Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekend
[pagina 578]
| |
Hoofstuk XI.
| |
[pagina 579]
| |
kundige smaak en insig en om die regte perspektief te herstel, moes hulle die volk, wat eindelik gretig begin lees het, dierbare illusies ontneem en duidelik maak dat die werk van so vereerde skrywers letterkundig allesbehalwe onberispelik was, soms selfs glad geen kuns nie - en dit in 'n land waar nog nooit van te vore letterkundige kritiek uitgeoefen was nie.’Ga naar voetnoot1) Hierdie nuwe fase in ons kritiek, wat ons die didaktiese of pedagogiese periode kan noem, begin ongeveer in 1920. Die kritici lê hul daarop toe om breedvoerige uiteensettings te gee van letterkundige beginsels en tegniek. Hul bespreek die bou van die roman, drama en gedig, en toon die vereistes van elke genre aan. Hul waarsku teen die neiging om alles wat in Afrikaans verskyn met gejuig binne te haal en probeer om deur vergelykings met buitelandse werke die tekortkomings van ons skrywers aan te toon. Aangesien die Afrikaanse taal nog in wording was en 'n gevestigde skryftradisie heeltemal ontbreek het, moes die kritiek besondere nadruk op taal- en stylkwessies lê. Teen allerlei vorme van taalverwildering moes stellig gekies word. Herhaaldelik word by voorbeeld gewaarsku teen anglisismes, verwronge sinsbou en retoriese beeldspraak. Hierdie suiweringskampanje het ongetwyfeld 'n weldadige invloed gehad op ons groeiende taal, en dit was een van die faktore wat veel daartoe bygedra het om die norme van wat as algemeen beskaafd moes beskou word te bepaal. Verder het die taalkundige kritiek die uitwerking gehad dat uitgewers geen boek gepubliseer het sonder om dit deur 'n bevoegde persoon te laat nasien nie.Ga naar voetnoot2) Afgesien van voorligting wat in boekbesprekings voorkom, is daar meer direkte pogings gedoen om letterkundige verskynsels te verklaar en die waardering van kunswerke te bevorder. In 1925 het verskyn Inleiding tot die Studie van Letterkunde deur P.C. Schoonees en J.R.L. van Bruggen, in 1929 Die Kort-Verhaal as Kunsvorm deur F.E.J. Malherbe. Jan Celliers het in Kuns in Lewe en Kultuur (1933) vir oningewyde lesers enige grondbegrippe bespreek o.a. kuns en sy doel, skoonheid, lelikheid, die wese van poësie en prosa. (Vgl. Hfst. III § 2). In hoofstuk III is reeds gewys op die belangrike kultuurwerk wat deur ons tydskrifte gedoen word. Dis hier miskien die beste plek om ook melding te maak van die aandeel van ons koerante. Sedert jare al het ons vernaamste dagblaaie besondere belangstelling vir kuns en letterkunde getoon. Af en toe het artikels van groot opvoedkundige waarde verskyn en daardeur het die gewone leser, wat anders alleen moes teer op politieke praatjies, langsamerhand 'n smaak ontwikkel vir sake van | |
[pagina 580]
| |
kulturele betekenis. Die Afrikaanse dagblad het nog altoos gesorg, nie alleen vir die verspreiding van nuus nie, maar ook vir die verspreiding van kennis. In die stryd om die bestaan word dit wel gedwing om offers te bring aan die sensasiesug van die massa, wat so kenmerkend is van die steeds toenemende geestelike verwildering van ons tyd, maar ons redakteurs is hul nog steeds bewus van hul taak as volksopvoeders. 'n Paar van die vernaamste dagblaaie besit 'n gereelde tydskrifafdeling wat bestem is vir algemene kultuursake. Die redakteur van Die Burger het die betekenis daarvan goed aangedui: ‘Op sy swakste mag hierdie belangstelling ontstaan uit 'n begeerte om politieke kos met 'n 'kulturele' sousie smaakliker te maak, maar die diepere betekenis is die oortuiging dat daar bokant die dinge wat 'n volk verdeel, tog nog dinge staan wat hom verenig en dat die politiek alleen middel tot 'n geestelike en kulturele doel is. Hierdie nuwe ontwikkeling gee meer beweeglikheid aan die letterkundige lewe.’Ga naar voetnoot1) Of ons letterkundige kritiek nou reeds die didaktiese stadium ontgroei het is 'n vraag waarop verskillende antwoorde gegee word. In koerante en tydskrifte verskyn daar nog dikwels resensies van onbevoegde beoordelaars. 