§ 31. Ds. Ph.J. du Plessis.
Oomblikke van Spanning (1938).
Hierdie boek bevat die oorlogsherinneringe van 'n kolonialer wat as agtienjarige seun aangesluit het by die Boerekommando's in die Tweede Vryheidsoorlog. Vanaf Januarie 1901 tot aan die end het hy geveg onder kommandant Fouché in die Oostelike Provinsie. Gegewens oor die stryd in Kaapland was nog maar altyd skraal en daarom is hierdie vlotgeskrewe verhaal besonder welkom. Afgesien van die waardevolle inligting wat dit bied omtrent krygsoperasies, werp dit 'n helder lig op die daaglikse kommandolewe wat feitlik 'n aaneenskakeling van spannende oomblikke was. Ofskoon die hooffeite van die ongelyke stryd oorbekend is, staan 'n mens tog telkens versteld as jy die intieme besonderhede omtrent die haas ongelooflike ontberings van hierdie dapperes lees. Hoe die klein klompie burgers, wat gedurig agterna gesit word deur 'n goed uitgeruste vyand, tog daarin slaag om by die nouste draaie verby te kom en telkens nog die vyand gevoelige verliese laat ly - dit alles word sonder trompetgeskal meegedeel. In kommandant Fouché het die burgers 'n offisier van buitengewone bekwaamheid gehad. ‘Wat genl. de Wet in die Vrystaat was, was hy in die Kaapkolonie, veral gedurende daardie besliste drive van genl. Scobell.’ Die skrywer het 'n treffende hulde gebring aan die vindingrykheid van hierdie onverskrokke krygsman wat die vyand telkens uitoorlê het met sy fyn taktiek.
Die verhaal bevat 'n ryke skat van oorlogsanekdotes, sommige besonder vermaaklik. Ek noem b.v. die oorrompeling van 'n vaal huisie naby Aberdeen waar twee hongerige burgers goeie kos raakloop, maar een van