tog na Sambesia in 1894 en die tekeninge, waarvan vier oorgeneem word uit Rawlinson se Ancient Egypt. Die lesers van die roman word boonop direk betrek en daar word na werklike persone en plekke verwys: ‘By di hartelike afskyd fan di gedenkwêrdige plek en frindekring (eerw. Louw en sy vrou van die Morgenster Sendingstasie - DvZ) sal dit di leser seker ni onwelkom wees ni, as ons hiir gé di portret fan di nederige huis en liwe famili soos ons hulle di forige aand afgeneem het’ (1898:14).
Du Toit voer sake nog verder met die volgende byskrif by 'n foto van die Zimbabwe-ruïne: ‘Di gehymsinnige toren in Zimbabwe, waaronder di perkamentrol ontdek is’ (1898:5). Daarteenoor noem hy self in Sambesia (1895:144) dat nog geen inskripsies of gedenkskrifte by Zimbabwe ontdek is nie: ‘Totdat zoodanige gedenkschriften ontdekt zijn, blijven alle onderzoekingen een min of meer omtasten in het duister, en alle theorien en meeningen meer gissing dan zekerhied
| |
| |
(sic.)’. Juis die ontbreking van inligting skep egter oop plekke in die geskiedenis wat Du Toit kon invul deur sy roman.
S.J. du Toit het gewonder of die feit dat die Zimbabwe-ruïne op 'n stadium afgebrand het (volgens sy waarneming tydens sy besoek aan die plek) nie dalk iets daarmee te doen gehad het dat geen skriftelike gegewens ooit gevind is nie. In die roman kon hy die vonds nou wel laat plaasvind. Postmoderniste noem hierdie soort fiksie, waarin alternatiewe gefantaseer word vir die gedokumenteerde geskiedenis, ‘uchronian fiction’ (Wesseling 1991:10). Du Toit se aandag in Ons Klyntji van Desember 1896 (204-205) aan die brand op 15 Desember 1896 by Groote Schuur is in die lig hiervan veelseggend. Naas 'n foto van die huis voor en na die brand en 'n stukkie oor die huis se geskiedenis word verwys na die feit dat ‘fele merkwaardige oue gedenkstukke ferbrand is soos o'erblyfsels uit di ruïne fan Simbabwe’.
S.J. du Toit probeer lesers op talle maniere oorreed, deur 'n verskeidenheid feitelike en oënskynlik feitelike gegewens, asook deur sy logika, sy outoriteit en soms ook deur patos. Hy kombineer sy eie ervaringe, oortuiginge en bespiegelinge in die proses op 'n unieke wyse met sy grondige studie van 'n groot aantal bronne. Die feit dat die roman so 'n goeie vertoonvenster bied vir sy erudisie lewer 'n groot bydrae tot die oortuigingskrag daarvan.
| |
Die ontvangs van Di koningin fan Skeba
Vanaf die eerste nommer van die maandblad Ons Klyntji in Maart 1896 was Di koningin fan Skeba een van die groot trekpleisters. Dié soort oorredingspel deur die vermenging van feit en fiksie is wel destyds begryp deur meer gesofistikeerde lesers, soos blyk uit die Nederlandse taalkundige D.C. Hesseling se tipering daarvan, deur Ons Klyntji (Julie 1897:115-116) oorgeneem uit De Nederlandsche Spectator, dat Du Toit ‘zijn avonturen op een reis door Matabele- en Mashonaland niet zonder talent heeft omgewerkt tot een verhaal, dat van veel fantasie en vernuft getuigt’.
Van die ander, minder gesofistikeerde, Afrikaanse lesers het egter beslis tot op 'n sekere hoogte geglo dat die roman ‘waar’ was, soos blyk uit die volgende staaltjie wat Totius vertel (1917:400): ‘Toen die boek in “Ons Klijntji” verskyn, het 'n oue swaër en suster van Ds. Du Toit dit begin lees. Deurdat hij self en sijn Mashonalandse medereisigers meteen als persone in die roman optree, het die twee lesers gedenk dat alles werkelik so gebeur het. Toen dit hul al te apokrief werd, vraag hul: ‘maar is dit dan alles waarheid. “Nee”, was die antwoord van 'n vrind, “dis mos 'n roman, 'n verdigte vertelling. “Maar”, merk toen die oue swaër aan, “Fanie sal tog nie lieg nie!”’