'n Groot gedeelte van wat by ons as kritiek moet deurgaan kan nouliks aanspraak maak op die naam boekaankondiging, en is eintlik slegs vermomde advertensie. A.H. Jonker, wat as joernalis weet wat agter die skerms gebeur, verklaar: ‘Almal met 'n doktersgraad in enige afdeling van taal, lettere en kuns word deur ons blaaie erken as letterkundige kritici en kry werke om te beoordeel, om nou nie eens te praat van die baie joernaliste en andere wat selfs nie 'n doktersgraad het om koerantmanne en redakteure te mislei nie’.Ga naar voetnoot2) Die gevolg is, so verklaar Jonker, ‘eindelose verwarring onder ons kritici. In plaas van rigting te gee, het hul verwarring gebring; in plaas van leiding is dit baie dikwels verleiding’. Die algemene publiekGa naar voetnoot3) verwag eenstemmigheid van die resensente, en wil nou eenmaal nie begryp dat op kunsgebied niks met wiskundige sekerheid kan bewys word nie. Hulle verlang dat die kriticus 'n objektiewe oordeel moet vel of soos 'n regter 'n vonnis moet uitspreek, en vergeet dat wat ons kunskritiek noem juis waardevol is omdat die kriticus daarin sy eie persoonlikheid openbaar. Natuurlik bring hy ons ook in aanraking met die persoonlikheid van die skrywer, maar soos Antonie Donker tereg sê, ‘buitendien zijn ontmoeting met dien mensch. Critiek is de vonk, die ontspringt uit die wrijving van twee geesten, van twee levens. De criticus geeft het beeld van een mensch, maar tegelijk het tweegevecht | |
[pagina 581]
| |
van twee menschen om een persoonlijke waarheid’.Ga naar voetnoot1) Dis juis hierdie persoonlike waarheid waarin ons publiek nog so weinig belangstel. Hulle verlang 'n vertroubare inligtingsdiens. Die gewone leser, sê Jonker ‘kan nie alles koop nie. Wat moet hy koop? Dieselfde boek word geprys en verdoem, 'n goeie werk word gekritiseer, 'n swak werk geprys. Wie moet hy glo?’ Uit so 'n opmerking blyk duidelik dat die nuttigheidsgedagte nog by ons oorheersend is en dat die ware wese van die letterkundige kritiek as aparte kunssoort nog nie begryp word nie. Geen wonder dus dat Langenhoven se onversoenlike haat teenoor resensente soveel instemming gevind het by party kleinserige skrywers nie. Ook op hierdie gebied kom daar egter 'n kentering. Luister maar na I.D. du Plessis: ‘Ek glo dat party van ons Afrikaanse skrywers 'n oordrewe gevoeligheid aan die dag lê; dat werk wat uitgegee word, aan kritiek, billik maar meedoënloos, onderworpe moet wees....’.Ga naar voetnoot2) Langsamerhand sal ons publiek wel leer dat nie alleen die artistieke appresiasie in 'n kritiek van belang is nie, maar ook die kriticus se eie waarheid wat hy teenoor dié van die skrywer stel. Laasgenoemde is volgens Antonie Donker selfs die belangwekkendste in die kritiese werksaamheid, want ‘dààr wordt die criticus zelf een gestalte, daar ontstaat een nieuwe schepping; des te belangwekkender omdat de criticus zijn houding voortdurend aan andere persoonlijkheden, levenshoudingen en tijdsstroomingen toetst en wet. De critiek wordt dan openbaring eener persoonlijkheid, en tegelijk een tijdsfenomeen van groote waarde voor de kennis van een tydperk.’ By ons wil party nog die kriticus sy reg op 'n eie persoonlikheid ontsê; hy is slegs die nederige dienaar van die leserspubliek wat alle skrywers netjies in hokkies moet indeel: uitstekend, goed, middelmatig, swak! As dit waar is dat kritiek die vonk is wat ontspring uit die wrywing van twee geeste, dan kan ons verwag dat die gehalte van ons letterkundige kritiek innig verbonde is met die peil wat deur ons skrywers bereik word.Ga naar voetnoot3) Dit is presies wat by ons gebeur het. Toe die beste werk van Jochem van Bruggen, D.F. Malherbe, Sangiro en die Hobsons verskyn, kon ons kritici dadelik uit die vaal vlaktes van middelmatigheid opstyg tot die hoogtes van kunskritiek. Uit die wrywing van twee geeste het die vonk van inspirasie ontspring. Wie die kritieke oor Ampie, Hans-die-Skipper, Uit Oerwoud en Vlakte en Kees van die Kalahari vergelyk met dié oor middelmatige en swak skrywers soos Reenen van Reenen, de Waal, Engela en Slypsteen sal moet erken dat daar uit eersgenoemde glad 'n ander toon opklink. Hier het die kriticus nie te doen | |
