§ 30. Dr. Carel Potgieter en N.H. Theunissen.
Hendrik Potgieter (1938).
Die skrywers van hierdie biografie het gebruik gemaak van oorleweringe in die Potgieter-familie en 'n manuskrip en verklarings van A.J. van der Walt. (vgl. Vastrappers.) Hul ondersoek laat 'n helder lig val op die doel en strewe van 'n Voortrekkerleier, wie se bedrywighede tot hiertoe nog nie alte bekend was nie. Deur raadpleging van argiefstukke en ander bronne doen hul 'n poging om Potgieter in sy eer te herstel. Die werk het egter nie ontaard in 'n onoordeelkundige lofrede nie, want ofskoon die skrywers dit nodig vind om sekere opvattings van ander historici, en veral dr. Preller, te bestry, probeer hul steeds om objektief te staan teenoor hul gegewens. Ons kan die twispunte oorlaat aan die vakmense, en aanvaar die werk as 'n welkome aanvulling van die geskrifte oor die Voortrekkertydperk.
In hul poging om Potgieter te rehabiliteer vind die skrywers dit nodig om ons 'n nuwe perspektief te gee op party van die vernaamste gebeurtenisse. ‘In die Trekkersgeskiedenis was die Natalse avontuur wel 'n romantiese episode, maar op die ou end moes die Emigrante vandaar almal, op Potgieter se spoor, agterna trek na Winburg en Potchefstroom en 'n tuiste soek in die land wat hy skoongevee het. Hierdie skoonveeproses het nooit voldoende erkenning ontvang nie. So het die negedaagse slag nie eens 'n naam nie. Ons kan dit die Kapainslag, die Marikwaslag of die Negedaagse slag noem, maar onder watter naam ook, was dit seker een van die roemrykste episodes in die geskiedenis van Suid-Afrika. Daar is die vyand aangeval en in 'n oop geveg op sy eie terrein oorwin.... Die verhaal klink soos 'n outydse heldesaga.’ Daar is seker weinig kenners van ons geskiedenis wat sal toestem dat Retief se bedrywighede in Natal slegs ‘'n romantiese episode’ was. Tog is dit goed dat die skrywers soveel aandag wy aan die groot veldslae waardeur Transvaal vir goed bevry is van die Matabeli-oorheersing. Hierdie veldtog teen Silkaats is glad nie so goed bekend as die stryd teen Dingaan nie. Die lewendige beskrywing