| |
| |
Heelwat ander lesers se reaksies toon ook sterk vertwyfeling oor wat waarheid is en wat verdigting, asook oor wat toelaatbaar is. S.J. du Toit lê dit soos volg uit: ‘Waarhyd is wat letterlik so gebeur is, leugen is di teenoérgestelde, dus bepaald onwaarhyd, maar ferdigting is soos 'n mens jou 'n ding foorstel so na molik follens wat jy weet. So wil di skrywer ons foorstel hoe dit in di dage fan Salomo hiir in di land met die goudgrawery gegaan het follens di oue werke en oue beskrywings’ (Du Toit se kursivering - Ons Klyntji Augustus 1896:119). Verdigting, soos die gelykenisse in Die Bybel, is volgens hom van oudsher gebruik ‘om waarhede en lesse foor te stel’. Bedenkinge het egter bly opklink en S.J. du Toit se geduld kon dit uiteindelik moeilik hou, soos blyk uit opmerkings in Ons Klyntji van September 1897 en Junie 1899, soos: ‘Myn skepsels, dis tog al so dikwils gesê: Ds. du Toit het eers 'n werkelike ferhaal gegé fan syn rys na di noorde, wat gedruk en uitgegé is in 'n boek Sambesia, en toen het hy gesê, op grond fan wat hy gesiin en gelees het sal hy nou 'n ferdigting of historise roman gé waarin hy beskrywe hoe hy hom foorstel hoe dit in di dage fan ou Salomo syn goudgrawery hiir gelyk het’ (1899:141).
In die verduidelikende paragraaf in die slot van Sambesia, asook aan die begin van Di koningin fan Skeba, dek S.J. du Toit hom wel duidelik in. Hy noem die roman hier ‘niet een geschiedenis, ook niet eene algeheele verdichting: maar eene herleving van dien tijd zoo na mogelijk, volgens de gegevens welke wij hebben in oude historische werken en uit deze overblijfselen’. Sy voorneme is om ‘die oude tijden te doen herleven’ en die lesers te laat besef ‘dat die ouden ook menschen waren’ (Du Toit se kursivering).
Di koningin fan Skeba het, ná sy aanvanklike ontvangs, deur die jare ondersoekers bly interesseer en intrigeer. Dit was byvoorbeeld die eerste nommer wat gekies is in die Derde Reeks van Die Burger-leeskring om opnuut in 1921 (in gemoderniseerde Afrikaans) uitgegee te word. Dit was kennelik gewild - die agste uitgawe van dié werk het 1962 verskyn. Daarnaas is dit in 1963 vir skoolgebruik verkort en hersien deur P.J. Nienaber. In 1975 het die figuur S.J. du Toit as inspirasie gedien vir Henriette Grové se drama Toe hulle die vierkleur op Rooigrond gehys het. Sedertdien het die die aandag getrek en reaksies uitgelok van heelwat ondersoekers soos Lydia van Niekerk, G. Dekker, P.J. Nienaber, J.C. Kannemeyer, P.D. van der Walt, H. Ohlhoff en Elize Botha.
Dit toon die mate waarin 'n literêre teks 'n veel groter durendheid openbaar as sy lesers. 'n Sterk oorredingskrag gaan steeds uit van baie aspekte in die teks, ofskoon dit uiteraard in ons tyd ‘getemper’ word deur nuwe inligting en opvattinge. Die roman gee, as tydsdokument, vir hedendaagse lesers insig in die konvensies van destyds en help terselfdertyd om aspekte van die huidige Suid-Afrikaanse samelewing beter te begryp.
| |
| |
| |
S.J. du Toit se kyk op die Ander
'n Enersyds lastige, maar andersyds boeiende en leersame aspek binne sowel Sambesia as Di koningin fan Skeba is S.J. du Toit se visie op die inheemse bevolking, wat vir die hedendaagse leser meermale polities nie-korrek en rassisties voorkom. Die vraag ontstaan of die hele roman nie daardeur gekontamineer word nie. Wat doen hedendaagse lesers met sowel pejoratiewe benamings as met bevooroordeelde stellings in ouer tekste?