[pagina 582]
| |
gehad met die swak probeerslae van skrywers wat nog geworstel het met die elementêre tegniek nie, maar met begenadigde kunstenaars wie se werk die kriticus kon inspireer tot 'n herskepping van die geestelike persoonlikheid van die skrywer. Nog duideliker word die verskil wanneer ons die indringende studies lees wat ons beste kritici G. Dekker, F.E.J. Malherbe en C.M. van den Heever geskryf het oor buitelandse kunstenaars soos Guido Gezelle, Streuvels, Multatuli, Frederik van Eeden e.a. As ons let op die hoogstaande kritiese arbeid wat verskyn het in Die Nuwe Brandwag (1929-1933), op die gehalte van die beste kritieke in Die Huisgenoot, Tydskrif vir Kuns en Wetenskap, Ons Eie Boek en Die Brandwag dan is daar voldoende bewyse om te konstateer dat ons sedert ongeveer 1933 die stadium van kunskritiek bereik het. Na hierdie algemene opmerkings kan ons oorgaan tot 'n beknopte beskouing van wat reeds tot stand gebring is op literêr-historiese gebied. Die teboekstelling van ons letterkundige geskiedenis het tot dusverre in hoofsaak bestaan uit proefskrifte van Afrikaners wat in Nederland gestudeer het.Ga naar voetnoot1) Die leserspubliek, wat in hierdie afdeling belangstel, is nog so klein dat die uitgawes feitlik beperk is tot studieboeke en 'n paar bundels letterkundige en taalkundige opstelle. 'n Aantal interessante verhandelinge van M.A.-studente wag nog op 'n uitgewer. Dr. G. Besselaar se Gentse dissertasie was die eerste poging om 'n wetenskaplike oorsig te gee van Suid-Afrika se prestasies op letterkundige gebied. (Zuid-Afrika in de Letterkunde, 1914). Omdat die Tweede Beweging toe egter nog maar in sy beginjare was, bevat dit weinig oor die bloeiperiode. Dr. Besselaar het egter gewys op die waarde van die ou reisbeskrywings en o.a. 'n oorsig gegee van Afrikaanse skrywers wat in Nederlands geskryf het. Met klem het hy steeds betoog dat, wat in Suid-Afrika in die Nederlandse vorm van ‘Hoog-Hollands’ sedert Jan van Riebeeck ontstaan het, ook deel is van die Afrikaanse kultuurskat, en nie verwaarloos mag word nie. F.C.L. Bosman, E. Conradie en P.J. Nienaber het al veel gedoen om hierdie terrein te ontgin. In 1916 verskyn dr. Lydia van Niekerk se dissertasie waarin die geskiedenis van die Patriotbeweging vertel en 'n oorsig gegee word van die letterkundige bedrywighede vanaf 1875. (De Eerste Afrikaanse Taalbeweging en zijn Letterkundige Voortbrengselen.) Hierdie deeglike ondersoek vorm nog steeds die grondslag van ons kennis oor die Patriotperiode, ofskoon latere ondersoekers nuwe feite aan die lig gebring het. Dr E.C. Pienaar se Utrechtse dissertasie het in 1919 verskyn toe die taalstryd nog gladnie beslis was nie. (Taal en Poësie van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging.) Deur sy hartstogtelike verdediging van die regte van Afrikaans en sy insiggewende beskouing van die kulturele betekenis van ons eerste digters het hierdie boek veel daartoe bygedra | |
[pagina 583]
| |
om die uiteindelike oorwinning van Afrikaans te verhaas. Hy het ‘met liefde en bewondering die eerste digblommetjies uit ons Afrikaanse letterkundige tuin aan die leser voor(ge)hou....’ en veral nadruk laat val op die kulturele betekenis daarvan. ‘Want hier’ verklaar hy ‘het ons die openbaring in sy skoonste vorm van 'n eie opbloeiende geesteslewe, die verwesenliking van die strewe na selfstandigheid van die Afrikaanse volksgees, die bewys dat die periode van vreemdelingskap in sy eie land vir die Afrikaner verby is.’ Hierdie strewe na selfstandigheid, en die brandende begeerte om 'n einde te maak aan die klaas-skap van die Afrikaner is ook die hoofmotief van Pienaar se hartstogtelike pleidooie in Werda (1938). Die geskiedenis van die afgelope 130 jaar roep ‘net een onheilspellende skrikbeeld voor die gees - die skrikbeeld van reusagtige seekat-vangarms wat sedert die laaste 130 jaar besig is om in die mooiklinkende naam van Britse vryheid en gelykheid en broederskap al wat eiendommelik Afrikaans is, staatkundig en ekonomies, maatskaplik en kultureel, in sy wurggreep vas te suig en dood te druk. Maar die tragiese daarvan is dat baie van ons dit nie meer raaksien nie.’ Hierdie versameling geleentheidstoesprake bevat mooi waarderings van 'n paar vooraanstaande skrywers, en ook 'n beskouing oor Ons Vertelkuns waaruit ek die volgende siteer: ‘Ek pleit vir die voortsetting en vernuwing van 'n Afrikaanse vertel-kuns wat wortel in ons heroïese verlede, in ons grootse natuur, in die volkseie van ons huidige landelike en stedelike lewe, in die kernprobleme waarmee die volksiel te kampe het om sy eie identiteit te bewaar.’ Werda is 'n hartstogtelike waarskuwing teen die denasionaliserende invloede wat die Afrikanerdom bedreig. In 1922 het die Amsterdamse proefskrif van P.C. Schoonees verskyn. (Die eerste druk van hierdie werk.) Dr. F.C.L. Bosman het die geskiedenis van die drama en toneel behandel in 'n breedopgesette studie: Drama en Toneel in Suid-Afrika, Deel I, (1652-1855). Amsterdamse dissertasie (1928). Van sy werk getuig dr. E. Conradie: ‘Aan hom kom die eer toe dat hy 'n massa onbekende stof uit ons vroeë verlede bekendgemaak, allerlei vraagstukke vir verder ondersoek opgewerp, en ander vorsers deur woord en daad besiel het om hul ondersoekinge in dieselfde bane te voer.’Ga naar voetnoot1) Dr. Bosman het ingesien dat 'n noukeurige studie van ons Dietse verlede noodsaaklik was: ‘Om die paaie wat naar die toekoms voer te sien, moet 'n mens die paaie ken wat uit die verlede kom. Die verlede is die anker van die hede, maar die kompas van die toekoms’. Sy werk is 'n waardevolle bydrae tot ons kennis van die Hollands-Afrikaanse beskawingsgeskiedenis. Daaruit blyk onder andere van hoeveel belang die Hollandse kultuur en | |
[pagina 584]
| |
veral die Hollandse toneel was in die periode van verengelsing wat voorafgaan aan die Eerste Afrikaanse Beweging. Dr Elizabeth Conradie werk verder in die rigting deur Bosman aangedui. In Hollandse Skrywers uit Suid-Afrika, Deel I (1652-1875) wat in 1934 verskyn het, toon sy aan dat daar ‘'n onafgebroke Dietse draad (loop) van die Dagboek van Jan van Riebeeck af tot by die jongste Afrikaanse geskrif’. Sy verkeer natuurlik onder 'n misverstand wanneer sy meen dat die eerste geskiedskrywers van die Afrikaanse lettere ons Hollandse literêre geskrifte ‘met een stoot vir goed oorboord’ gegooi het.Ga naar voetnoot1) Prof. J.J. Smith het trouens al in 1911 verklaar: ‘Maerlant behoort ewegoed tot die letterkunde van die Afrikaner, as Caedmon en Chaucer tot dié van die Engelsman.’ (Inleiding by Oom Gert Vertel.) Die geskrifte deur dr. Conradie behandel is van meer kultuur-historiese as letterkundige belang, maar dis opmerklik dat daar haas in elke tydperk een of ander skrywer is wat ons ontroer deur die ongekunstelde eenvoud van sy meedelings, veral wanneer ons dit beskou as uiting van die ontwikkelende volksiel. So word Van Riebeeck se Dagverhaal ‘die belangrikste en boeiendste penneproduksie uit die Hollandse tyd vir wie hom rekenskap van ons verlede wil gee’ en Trigardt se eenvoudige familiekroniek 'n ‘Illias van lyding’. Besonder interessant is dit ook om te sien hoe van die groot Europese stromings, soos die Verligting en die Romantiek, die sentimentaliteit en die klassisisme, opdrifsels uitgespoel het op ons kuste. Dr. G.S. Nienaber het vir studente 'n beknopte oorsig saamgestel van die twee bewegings. (Die Afrikaanse Beweging, 1931.) By Van Niekerk en Pienaar het hy te veel ‘propagandistiese byoogmerke’ gevind en hy wil in hierdie werkie net ‘die vernaamste groeifaktore en uitinge’ aandui. ‘In byna alle gevalle waar dit moontlik was het ek self van die bronwater gedrink; jarelange rondsnuffel tussen die ou koerante- en ander tydskrifte-lêers het my die tydsgees van aangesig tot aangesig leer ken.’ Dat Nienaber 'n ywerige navorser is blyk ook uit Honderd Jaar Hollands in Natal (1933) waarin hierdie vergete provinsie eindelik ook 'n beskeie maar welverdiende plekkie verkry het op die kultuur-kaart van die Afrikaanse Beweging. Nienaber se arbeid is 'n hoognodige aanvulling van Pienaar se dissertasie (4e druk) waarin slegs een paragrafie gewy word aan die aktiwiteite van die Natalse Afrikaners. Hy beskryf tot in die fynste besonderhede ‘'n eeu van onreg’. 'n Klein minderheid voer 'n wanhopige stryd teen die magtige, georganiseerde meerderheid, wat doelbewus op volkome anglisering aanstuur. Op elke gebied moet daar gesmeek en gesoebat word om selfs maar die geringste erkenning van die Afrikaner se taalregte te verkry. En as die hoogste gesag eindelik 'n klein | |
[pagina 585]
| |
toegewinkie maak, dan sorg onsimpatieke amptenare dat daar in die praktyk niks van teregkom nie. Nienaber het sy gevolgtrekkings in hoofsaak gebaseer op die toestande in stedelike gebiede, en gee dus 'n enigsins skewe beeld van die ontwikkeling. 'n Verdere ondersoek van die taalstryd op die platteland, en veral in die noordelike distrikte, sal interessante feite aan die lig bring.Ga naar voetnoot1) Met hierdie werk het die skrywer 'n waardige monument opgerig vir die onvermoeide taalstryders wat die Natalse Afrikaner nasiebewus gemaak het. Dr. Anna de Villiers se Stellenbosse dissertasie, Die Hollandse Taalbeweging in Suid-Afrika, het in 1936 verskyn. In hierdie werk word die taalstryd vanaf 1795-1925 behandel. Na 'n inleidende hoofstuk skets sy die proses van verengelsing en die verset daarteen. Interessante besonderhede omtrent die strewe van die eerste voorlopers van die Hollandse beweging, o.a. De Lima, Boniface en Changuion, die ontwikkeling van die koerantewese en die standpunt van die kerk is vervat in hoofstuk III. Na die anneksasie van Transvaal word kragdadige pogings gedoen om Hollands in ere te herstel en hierdie strewe bereik 'n hoogtepunt in die stigting van die Zuid-Afrikaansche Taalbond (1890). Die slothoofstukke word gewy aan die stryd in verband met die Vereenvoudiging, die oprigting van die Akademie en oorsigte van die taaltoestande in die verskillende provinsies. Dr. de Villiers gee ook 'n uiteensetting van die teenswoordige posisie van Hollands, en kom tot hierdie gevolgtrekking: ‘Hoewel die Afrikaner hom dus nie van die Nederlandse taal kan bedien nie, en nie by magte is om dit te skryf nie, is die invloed van Nederlands vandag veel meer deurtastend as in die dae toe Nederlands hom op skool ingelepel is.’ Sy wys verder daarop dat Afrikaanse literatore kennis behoort te neem ‘van die ryke skat van materiaal wat ou boekerye, archiewe en partikuliere versamelinge te vind is.... Op hierdie gebied is daar nog 'n oneindige ongebraakte arbeidsveld wat wag op die letterkundige navorsers van die toekoms.’ Hierdie dissertasie is 'n belangrike bydrae tot die kultuurgeskiedenis van die Dietse stam in Suid-Afrika. In beknopte vorm gee dr. G. Dekker ons 'n oorsig oor die hele Afrikaanse letterkunde vanaf 1652-1934. (Afrikaanse Literatuurgeskiedenis 1935.) Hierdie werk stel die algemene leser en student in staat om te onderskei tussen hoof- en bysake. Die skrywer teken die groot ontwikkelingsgang van ons letterkunde en met veronagsaming van al die onbelangrike laat hy 'n helder lig val op die essensiële. Daarby het hy die gawe om in 'n bondige paragraaf, soms in 'n enkele sin, 'n karakteristiek van 'n skrywer te gee of die kerngedagte van sy werk saam te vat.Ga naar voetnoot2) Van buitengewone belang vir ons kennis van die taalstryd en die algemene kultuurtoestande is die persoonlike herinneringe van drie taal- | |
[pagina 586]
| |
