sy geveg en gevlug, honger gely en swaar gekry totdat sy uiteindelik tog gevang is. Sonder enige selfverheffing teken sy die byna ongelooflike ontberinge van die burgers op en 'n mens moet eintlik tussen die reëls lees om 'n goeie begrip te kry van die epiese worsteling wat hier so eenvoudig as 'n reeks nugtere feite meegedeel word.
Die skryfster laat 'n helder lig val op die behandeling en die toestande in die konsentrasiekampe. Treffend is veral geteken die verskrikkinge van die gevreesde ‘Birdcage’ waarin sy tot eensame opsluiting veroordeel was. ‘As die Engelse gemeen het om my deur die hel te laat gaan, dan het hulle dit seker goed reggekry.’
Ook hierdie verhaal is 'n belangrike historiese dokument.