Sommige opvattings bots met die Christelike opvatting van naasteliefde wat die leser by iemand soos S.J. du Toit verwag. Tog prys Totius juis die ryk kennis van die inheemse bevolking se lewe wat volgens hom ten grondslag lê aan Di koningin fan Skeba (1917:322). Dit was dus kennelik aanvaarde persepsies en konvensies in die destydse samelewing (sien Van Zyl 1993).
In Di koningin fan Skeba word persepsies oorgedra soos dat nie op die inheemse volke se woord vertrou word nie, dat hulle omslagtig is en ‘fan nature fol politiik’ (1898:24). Hulle (veral die San) word as onontwikkeldes en kinders beskou wat floreer op slae. Dit is in die lig hiervan nogal verrassend dat 'n sogenaamde voorganger van die koningin van Skeba, na aanleiding van 'n tekening in Rawlinson (1886:183), in die roman beskryf word as ‘'n ware Boesmanmyd’. Du Toit se verklaring is dat die San ‘ni altyd so 'n diip gesonke nasi’ was nie (1898:45). Rassistiese stellings word meer dikwels geplaas in die mond van Henni, die Transvaalse wadrywer en kenner van swart tale, eerder as wat dit voorkom by die ander groeplede en veral by die simpatieker uitgebeelde hooffiguur, Meneer Du Toit. Dit strook met wat Paasman (1987:105) se waarneming met betrekking tot die letterkunde uit die Verligting, dat negatiewe benaminge vir swart persone byna altyd uitgespreek word ‘door personages die expliciet als slechte meester, wrede blanke of iets dergelijks gekarakteriseerd worden’. Henni is hier (wel minder negatief) veral prototipe van 'n impulsiewe, onnadenkende jongman.
'n Interessante uitsondering in die roman is Klaas, die klein en stil Koranna touleier. Klaas word voorgestel as lojaal en betroubaar, as 'n uitmuntende spoorsnyer en as iemand wie se raad ernstig opgeneem en opgevolg word. Hy luister aandagtig en begrypend saam na die vertalings en uiteensettings, en die roman se slot word in 'n groot mate aan sy observasies gewy. Die rede vir hierdie veel meer genuanseerde karaktertekening is myns insiens dat Klaas, anders as die ander swart karakters in die roman, gebaseer is op twee bestaande touleiers met dieselfde naam in Sambesia. Van Klaas kon S.J. du Toit hom dus 'n meer ‘tasbare’ voorstelling maak, terwyl die ander swart karakters eintlik maar 'n sameraapsel van konvensies en stereotiepe persepsies is. (Ironies is wel dat beide helpers in dié Baas/Klaas-verhouding in werklikheid as ‘Klaas’ aangespreek is!)
| |
| |
Du Toit probeer kennelik ook verder moreel oordeel. In Di koningin fan Skeba laat hy mnr. Du Toit telkens ontfermend optree teenoor individue uit die inheemse bevolking. Beide die skrywer van Sambesia (1895:15) én die hooffiguur in Di koningin fan Skeba vind verder leersame aspekte in die persoonlike wisselwerking. Hy probéér wel soms met die oë van die inheemse volke kyk, soos hy met die gedig ‘Hoe di Hollanders di Kaap ingeneem het’ (1897) eweneens een van die eerste pogings in die Afrikaanse letterkunde gelewer het om 'n Griekwa se alternatiewe blik op die Suid-Afrikaanse geskiedenis te gee.
Negatiewe persepsies hou egter nogtans ten nouste verband met die hele konsepsie van die roman: Soos vroeëre Afrika-reisigers en navorsers uit die 16de tot 18 de eeu, asook die bekende 19de-eeuse pionierhistorikus dr. George McCall Theal, kon Du Toit nie glo dat Zimbabwe gebou is deur die inheemse bevolking nie. Alle skrywers en ondersoekers van sy tyd is dit volgens hom eens ‘dat vroeger hier een beschaafd volk als overheerschend ras gebruik maakte van de minontwikkelde oorspronkelijke inwoners des lands, die zij als slaven gebruikten...’ (Sambesia, 1895:143).