stryders, Von Wielligh, De Waal en Langenhoven. Von Wielligh het in Eerste Skrywers (1918) en Baanbrekerswerk (1925) die ontstaan en werk van Die Genootskap van Regte Afrikaners behandel. Hy gee ons 'n interessante kyk op hul strewe en letterkundige insigte.Ga naar voetnoot1) J.H.H. de Waal publiseer in 1932 My Herinnerings van ons Taalstryd. In die eerste hoofstuk verklaar hy: ‘Ek wil my soveel doenlik bepaal by my eie handelings en dinge waarvan ek self getuie was’. Omdat De Waal so 'n belangrike rol in die taalstryd gespeel het word hierdie herinneringe 'n kosbare skat van inligting vir elke ondersoeker wat die gees van die periode 1895-1907 wil verstaan. Dit bevat briewe, gesprekke met taalen volksleiers, uittreksels uit koerante en ander inligting wat ons 'n intieme blik gee ook op die bedrywighede agter die skerms. Dis 'n boek wat ons met eerbied vervul vir die onvermoeide deursettingsvermoë van die eerste taalstryders. Onder andere werp dit ook lig op die doel en strewe van die eerste skrywers van die Tweede Beweging. ‘Toe ons ander nog geslaap het’ verklaar Langenhoven, ‘was Jannie de Waal wakker; toe ons van tyd tot tyd moeggeword het, het hy volhard, konsekwent, van sy jong dae af, sonder berekening van voordeel of nadeel vir sy beroep of vir sy ambisie, het hy vir Afrikaans geywer.’Ga naar voetnoot2) In die tweede deel van U Dienswillige Dienaar (1932) gee Langenhoven rekenskap van sy persoonlike aandeel aan die taalstryd. Hy vertel hoe Het Zuid-Westen onder sy redakteurskap ‘nommer vir nommer een aanhoudende dawerende geskal van Afrikaanspropaganda, met teorie en praktyk, met voorskrif en voorbeeld’ geword het. Besondere nadruk word gelê op die werk van die joernaliste wat van ‘'n onlesende volk 'n lesende volk’ gemaak het. Die orige gedeelte is gewy aan die verrigtings in die Kaapse Provinsiale Raad en die Parlement wat gelei het tot die finale erkenning van Afrikaans in 1925. Hoe mooi kom die gesindheid van die nederige en dienswillige dienaar van sy volk tot uiting in die slotopmerkings waar hy beweer ‘dat dit my persoonlik allerminste sou pas om te praat van wat ek vir Afrikaans gedoen het. Wat my pas is om te streef na die verskuldigde besef van wat Afrikaans vir my gedoen het. Hy het my geleer wat dit beteken om deur 'n oorweldigende hartstog beheers te word, om saligheid te win uit liefdediens, om die koninkryk van die hemele te vind in 'n lewensroeping op die aarde, om 'n belang voor oë te hou wat oneindig groter is as my niks-beduidende eie belang...’ Interessant is ook hoe Langenhoven eers teen sy veertigste jaar bewus geword het van sy lewensroeping as gevolg van 'n artikel oor tweetaligheid in The State. ‘Had die Engelse minder gejuig en die Dietsers minder gevloek oor my stuk in The State, dan heel moontlik was Langenhoven vandag nog in die geregshof besig met ander mense se privaat rusies en | |
[pagina 587]
| |
in sy kantoor met die besteding van sy kunstelose skryftalent aan die opstel van Engelse en Hooghollandse testamente en kontrakte.’ Die vernieude belangstelling in die taalstryd is verblydend, want dit is die plig van die huidige geslag om alle beskikbare gegewens vir die nasaat te versamel. P.J. Nienaber het ons 'n uitstekend gedokumenteerde werk gegee oor die gebeurtenisse wat gelei het tot die Bybelvertaling. (Die Afrikaanse Bybelvertaling, 1934.) Hy behandel die vertalings van beide die Eerste en Tweede Bewegings, en gee ook besonderhede van die vertaalmetode en die moeilikhede wat die vertalers ondervind het. Die feite is sorgvuldig gekontroleer deur een van die hoofvertalers, dr. J.D. du Toit, en daarom gee hierdie werk 'n getroue beeld van die wordingsgeskiedenis van die Afrikaanse Bybel. Melding moet hier ook gemaak word van die Gedenkboek ter ere van die Genootskap van Regte Afrikaners (1875-1925) waarin 'n aantal belangrike beskouings oor taal en letterkunde deur vakmanne verenig is. Drie monografieë het in hierdie tydperk verskyn. C.M. van den Heever het gepromoveer op 'n indringende studie: Die Digter Totius, Sy Betekenis vir die Afrikaanse Letterkunde (1932). Totius word hierin veral gesien