§ 26. L.A. Visagie en J.L. de Villiers.
Van hierdie twee skrywers het spannende oorlogsverhale verskyn waarin vertel word van die ontsnapping van krygsgevangenes. L.A. Visagie deel in Terug op Kommando (1936) mee die avonture van Willie Steyn en vier ander krygsgevangenes, wat na verskeie mislukte pogings om uit die kamp op Groenpunt te ontsnap, eindelik daarin slaag om in die hawe van Colombo na 'n Russiese skip te swem. Besonder interessant is die onderhoudende vertelling van hul omswerwings in Europa en Suid-Wes vanwaar hul dit regkry om weer aan te sluit by die kommando's.
J.L. de Villiers gee ons in Hoe ek ontsnap het (1934) die onopgesmukte verhaal van hoe hy, deur homself as 'n koelie te vermom, uit die kamp op Trichinopoly ontsnap het.
Hierdie verhale is twee historiese dokumente van groot betekenis. Dit bevat waardevolle besonderhede omtrent die behandeling van krygsgevangenes en die geesdriftige belangstelling wat verskeie Europese nasies aan die dag gelê het vir die twee republieke in hul hopelose stryd.