Omdat die witman uit sy optiek die verste ontwikkel was, was hy op beide intellektuele en fisieke vlak die aangewese leier en was dit vir hom vanselfsprekend dat die swart medebewoners van Afrika onderhoriges moes wees. Afrika is vir Du Toit veral die kontinent wat die witman kon ontdek en oorwin op 'n wyse wat aanpas by sy eie Christelik-nasionale konteks.
Daarom was dit vir hom van belang om juis die Bybelgeskiedenis met Afrika te verknoop, omdat Afrika dan in die proses vir homself meer vertroud kon raak, maar ook ‘waardevoller’ of ‘sinvoller’ as om dit ‘bloot’ op sy eie meriete te beoordeel. Om dié soort kunsmatige versoening te bereik, gebruik hy allerlei kwasi-logiese redeneringe en argumentasies. Aan die ander kant is hy wel aangespreek deur die magiese kwaliteite van dié vasteland en is daar in dié opsig tog sprake van 'n mate van verweefdheid tussen eie godsdienstige opvattinge en Afrika-magie - miskie spore van 'n versoening tussen Afrika en die Europees-Christelike visie.
Wat geld vir die inheemse bevolking geld ook in 'n mate met betrekking tot vroue. Dit is opvallend dat die reisgedeelte van die roman bykans uitsluitlik bevolk word deur mans, met die uitsondering van ‘juffer Louw’ (wat net genoem word op bladsy 12), die dogter van die Molimo en die ou San-towenares. Daar word nooit verwys na enige vroulike verbintenis by die onderskeie reisgenote nie. Dit illustreer in watter mate sake soos die kolonialistiese opening van nuwe gebiede en die beredenering van gegewens deur Du Toit beskou is as mannewerk. Dit herinner daaraan dat dit vir S.J. du Toit 'n jaar geneem het om agter te kom dat baie van Ons Klyntji se lesers vroue is (sien Van Zyl 1996:85-89)! In die ingebedde teks is dit oënskynlik 'n
| |
| |
ander saak: Hanes en Balkis speel (uiteraard) 'n vername rol met betrekking tot die koningin van Skeba-gegewe, asook Lalia, die getroue ‘hofjuffer’, en dit gaan hier om 'n matriargale sisteem. Tog is diegene wat dinge doen en die inisiatief neem, soos Elihoref die kroniekskrywer, die hoëpriester, asook die intrigeerders en aanstigters van onrus en opstand, ook hier hoofsaaklik mans. Die groot aantal vroulike karakters in die ingebedde teks is wel enigsins 'n ‘korrektief’ vir die reisgegewe en bring mee dat dié gedeelte in 'n mate die opvatting oorskry dat die vrou gereduseer word tot 'n topos of 'n ruimte waardeur die manlike held onderweg na sy doelwit beweeg (De Lauretis, 1984:109).
Du Toit se opvattinge het sowel voortgekom uit sy ortodokse geloofsoortuiginge as uit konvensies van sy eie tyd. Op sy beurt het hy dié instelling in die maatskappy versterk deur die talryke godsdienstige, opvoedkundige en ander publikasies waarmee hy 'n groot invloed uitgeoefen het. Ten spyte van sy latere ongewildheid het sy geskrifte waarskynlik 'n groot en langdurige invloed uitgeoefen. Hy het 24 boeke en 48 ander geskrifte nagelaat; 28 jaar lank 'n groot bydrae gelewer tot Di Afrikaanse Patriot, 21 jaar tot De Getuige, opgevolg deur Stemmen des tijds; was 8 jaar lank redakteur van Ons Klyntji en was betrokke by Bybelvertaling. Totius 1977 (1917):426-432 gee 'n lys publikasies, waarby opvallend baie boeke vóór 1896 uitverkoop is.
Ander vrysinnige negentiende-eeuers soos M.C. Vos, die Hollandse Kicherer en Van der Kemp, asook T.F. Burgers, het wel 'n veel positiewer instelling op rassegebied geopenbaar as S.J. du Toit, wat nouer aansluit by dié van die Verligting en ons tyd, ofskoon dit nie los gedink kan word van toenmalige tydgenootlike idees en filosofieë rondom onder meer die Franse Rewolusie, Rousseau se ‘le noble sauvage’ en die Romantiek nie. Op grond van beide godsdienstige én politieke oorweginge het S.J. du Toit hierdie standpunte egter verwerp en die ortodokse stellinginname in die samelewing help perpetueer. Bevooroordeelde standpunte oor die aard en vermoëns van die Ander, wat in die proses bevestig en versterk is, het die rigting van die Suid-Afrikaanse geskiedenis help bepaal.