as ‘draer en openbaarder.... van die Calvinistiese lewensgedagte’, en sy werk word beskou ‘teen die agtergrond van ons volksontwikkeling’, ofskoon daar ook 'n helder lig val op die algemeen-menslike betekenis daarvan. In sy ontleding van die vernaamste digbundels openbaar Van den Heever 'n fyn-ontwikkelde kritiese vermoë. In 1936 het verskyn D'Arbez as Skrywer deur P.J. Nienaber. Hy het ‘'n daad van eenvoudige rechtvaardigheid’ verrig deur ons volk te herinner aan sy verpligtings teenoor hierdie voortrekker-skrywer wat so 'n belangrike plek ingeneem het in die periode tussen die Eerste en Tweede Bewegings. Moontlik sal hierdie studie ander ondersoekers aanspoor om ook Melt Brink se belangrike bydrae tot ons kultuurgeskiedenis te boek te stel. Nienaber se Amsterdamse dissertasie Die Afrikaanse Roman-Tematologie (1938) bly te veel aan die oppervlakte en het ons nie verryk met nuwe insigte nie. 'n Oordrewe voorliefde vir languitgerekte inhoudsopgawes is die fundamentele swakheid van hierdie werk. Nienaber se feite is dikwels onvertroubaar en sy oorsigtelike behandeling van die vernaamste romantemas werp weinig lig op die ontwikkelingsgang van ons letterkunde. Grotendeels misluk is Abel Coetzee se monografie: C.M. van den Heever, Die Wese van sy Kuns (1936). Coetzee het sy studie met groot liefde geskrywe, maar hy het hom deur vooropgestelde menings en 'n soort towerformule, wat hy die ‘grondpatroon’ van Van den Heever se kuns noem, laat verlei tot skewe en eensydige voorstellings. Ofskoon hy belangrike gegewens tot sy beskikking gehad het en deur daaglikse omgang met die bewonderde skrywer in 'n bevoorregte posisie verkeer, kon hy tog | |
[pagina 588]
| |
nie daarin slaag om Van den Heever, die kunstenaar, aan ons te openbaar nie. M.S.B. Kritzinger het op versoek van onderwysers 'n bloemlesing uit sy boekbesprekings gebundel in: Oor Skrywers en Boeke (1932), Letterkundige Kragte (1932) en Studies en Kritieke (1934). Op bevatlike wyse het hy vir 'n breë kring die werk van ons vernaamste prosaïste en digters behandel en daardeur belangstelling gewek vir ons wordende literatuur. F.E.J. Malherbe se Amsterdamse dissertasie Humor in die Algemeen en sy Uiting in die Afrikaanse Letterkunde (1924) het nie alleen veel daartoe bygedra om wanbegrippe omtrent letterkundige verskynsels op te ruim nie, maar was tewens een van die eerste voorbeelde van kunskritiek in Afrikaans. Malherbe se mooi hoofstukke oor Humor in Gemoedelikheid, in Satire en in Tragiek by 'n paar van ons vernaamste skrywers moet vir baie lesers 'n nuwe begrip gegee het van die skoonheid in die werk van ons eie kunstenaars. Hy stel hom nooit tevrede met die oppervlakkige nie, maar probeer steeds deurdring tot die wesenskern van elke skrywer. Dit het die nadeel dat hy dikwels vir die gemiddelde leser onverstaanbaar word, want hy veronderstel 'n breedte van kennis en begrip waaroor nie almal beskik nie. In 1935 het Malherbe in samewerking met Jacques Malan en Jonker 'n kwartaalblad, Ons Eie Boek, opgerig wat hoofsaaklik aan kritiek gewy is. Sedert Julie 1937 is hy hoofredakteur. Met behulp van 'n groot aantal medewerkers gee Ons Eie Boek gereeld indringende besprekings van alle uitgawes in Afrikaans, terwyl daar ook rubrieke is vir Nederlands, Engels, Duits en Frans. Van besondere belang is die afdeling: Kort Studies in Letterkunde, waarin die voorgeskrewe boeke van al die openbare eksamens op eenvoudige wyse behandel word. Op ons huidige trap van ontwikkeling is hierdie afdeling van onskatbare waarde, omdat daardeur langsamerhand 'n talryke leserskring gevorm word, wat nie slegs oppervlakkig meepraat oor boeke nie, maar deur diepgaande studie 'n begrip kry van letterkundige kernprobleme. Dat 'n hoogstaande kunstydskrif soos Die Nuwe Brandwag in 1933 gestaak moes word weens gebrek aan ondersteuning is 'n bewys dat daar by ons nog baie opvoedingswerk gedoen moet word. Ons Eie Boek het die regte rigting ingeslaan deur die jeug te bearbei, en wel op so 'n wyse, dat die nadele van die ‘voorgeskrewe boek’ omgesit word in wins. 'n Kriticus wat ook opvoedende werk van hoë gehalte gelewer het, is G. Dekker. Deur die klare eenvoud van sy styl, deur 'n fyn pedagogiese insig wat hom steeds in voeling laat bly met sy lesers het Dekker se beskouings in breë kringe waardering gewek vir ons letterkunde. Hy het ook telkens die aandag gevestig op vooraanstaande Nederlandse en Vlaamse skrywers. 'n Gedeelte van sy kritiese arbeid het verskyn in Causerie en Kritiek (1934). | |
