§ 28. Dr. C.J. Scheepers Strydom.
Kaapland en die Tweede Vryheidsoorlog (1937).
Hierdie vlotgeskrewe boek is 'n welkome aanvulling van ons oorlogsliteratuur, wat totnogtoe te veel beperk was tot gebeurtenisse in die twee republieke. Die skrywer laat 'n helder lig val op die belangrike rol wat die Kaapse rebellie en die Kaapse politici in die groot stryd gespeel het. Veel wat tot hiertoe duister was, of alleen verstaanbaar vir die vakgeleerde, sal nou deur hierdie uiteensetting algemene eiendom van die volk word. En dis so nodig dat die nageslag moet weet hoe in die donkere ure van beproewing alle provinsiale skeidslyne tussen Afrikaners weggevaag is en 'n herbore volk bewus geword het van sy nasionale roeping en bestemming.
‘Oor elke hoofstuk wat hier behandel is, kan 'n afsonderlike boekdeel geskrywe word,’ verklaar die skrywer in sy voorwoord. Dis te hope dat die tyd spoedig sal aanbreek wanneer dit moontlik sal word, want ons het hier te doen met so 'n belangrike periode van ons volkswording dat niks verlore mag gaan nie.
Die skrywer behandel die gebeurtenisse wat aanleiding gegee het tot die krisis, die twee invalle in die Kaapkolonie, die verliese en ergernisse veroorsaak deur toepassing van die krygswet en die gebeurtenisse na die vrede van Vereniging. Hy streef daarna om ‘populêre leesstof aan te bied’, maar bly tog ‘streng wetenskaplik in sy metode. Dis 'n waardevolle werk wat onmisbaar is vir almal wat die wordingsgeskiedenis van ons volk wil verstaan.