Nogtans is 'n ongenuanseerde, eensydige verwerping van historiese figure soos Du Toit kortsigtig. Ek is dit eens met Van Heerden (1989:85), in sy uitspraak oor raspejoratiewe: ‘'n poging om die literatuur te ontsmet by wyse van neosensuur (...) kom neer op 'n ontkenning van die geskiedenis’. Veel gevaarliker is dit wanneer mense in ons tyd nog vaskleef aan gedateerde 19de-eeuse visies. Bestudering van dié figure uit die verlede help juis om die oorsprong van beskouinge vas te stel en op grond daarvan afstand daarvan te neem, dit tersyde te stel of aan te pas in die lig van veranderde omstandighede en nuwe navorsing binne 'n ander konteks.
Outeurs dra wel steeds die etiese verantwoordelikheid vir hul uitsprake. Die elitistiese en soms negatiewe houding van Du Toit, wat bots met sy aansprake op 'n Christelike uitgangspunt, bly
| |
| |
'n waarskuwing en 'n aanklag in ons tyd. By 'n veelsydige en komplekse negentiende-eeuer soos S.J. du Toit is geskakeerde en komplekse opvattinge te verwagte. Teenoor soms grootse gedagtes en insigte wat sy tyd vooruit was, was hy andersins (noodwendig) so sterk kind van sy tyd dat sy insigte en optrede soms vir ons gedateerd, maar ook kleinlik en onchristelik voorkom. Dit bring egter ook nederigheid oor die subjektiwiteit en skraal seleksie van ons eie opvattinge. Hoe sal dié oor 'n eeu lyk?
Pogings om die verlede te interpreteer, help egter ons samelewing in die vermyding van vorige foute en die soeke na 'n eie identiteit, vergelyk Frank van Vree: ‘Onze kultuur heeft geen essentie, die wij zouden kunnen vinden - wij zijn het zelf die betekenissen toekennen, die een zin aan het leven geven. Wij scheppen de cultuur en het verleden is daarbij een onmisbaar instrument, sterker nog: in het scheppen van onze cultuur wordt het verleden (lees: de opvattingen over het verleden) als het ware geabsorbeerd’ (In: De Meijer et al, 1988:31).
| |
Literatuur
Botha, Elize. 1980. Prosa. In: Grové, A.P. (red.). Die Afrikaanse literatuur sedert sestig. Goodwood: Nasou, 319-572. |
Botha, Elize. 1990. The emergence of the Afrikaans novel in the late nineteenth century. In: Nethersole, Reingard (red.). Emerging literatures. Bern: Peter Lang, 53-61. |
Botha, M.C. 1988. Zambezi. Kaapstad: Human & Rousseau. |
De Lauretis, Teresa. 1984. Alice doesn't. Feminism, semiotics, cinema. Bloomington: Indiana University Press. |
Di Afrikaanse Patriot. 1896. Paarl: D.F. du Toit. 23 Januarie. |
Du Toit, J.D. 1977(1917). Ds. S.J. du Toit in weg en werk. (faksimilee-uitgawe). Totius Versamelde Werke Vol. 9. Kaapstad: Tafelberg. |
Du Toit, S.J. 1896. Di koningin fan Skeba. Ons Klyntji 1(4): 53-63. Junie. Paarl: D.F. du Toit. |
Du Toit, S.J. 1896. Di koningin fan Skeba. Ons Klyntji 2(11): 2-3. Januarie. Paarl: D.F. du Toit. |
Du Toit, S.J. 1896. Di koningin fan Skeba. Ons Klyntji 3(3): 50-51. Mei. Paarl: D.F. du Toit. |
Du Toit, S.J. 1892. Di Afrikaanse Patriot. Paarl: D.F. du Toit. 14 Januarie - 7 Julie. |
Du Toit, S.J. 1895. Sambesia, of Salomo's goudmijnen bezocht in 1894. Paarl: D.F.du Toit. |