[pagina 589]
| |
C.M. van den Heever het in Die Afrikaanse Gedagte (1935) protes aangeteken teen al die salwende predikasies wat deur 'n selfgenoegsame publiek so uitbundig toegejuig word op ons nasionale feesdae. Hy lê veral nadruk op hierdie feit: Waaragtige kultuur is 'n vyand van alle luidrugtigheid, van alle uiterlikheid; dit wortel in die innerlikheid; dis 'n geestelike besitting waarmee 'n mens nie te koop loop op die woelige mark van die lewe nie. Voordat daar sprake kan wees van 'n lewenskragtige Afrikaanse kultuur, moet daar by elke bewuslewende Afrikaner gevind word: self-kultuur. Van den Heever bespreek op openhartige wyse ons volksgebreke, en toon ook die weg aan waarlangs die volk moet opklim tot die hoëre kultuuruitings. Hy is optimisties oor die toekoms, omdat hy glo in die besielende krag van die Afrikaanse Gedagte, wat uiteindelik alle belemmeringe sal oorwin, en deur ons denkers en kunstenaars ‘in die hart van die massa ingedra (sal) word.’ Van den Heever se insiggewende studies oor Vlaamse skrywers en sy helder opmerkings oor Afrikaanse letterkunde in die afdeling Kwasstrepe gee ons 'n aanduiding van die ideale wat hy in sy eie werk probeer verwesenlik, en bevat daarom belangrike gegewens vir die studie van sy eie kuns. Ook S.P.E. Boshoff beklemtoon die feit dat ons kultuurgoedere nie sommer so maklik van die voorgeslag kan erf nie, maar dat elkeen dit deur persoonlike geestesarbeid moet verwerf. (Beskouinge en Feite, 1936). Na 'n oorsig van wat op kultuurgebied reeds bereik is, kom hy tot die gevolgtrekking dat die volk se ewewig verstoor is deur 'n te snelle ontwikkeling, en dat die afgelope kwarteeu in hoofsaak 'n tydperk van voorbereiding was. Eers later kan ons die rustige besonkenheid verwag wat tot selfstandige kultuuropenbaring sal lei. In haas elke artikel toon Boshoff aan ‘watter onontgonne terrein van kulturele diamantgrond nog oop lê, waar die Afrikaanse kultuurwetenskap nog nouliks die eerste penne van ondersoek ingeslaan het.’ Kleingoed (1929) deur P.C. Schoonees bevat o.a. opstelle oor kultuursake en algemene onderwerpe, asook kritiese beskouings oor Martjie, Reg bo Reg, 'n Esau en Die Heks. Dis miskien hier die beste plek om ook melding te maak van 'n paar werke oor ons beeldende kunste. Met die waardering van ons Afrikaanse skilders is dit nog maar treurig gesteld, en dr. A.C. Bouman het 'n kultuurdaad van groot betekenis verrig deur die samestelling van 'n reeks karakteristieke van ons vernaamste skilders. (Kuns in Suid-Afrika 1935). ‘Dit wil die algemene leser in staat stel om vir hom 'n beeld te vorm van die vernaamste kunswaardes wat daar reeds in Suid-Afrika geskep is.’ (Voorwoord.) Op die gebied van die skilderkuns heers daar, selfs by die boonste lae van ons samelewing, nog 'n volslae onkunde. Daar is baie Afrikaners wat 'n skildery belangstellend bekyk, maar heel weinig wat dit geestelik | |
[pagina 590]
| |
sien. Dr. Bouman se kostelike baanbrekerswerk, wat met soveel pedagogiese insig geskrywe is, stel ons nou in staat om in geestelike aanraking te kom met ons eie skilders en beeldhouers. Brander het in Van Eyck tot Van Gogh (1936) 'n aantal lewensketse van grootmeesters van die beeldende kuns gegee. Hierdie mooi werkie sal veel doen om die waardering vir die beeldende kuns by ons jeug op te wek. Verder kan vermeld word: G. Moerdyk: Die Geskiedenis van Boukuns, W. Gerke: Toonkuns en M.L. du Toit: Anton van Wouw. |
|