Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekend
[pagina 572]
| |
en veg ook teen Mapog. Met sy jong vroutjie trek hy orals rond om 'n bestaan te maak, grawe na goud, delf diamante en ry transport. Eindelik egter word hy moeg van die swerflewe en besluit om te gaan boer op Witstinkhoutboom. Hierdie inleidende hoofstukke gee ons 'n beeld van die rustelose lewe van die Transvaalse pioniers. Die eintlike doel van die skryfster is om mev. van Graan se swerftogte gedurende die Tweede Vryheidsoorlog te beskrywe. Sy was een van die weinige vroue wat, ten spyte van noue ontkomings, steeds daarin geslaag het om die vyand te ontwyk en dus nooit na 'n konsentrasiekamp gestuur is nie. Al die feite berus op mev. van Graan se herinneringe, maar die skryfster het die losstaande insidente behoorlik georden en saamgevoeg tot 'n deurlopende verhaal. Hierdie tweejarige vlug, soms met die kommando's, maar dikwels ook alleen, gee ons 'n helder beeld van die byna ongeloofbare ontberings wat die Afrikaanse vrou en haar kinders moes ly. Dit is 'n waardevolle aanvulling van Bittereinders en 'n Merk vir die Eeue, omdat ons daardeur kennis maak met 'n taamlik onbekende kant van die oorlogslyding. Mev. van Graan het 'n dapper eggenoot gehad en het onder verdenking gestaan dat sy die bewegings van die vyand aan hom bekend gemaak het. Die gevolg was dat die Engelse steeds op haar spoor was. Soos 'n gejaagde dier is sy agterna gesit; van die een skuilplek na die ander moes sy vlug met haar kinders. Haar oorlogskindjie het byna in haar arms gesterf van honger en kou. Maar met 'n byna bo-menslike uithouvermoë het sy haar uitgeputte liggaam voortgesleep en al vlugtende vry gebly totdat die vrede verklaar is. |
|