Du Toit, S.J. 1898. Di koningin fan Skeba, of Salomo syn oue goudfelde in Sambesia. Historise roman, met prente. Paarl: D.F. du Toit. |
Grové, Henriette. 1975. Toe hulle die vierkleur op Rooigrond gehys het. Drama in drie afleweringe. Johannesburg: Perskor. |
Hesseling, D.C. 1897. Twee boeken uit Afrika. Ons Klyntji 2(5): 115-116. Julie. (oorgeneem uit De Nederlandsche Spectator 14. 1897). |
Nienaber, P.J. 1940. Ds. S.J. du Toit, die eensame Ismael. 'n Beskouing oor sy letterkundige werk. Pretoria: Van Schaik. |
| |
| |
Nienaber, G.S. & P.J. Nienaber. 1941. Die geskiedenis van die Afrikaanse Beweging. Pretoria: Van Schaik. |
Ohlhoff, Heinrich. 1988. Die leser reis: gelei/ verlei? In: Senekal, Jan (samest.). Donker weerlig. Literêre opstelle oor die werk van André P. Brink. Kenwyn: Jutalit, 40-52. |
Ons Klyntji. 1896. 1(6): 119. Augustus. Paarl: D.F. du Toit. |
Ons Klyntji. 1896. 1(10): 204-205. Desember. Paarl: D.F. du Toit. |
Ons Klyntji. 1897. 2(57): 115-116. Julie. Paarl: D.F. du Toit. |
Ons Klyntji. 1897. 2(7): 168. September. Paarl: D.F. du Toit. |
Ons Klyntji. 1899. 4(4): 141. Junie. Paarl: D.F. du Toit. |
Paasman, Bert. 1987. Mens of dier? Beeldvorming over negers in de tijd voor de rassentheorieën. Vreemd gespuis. Amsterdam: Ambo, Novib. |
Rawlinson, G. 1890(1886). Ancient Egypt. London: T. Fisher Unwin. |
Scholtz, David Adelbert. 1975. Ds. S.J. du Toit as kerkman en kultuurleier. D.Th.-proefskrif. Stellenbosch: Universiteit van Stellenbosch. |
Smith, J.J. 1921. 'n Woord vooraf. Die Koningin van Skeba. Twede uitgawe. Kaapstad etc.: De Nationale Pers. |
Stanley, Henry M. 1890. In darkest Africa, or the quest, rescue and retreat of Emin, Governor of Equatoria. Vol. 2. London: Sampson Low, Marston, Searle and Rivington. |
Van Heerden, Etienne. 1989. 'n Halwe geheue? 'n Standpunt oor die suiwering van tekste. Stilet I(2):79-87. |
Van Vree, F. 1988. Beeld en verhaal: de historicus als kunstenaar - een inleiding. In: De Meijer, P.W.M. et al. 1988. Verhaal en relaas. Muiderberg: Coutinho, 19-35 |
Van Zyl, Dorothea. 1990. Salomo se ou goudvelde in Sambesia, of: Feit en fiksie in Di koningin fan Skeba. In: Malan, Charles & G.A. Jooste (reds). Onder andere. Die Afrikaanse letterkunde en kulturele kontekste. Pretoria: Universiteit van Suid-Afrika, 117-124. |
Van Zyl, Dorothea. 1993. Afrikaners reik uit na Suider-Afrika - een eeu later. Stilet V(2):49-62. |
Van Zyl, Dorothea. 1996. Salomo syn oue goudfelde. Op die spoor van die retorika in die Afrikaanse romankuns. Ongepubliseerde proefskrif. Unisa. |
Van Zyl, Dorothea. 1996. Die Koningin van Skeba - 100 jaar nôi van Zimbabwe. Tydskrif vir Letterkunde. XXX1V(4): 39-50. |
Van Zyl, Dorothea. 1996. Een eeu literêre tydskrifte in Afrikaans. Tydskrif vir Letterkunde. XXX1V(4):85-89. |
Van Zyl, Dorothea. 1997. Die retorika en die Afrikaanse historiese roman. Stellenbosch: Universiteit van Stellenbosch Annale. |
Wesseling, Elizabeth. 1991. Writing history as a prophet. Postmodernist innovations of the historical novel. Amsterdam etc.: John Benjamins. |
|
|